loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
solidariteit-begin-met-regstappe-teen-ngv

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit begin met regstappe teen NGV

Solidariteit het vandag met regstappe teen die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) begin. Die regsproses het vandag binne die eerste uur nadat pres. Cyril Ramaphosa die wet onderteken het, afgeskop. As eerste stap is die regering formeel aangemaan om nie die Wet te implementeer nie.

Die waarskynlikheid is groot dat die regering die aanmaning gaan ignoreer wat outomaties daartoe sal lei dat Solidariteit hofstukke binne tien dae sal beteken. Volgens Solidariteit is die NGV irrasioneel en onbekostigbaar.

Solidariteit se adjunkbestuurshoof van regsake, Anton van der Bijl, sê die regering is nie in staat om die NGV te befonds nie en die gevolge daarvan is eenvoudig dat gewone Suid-Afrikaanse belastingbetalers daarvoor gaan moet boet. “Die NGV gaan belastingbetalers ongekende skade berokken, om nie eers van die Suid-Afrikaanse ekonomie te praat nie.

Daarom móét die NGV ongrondwetlik verklaar word en dit is wat ons deur die howe gaan probeer vermag,” sê Van der Bijl. Volgens hom het Solidariteit se regspan die nodige hofstukke gereed en die regsveldslag teen die NGV het amptelik begin. Solidariteit sal die inhoud van die hofstukke op ʼn latere tydstip bekend maak. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beskryf die NGV-wet as roekeloos en bestempel dié bekragtiging daarvan as populisties en onverantwoordelik. Daar word verwagtinge geskep waaraan daar nie voldoen kan word nie.

“Met hierdie wet wil die regering alle gesondheidsorg in Suid-Afrika sentraliseer. Die NGV is nie bloot ʼn befondsingsmodel nie, maar ʼn omvattende staatsbeheerde plunderpot wat sál misluk. “Die regering wil hiermee ook voorskryf wáár dokters praktiseer, na watter dokter ʼn pasiënt mag gaan én watter medisyne vir jou voorgeskryf mag word,” sê Hermann. Solidariteit pak hierdie stryd voluit aan en beskou dit as ʼn geval van lewe en dood vir beide openbare as privaat gesondheidsorg.

“Suid-Afrika het reeds ʼn stelsel wat toegang tot gesondheidsorg verseker, maar ongelukkig het dié stelsel kritiek siek geword weens die septiese regering se onbevoegdheid. En tog het hierdie einste regering se dodelike greep nou net verder versterk deur die NGV ʼn wet te maak ondanks waarskuwings en teenkanting van oraloor,” sê Hermann. Klik hier vir die aanmaning aan die president na die ondertekening.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel