loading
Mediaverklarings
6 maande gelede
swaargewigte-saam-in-kryt-om-bela-kaalvuis-te-pak

Foto Krediet: Solidariteit

Swaargewigte saam in kryt om Bela kaalvuis te pak

Die gesamentlike stryd om Afrikaanse skole onder beleg van die regering te beskerm, is op die punt om in alle erns te begin.
Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vandag by ʼn gesamentlike mediakonferensie hul voorneme bekendgemaak om hande te vat in ʼn reuse-regstryd teen die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela), indien dit soos verwag word deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken word.
Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het gister die Bela-wysigingswetsontwerp goedgekeur, waarna dit straks môre in die Nasionale Vergadering (NV) goedgekeur sal word voordat dit vermoedelik ook deur pres. Ramaphosa bekragtig word.
Nietemin het die bogenoemde organisasies vandag die versekering gegee dat hulle voorbereid en gereed is om hierdie stryd so ver te voer as wat nodig is.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sou hulle graag die geskil op ʼn vriendeliker wyse wou oplos, maar die regering se aandrang op beheer oor spesifiek skole se taal- en toelatingsbeleid sorg dat regsaksie die enigste uitweg is.
“Dit is jammer dat die verhouding tussen gemeenskappe en die regering in die hof gereguleer moet word. ʼn Hofstryd is nie bevorderlik vir verhoudinge nie. Solidariteit is egter hof-fiks – ons is gereed vir die hofstryd. ʼn Hof is immers die groot gelykmaker.
“Die ANC kan nie sy meerderheid gebruik om ʼn uitspraak af te dwing nie. Die ANC is angstig om wetgewing deur te druk. Hulle is onseker oor hulle mag en wil nou alles deurdruk vóór die verkiesing. Dit is totaal onvanpas,” sê Hermann.
Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, het beaam dat die organisasies met hofstukke gereed staan aangesien dié wysigingswetsontwerp Afrikaanse kinders se reg tot moedertaalonderrig ongetwyfeld sal skend, en dit die magsbalans wat tussen die skoolbeheerliggame en die staat behoort te bestaan onherroeplik sal versteur.
“Ons sal die Bela-wysigingswetsontwerp saam op elke terrein beveg, aangesien dit ons skole se beweegruimte vir groter selfstandigheid verskraal, en dus ook die opvoedkundige uitnemendheid van ons skole bedreig,” sê Fourie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die Bela-wysigingswetsontwerp beskryf as ʼn aggressiewe daad en ‘n aanval op Afrikaanse skole en kinders waarmee die regering beheer oor die skole wil kry.
“Die Bela-wysigingswetsontwerp is ʼn verbreking van die 1994-skikking en die aanvaarding daarvan sal ʼn vertrouensbreuk met die Afrikaanse gemeenskap veroorsaak.
“Die Bela-wysigingswetsontwerp is die ernstigste bedreiging wat Afrikaans en Afrikaanse skole nóg in die gesig gestaar het en daarom sal AfriForum alle moontlike nasionale en internasionale regstappe neem om dit teen te staan,” sê Kriel.
Hierdie organisasies sal nie staatsentralisering en kaping van Afrikaanse skole duld nie en sal met steun van die publiek alles in hulle vermoë doen om die Bela-wysigingswetsontwerp te stuit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel