loading
avatar
Artikels
8 uur gelede
juffrou-madelene-sachse-en-die-diep-spore-wat-net-n-onderwyser-kan-trap

Foto Krediet: Verskaf

Juffrou Madeléne Sachse en die diep spore wat net ʼn onderwyser kan trap

Deur René van der Vyver

ʼn Juffrou wat vir 40 jaar lank ʼn verskil in honderde kinders se lewens gemaak het, het met haar onlangse aftrede veroorsaak dat oudleerders spontaan op sosiale media haar lof besing. Hierdie juffrou is Madeléne Sachse van die Voorbereidingskool Despatch. Sy sê: “As ek weer kon kies, sou ek dít weer kies,” en ons het bietjie met haar gesels om meer uit te vind.

Met verwysing na hoe sy voel ná die oorweldigende reaksie op die plasing oor haar aftrede, beklemtoon sy dat die herinneringe wat oudleerders koester meer werd is as enige salarisstrokie. “Ek was verras! Daar was boodskappe van baie oudleerders – wat soveel jare gelede in my klas was – ek het nie eens geweet hulle is op sosiale media nie.”

Van die boodskappe het gelui:

  • • “Jy het diep spore getrap en ons kinders was so gelukkig om by jou hul skoolloopbaan te begin.”
  • • “Sy het die mooiste sagste manier gehad om met jou te praat. Dit sal ek altyd onthou.”
  • • “Diep spore gestap, op jou manier, met waardigheid en nederigheid.”
  • • “Jou loopbaan was eerlik en onbaatsugtig.”
  • • “Jy is ʼn ikoon hier in Despatch.”
  • • “Drie kinders deur u besonderse hande, en hart van goud.”

Juffrou Sachse is inderdaad ʼn ikoon in die Despatch-gemeenskap waar sy dikwels graad een-leerders wat deur haar hande is, se kinders ook jare later in haar graad een-klas verwelkom het. Behalwe vir die oudleerders, ouers en skoolgemeenskap wat haar bewonder, is sy ook getroud en het sy twee seuns wat haar ondersteuningstelsel vorm.

“Ons is ʼn baie hegte gesin en ek is dankbaar dat my man en twee seuns my altyd ondersteun het.” Sy vertel ook hoe haar ouers destyds gehelp het op tye wanneer sy gesukkel het om by al die aktiwiteite van haar eie kinders uit te kom. Haar twee seuns was boonop ook in haar graad een-klas en gelukkig was die skool nog altyd vir hulle ook spesiaal.

As ʼn mens na die getuienisse van oudleerders kyk, word een ding duidelik: Madeléne was vir baie kinders veel meer as net ʼn onderwyseres. In die vroeë jare van ʼn kind se skoolloopbaan is die klaskamer dikwels ʼn plek van onsekerheid, maar sy het dit reggekry om ʼn veilige hawe te skep. Die verwysings na haar as ʼn “moederfiguur” is volop. Sy het die kuns verstaan om na ʼn kind se hart te luister voordat sy vir hulle geleer lees het. “Om ʼn verhouding te bou en ʼn kind se vertroue te wen was altyd eerste prioriteit, sodat skoolwerk effektief daarna kan volg.” Dít is seker waarom sy jare later na talle van haar oudleerders se troues uitgenooi is!

Dit laat ʼn mens egter wonder of juffrou Sachse ook ʼn spesiale juffrou in haar lewe gehad het. Sy vertel van E.H.E Steyn wat haar eerste skoolhoof was, maar ook ʼn rolmodel was omdat sy so dinamies was en ook die dryfveer agter die opening van die Voorbereidingskool was. “Dit het vir my só baie beteken toe my foto as skoolhoof in die voorportaal saam met haar foto in een groot raam kon verskyn – haar foto van 1972 en my foto van 2017.”

Juffrou Sachse se wortels is diep in Despatch geanker. Sy was een van die eerste kinders in die Voorbereidingskool, toe in Laerskool Susannah Fourie waar sy in 1976 hoofdogter was en ook in 1981 hoofdogter van Hoërskool Despatch. Daarna het sy onderwys aan die Universiteit van Port Elizabeth studeer en altyd gehoop om ʼn onderwyseres by die Voorbereidingskool te kan wees.

In 1986 – net-mooi veertig jaar gelede – is sy as graad een-onderwyseres by hierdie skool aangestel. Dit is nie al nie; in 2017 word sy ook skoolhoof van die Voorbereidingskool.

ʼn Mens wonder, hoekom was dit haar droompos? “Dit was vir my ʼn groot aantrekkingskrag dat daar net klein kindertjies was en ʼn mens al jou aandag aan die graad een- tot drie-leerders kon gee.” Volgende jaar gaan die Voorbereidingskool graad sewes verwelkom nadat die skool stelselmatig vanaf 2004 deur die departement aangemaan is om ʼn laerskool met ʼn volledige aanbod te word. Juffrou Sachse se positiewe gesindheid verander egter nie: “Ons skool is ʼn voorbeeld vir ander skole van hoe ons verandering omarm en beste praktyke toepas.”

Daar is so baie stories wat oudleerders en ouers van juffrou Sachse kan ophaal, maar dit is ook interessant om te hoor wat vir haar uitgestaan het. “In veertig jaar kan ʼn mens ʼn boek vol stories skryf, maar dit bly vir my spesiaal dat wanneer ek jare later oudleerders raakloop, ek steeds die graad een-gesiggie kan sien, al staan ʼn  volwassene voor my.”

Graad een-onderwysers speel ʼn belangrike rol om ʼn stewige fondament vir ʼn kind se lewe te lê. Behalwe vir juffrou Sachse se begrip van die belangrikheid van ʼn verhouding en vertroue, was respek ook ononderhandelbaar. “Ek het altyd vir die kinders gesê dat ek hulle met respek hanteer, want as ek eendag oud is en byvoorbeeld met ʼn kierie by die bank inloop en ʼn guns nodig het, dan wil ek ook graag met respek behandel word.”

Die nuwe hoofstuk as afgetredene – na veertig jaar se diens – gaan vir juffrou Sachse rondom familietyd draai. “Ek is ʼn besige bytjie, so ons het reeds planne om by die kinders te kuier, ʼn toer deur die Wildtuin te doen, tuin te maak, en by inisiatiewe betrokke te raak, maar ek gaan op my hoede wees om nie nou besiger as ooit te raak nie.” Sy beklemtoon dat die aktiwiteite nie moet voel na werk nie, maar dat sy altyd mense sal wil help en verryk, want dit laat haar skatryk voel.

ʼn Mens kan beslis raad aanvaar van so ʼn geliefde en gerespekteerde juffrou. Sy begin deur te sê: “As onderwys vir jou net ʼn beroep is om ʼn salaris te verdien, dan moet jy nie jou tyd en energie mors nie. As dit egter ʼn hartsaak is, dan moet jy vasbyt en weet dat jy deur die swaar tye sal kom, want die lekker dae – of selfs die een dag waar ʼn kind ʼn deurbraak maak – maak ʼn lang tyd se gesukkel die moeite werd.” Sy sluit af deur te sê dat jy uit die onderwys sal kry wat jy insit, want jy kry elke dag die geleentheid om ʼn verskil in ʼn klomp kinders se lewens te maak.


Solidariteit se Onderwysernetwerk is daartoe verbind om onderwys as beroep uit te bou en onderwysers daarin te bemagtig om soos juffrou Sachse ʼn blywende impak in kinders se lewens te maak. Bly ingeskakel by die Onderwysernetwerkgroep op Solidariteit-aanlyn. Deel ook graag jóú storie, hoe onderwysers jou gevorm en inspireer het tot die onderwyser wat jy vandag is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel