loading
Artikels
2 weke gelede
basta-met-die-raskaart-hoor-sapd-weer-in-kvba-uitspraak

Foto Krediet: Okay Deer

Basta met die raskaart hoor SAPD wéér in KVBA-uitspraak

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is weereens geroskam oor die onregmatige gebruik van rasreëls tydens die aansoekproses vir bevordering in die Noord-Kaap.

In ʼn saak teen die SAPD het Solidariteit daarin geslaag om die onregverdige behandeling van twee kapteine, Johan van den Berg en Judy Friedberg, in November vanjaar aan die lig te bring.

Volgens die uitspraak moet die hele bevorderingsproses oorgedoen word, aangesien die huidige aanstelling as onregmatig beskou word vanweë die gebreke met die aansoekproses.

Die SAPD se getuies het tydens die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se verrigtinge probeer aanvoer dat die twee kandidate – ʼn wit man en ʼn bruin vrou – nie oorweeg is nie omdat hulle nie aan die “aangewese rassegroep” behoort nie.

Hierdie argument is egter deur die kommissaris afgewys as ontoereikend en ontoepaslik. Hy het die SAPD oor sy onvoldoende redes en sy swak hantering van die kortlysproses gekritiseer.

“Werkgewers, veral in die SAPD, moet begin besef dat die raskaart en roekelose gebruik van nie-bestaande rasreëls in die werkplek nie meer ʼn verweer is wat gebruik kan word om bevoegde kandidate uit te sluit vir die kans tot bevordering nie.

“Hierdie is die soveelste soortgelyke geval vanjaar waarby net die SAPD betrek word en dit is goed dat dit uitgewys word,” sê Andries Herbst, organiseerder van die openbare sektor by Solidariteit.

Beide kandidate, kaptein Van den Berg en Friedberg, is geskikte kandidate vir die pos. Albei het die vereiste kursusse voltooi en beskik oor die nodige ervaring vir die bevorderingspos. Die enigste rede waarom hulle weggewys is, het met hulle velkleur te make. Die KVBA het gevolglik bevind die SAPD kon geen geldige rede verskaf waarom die kandidate nie die kortlys gehaal het nie.

Die saak is nog ʼn bewys van Solidariteit se verbintenis om hul lede in die werkplek te beskerm en regverdigheid te verseker.

“Dit is ons verantwoordelikheid en ons sal aanhou veg teen enige vorm van diskriminasie of onbillikheid in die werkplek. Hierdie uitspraak is ’n oorwinning op baie maniere, maar veral vir meriete en billikheid,” sê Herbst.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel