loading
Mediaverklarings
21 uur gelede
opebrief-flysafair-vlieeniers-publiek

Foto Krediet: Okay Deer

ʼn Ope brief van die FlySafair-vlieëniers wat deur Solidariteit verteenwoordig word

Aan ons mede-Suid-Afrikaners

Die staking was nooit ons bestemming nie

Vandag skryf ons nie aan julle vanaf die vlugdek nie, maar vanaf ʼn plek van diepe frustrasie, teleurstelling en ʼn opregte besorgdheid – vir ons passasiers, ons professie en die toekoms van lugvaart in Suid-Afrika. Ná jare van stilswye en beloftes van stabiliteit, billikheid en erkenning, bevind ons onsself midde-in die langste staking deur vlieëniers in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dít is nie ʼn “prestasie” wat ons wou bereik nie – dit is bloot ʼn aanduiding van hoe erg dinge agteruitgegaan het. Die betrokke redery se vlieëniers het elke moontlike weg van onderhandeling uitgeput. Nou staan vlieëniers saam want ons kan nie langer toelaat dat stilte op aanvaarding dui nie.

Die redery se vlieëniers was aanvanklik van plan om ʼn dag lank te staak om hul ontevredenheid te toon, uitdrukking te gee aan hul teleurstelling en om die erns van ons kommer aan te toon. Maar in plaas daarvan dat dit begroet is met ʼn bereidwilligheid om met ons in gesprek te tree, is ons met uitsluiting begroet. Nie net is ons letterlik uitgedwing nie, maar ook simbolies – in ʼn hoek gedruk met geen ander keuse nie as om standpunt in te neem. Wat bedoel was om ʼn getemperde daad van protes te wees, het in ʼn lang en pynlike konfrontasie ontaard, wat nie uit hul keuse was nie, maar weens die maatskappy se besluit is om dit te laat eskaleer.

Waaroor dit werklik gaan

Laat ons dit duidelik stel: Hierdie staking gaan nie oor gierigheid nie. Dit gaan oor waardigheid. Dit gaan oor veiligheid. Dit gaan oor billikheid. Dit gaan daaroor om gehoor te word. ʼn Totaal van 37 hoogs opgeleide en ervare vlieëniers het vanjaar alleen bedank – nie op soek na luukses nie, maar op soek na stabiliteit en respek. Dié mense is professionele mense wat jare van hul lewens en ʼn klein fortuin aan opleiding opgeoffer het, net om hulself in omstandighede te bevind wat hul welstand geringskat.

In wese spruit hul hoofkommer uit die gedwonge instelling van ʼn nuwe, algoritmies-gedrewe roosterstelsel.

Hoewel tegnologie doeltreffendheid beloof het, was die werklikheid brutaal: Die minimum rus, wisselvallige skedules en geen respek vir die basiese menslike behoeftes nie. Die vlieëniers het vir een naweek af per maand gevra. En die antwoord? “Die algoritme hou nie van reëls nie.”

Dit is die soort koue logika waarteen ons te staan gekom het. Maar lugvaart is nie ʼn fabriek nie. Vlieëniers is nie die produkte van ʼn skofstelsel nie. Ons is ménse wat telkens verantwoordelik is vir honderde lewens. Voorspelbaarheid, rus en geesteswelstand is nie luukses nie – dit is noodsaaklik. En hulle word daarvan gestroop.

Die groter prentjie: ʼn kultuur van stilte en minagting

Hierdie staking werp ook lig op ʼn dieperliggende probleem – ʼn toenemende kultuur van stilte en vrees.

Kommer oor uitputting, veiligheid en uitmergeling word gereeld van die tafel gevee of word met intimidasie begroet. Dit lyk of ons aangespreek word, maar nie mee gepraat word nie. Ons word soos laste behandel in plaas van as professionele persone wat hulle aan die meesterskap van lugvaart wy. So kan dit nie aangaan nie.

Die waarheid agter die nuusopskrifte

Onlangse openbare verklarings skets ʼn onakkurate prentjie. In sommige word beweer dat vlieëniers R1,8 tot R2,4 miljoen per jaar verdien. Die waarheid is: Daardie syfers is slegs van toepassing op ʼn klein aantal senior kapteins. Die meeste vlieëniers verdien aansienlik minder, en by hierdie redery is salarisse nie weer aangepas by die vlakke wat dit voor Covid-19 was nie – ten spyte van beloftes wat tydens die krisis gemaak is.

Die gemiddelde vliegure word ook wanvoorgestel. Terwyl berigte na 63 uur per maand verwys, vlieg talle vlieëniers 85 tot oor die 100 uur per maand. En dit sluit nie dienstyd op die grond, bystandstydperke of opleiding in nie – wat dikwels ʼn totale dienstyd van 180 uur oorskry – terwyl 200 die absolute wettige maksimum is.

Ons is bewus van die feit dat FlySafair vrystelling volgens wet verkry het dat vlieëniers tot en met 120 uur per maand mag vlieg. Ons is van mening dat dit onaanvaarbaar is in ʼn bedryf waar veiligheid kritiek is, en ons het hierdie besorgdhede herhaaldelik geopper, net om geïgnoreer te word.

Ons weet vlieëniers se verlof word geweier want die bemanning is te mine. Ons word vir opeenvolgende skofte geskeduleer wat slaapsiklusse en gesinstyd ontwrig. En ons is besig om uit te brand.

Wat ons opoffer – en wat ons vra

Ons het teëspoed tydens Covid aanvaar. Ons het salarisbesnoeiings aanvaar. Ons het gewag in die geloof dat sodra die redery herstel het, daar erkenning verleen sou word aan ons opoffering.

Die redery het herstel. FlySafair het een van Suid-Afrika se suksesvolste rederye geword wat tot 190 vlugte per dag bedryf, met hoë ladingsfaktore en ʼn sterk markaandeel. As vlieëniers kan ons trots wees daarop dat ons ʼn rol in daardie sukses gespeel het. Ons werksomstandighede het egter nie verbeter nie. Salarisse is steeds 10% laer as voor wat dit voor Covid was. Ons vlieg steeds sonder dekking vir lisensieverlies, behoorlike ongeskiktheidsbeskerming én basiese billikheid wat vlugskedulering betref.

Daarom vra ons:

•Is dit té veel gevra om ʼn enkele naweek per maand met ons gesinne deur te bring?

•Is dit té veel gevra om ʼn sê te hê in die stelsels wat bepaal hoe ons ons lewens lei?

•Is dit onredelik om te verwag dat ons vergoeding ons werk en verantwoordelikhede weerspieël?

•Is dit nie in die publiek se belang om te verseker dat hul vlieëniers goed uitgerus en gemotiveerd is nie?

Ons verstaan die tye waarin ons leef

Vlieëniers is deeglik bewus van die breër ekonomiese stryd wat Suid-Afrika in die gesig staar. Ons weet baie families kry swaar. Ons weet werk is skaars. Dit is nie ʼn staking wat ligtelik opgeneem of sonder empatie is nie. Ons is ook Suid-Afrikaners. Ons betaal dieselfde pryse en bekommer ons oor dieselfde toekoms, en ons wil hê die land moet floreer. Maar in moeilike tye maak billike behandeling en verantwoordelike indiensnemingspraktyke selfs nog meer saak. Om toe te sien dat vlieëniers ondersteun word en uitgerus is, gaan nie net oor ons nie – dit gaan oor almal wat aan boord van ʼn vliegtuig gaan en verwag om veilig na hul bestemming gevlieg te word.

Aan die publiek: ons verskoning en ons hoop

Aan diegene wie se reisplanne ontwrig is – ons vra julle opreg om verskoning. Dit is nie iets wat ons ooit wou hê nie. Maar ons kan julle nie in die lug beskerm as ons nie op die grond beskerm word nie.

Dit gaan hier oor die volhoubaarheid van die professie, die welstand van diegene wat in beheer van julle vliegtuie is, en dit gaan oor die toekoms van lugvaart in Suid-Afrika.

Die redery se vlieëniers vra nie die son en die maan nie. Ons vra:

•ʼn voorspelbare en menslike vlugrooster wat ons toelaat om gesonde lewens te lei;

•billike en mededingende salarisse, wat herstel is na die vlakke van voor Covid

•ʼn sê in die besluite wat ʼn uitwerking op ons lewens en veiligheid het;

•en bowenal respek – vir die werk wat ons doen en vir die verantwoordelikheid wat ons dra.

Ons wil hê dat die volgende generasie Suid-Afrikaanse vlieëniers weer in hierdie loopbaan kan glo. Die vlieëniers wil aanbly. Ons wil dien. Ons wil vlieg. Maar hierdie vlieëniers kan nie onder omstandighede aangaan wat veiligheid, welstand en waardigheid kompromitteer nie.

Dankie vir die begrip. En dankie vir julle ondersteuning. Dankie dat julle ons die kans gee om gehoor te word.

Met respek en in solidariteit

Die rederyvlieëniers van Suid-Afrika, verteenwoordig deur die vakbond, Solidariteit

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel