Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
bela-hersiening-van-taalbeleid-beteken-nie-skole-verander-hul-onderrigtaal

Fotokrediet: OkayDeer

Bela: Hersiening van taalbeleid beteken nie skole verander hul onderrigtaal

Afrikaanse enkelmediumskole bly Afrikaans enkelmedium wanneer hulle hul taalbeleid hersien en Afrikaans as enigste onderrigtaal behou. Die hersiening van ʼn taalbeleid verander op sigself niks aan die taal waarin leerders onderrig ontvang nie, sê Solidariteit.

Solidariteit reageer op mediaberigte oor die terugvoering wat die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, Dinsdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys gegee het. Tydens die voorlegging oor die toepassing van die Bela-wet het die departement berig dat duisende skole reeds hul taalbeleid hersien het.

Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), skep so ʼn hersiening op sigself geen verpligting om dubbelmediumonderrig in te stel nie.

Sy beklemtoon dat skole gereeld hul beleide hersien en dat dit in die meeste gevalle slegs geringe aanpassings behels, soos om definisies by te werk of bestaande bepalings duideliker te formuleer.

Die nuwe norme en standaarde vir taalbeleid is intussen nog nie gepubliseer nie. Tot dan bly die bestaande norme en standaarde vir taalbeleid die verwysingsraamwerk vir skole, saam met die bepalings van die gewysigde Skolewet.

Die bevoegdheid om ʼn openbare skool se taalbeleid te bepaal, berus ingevolge die Wet steeds by die skool se beheerliggaam, onderhewig aan die bevoegdhede wat die Wet aan die provinsiale departementshoof verleen.

Volgens die departement het 11 794 openbare skole reeds hul taalbeleid hersien en 11 860 hul toelatingsbeleid.

“Dit lyk na groot syfers. Ons moet egter in gedagte hou dat baie skole verplig was om hul beleide gelyktydig te hersien. In provinsies soos Gauteng en die Vrystaat is skole opdrag gegee om hierdie proses teen ʼn bepaalde sperdatum af te handel.

“Die departement se syfers wys dus hoeveel skole hul beleid hersien het, maar ʼn mens kan hoegenaamd nie daaruit aflei dat soveel skole hul onderrigtaal verander het nie.

“Die meeste aanpassings was klein, roetine-aanpassings gewees,” sê Prinsloo.

Solidariteit en ander instellings het talle skole deurgaans met hierdie hersieningsproses bygestaan en ken die praktiese verloop daarvan uit eerstehandse ervaring.

Solidariteit verwag intussen ook van die departement van basiese onderwys om die uitstaande Bela-regulasies en die norme en standaarde vir skooltaalbeleid so gou as moontlik te finaliseer, maar wil eerstens sien dat dit oordeelkundig gebeur.

Skole, beheerliggame en ouers het volgens Prinsloo duidelike, billike en uitvoerbare reëls nodig om vir die komende skooljaar te beplan.

“Druk vanuit ANC-geledere in die portefeuljekomitee om die minister tot ʼn oorhaastige uitkoms te dwing, mag nie toegelaat word om hierdie proses te ontwrig of tot swak, vae regulasies te lei nie.

“Die komitee moet hom nie met ideologiese kwessies besig hou nie. Dit is nie taalbeleide wat kinders van gehalte-onderrig ontneem nie, maar wel ʼn tekort aan skole en onderwysers. Totdat die nuwe norme en standaarde vir taalbeleid gefinaliseer is, behoort die portefeuljekomitee sy aandag eerder te vestig op dringende sake wat werklik ʼn impak op onderwys het, soos die bou van genoeg skole en die tydige betaling van subsidies en toelaes aan skole,” sê Prinsloo.

Prinsloo voer verder aan dat die departement die proses met die nodige dringendheid moet afhandel, maar veral moet seker maak dat skole en provinsiale departemente die reëls konsekwent kan toepas.

“Die maatstaf is uiteindelik om te kan vasstel wat hierdie regulasies in praktyk in die klaskamer beteken. Dit moet billik wees en skole moet weet hoe om dit toe te pas. So moet ouers ook duidelik weet wat dit vir hul kinders se onderrig beteken,” sê Prinsloo.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel