loading
Mediaverklarings
2 weke gelede
bela-n-finale-breuk-tussen-regering-en-afrikaanse-gemeenskap

Foto Krediet: Okay Deer

Bela ʼn finale breuk tussen regering en Afrikaanse gemeenskap

Solidariteit verwerp die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) en bestempel dit as die laaste breuk in enige vertrouensverhouding wat nog tussen die regering en die Afrikaanse gemeenskap kon bestaan.


Dié wetsontwerp is danksy die oorweldigende ANC-meerderheid in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar en is ook in die Nasionale Vergadering (NV) goedgekeur, selfs al beskou verskeie groepe, waaronder Solidariteit, dit as ʼn blatante verbreking van die 1994-ooreenkoms waarvolgens beskerming van minderhede se taal- en kultuurregte gewaarborg moes wees.


Die Bela-wetswysiging sentraliseer besluite rondom skole se taal- en toelatingsbeleid in die hande van die staat selfs ná onlangse aanpassings aan klousules waarmee skoolbeheerliggame tóg toegelaat word om sélf daardie beleide op te stel. Die laaste sê daaroor berus egter steeds by ʼn regeringsamptenaar, wat die mag het om daardie beleid af te keur en te verander.


Johnell Prinsloo, onderwysnavorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê alhoewel daardie aanpassings sommige groepe gefnuik het, beskou Solidariteit dit as ʼn rookskerm om antagonistiese wetgewing wat Afrikaanse onderwys met aggressie aanval, deur te druk.


“Bela is niks anders as ʼn wapen waarmee Afrikaans as onderrigtaal uitgedryf kan word en waarmee rassekwotas op skole afgedwing word nie. Terwyl die regering aanvoer dat beheerliggame sekere magte gaan behou, bevat dieselfde voorgestelde wetgewing bepalings wat direk na artikel 9(2) van die Grondwet verwys wat met gelykheid en ras in Suid-Afrika te make het. 


“In hierdie geval is dit ons kinders se toekoms wat onder beleg van die ANC en sy trawante is. In wese is hierdie ook ʼn aanval op die regte van ʼn minderheid en ʼn totale verbreking van vertroue tussen groepe – oftewel tussen ʼn meerderheid en ʼn minderheid,” sê Prinsloo.

Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het by ʼn gesamentlike mediakonferensie hul voorneme bekendgemaak om hande te vat in ʼn reuse-regstryd teen die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). Dié wetsontwerp is tans op die president se tafel vir goedkeuring en sal met alle mag en mening beveg word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel