loading
Artikels
2 dae gelede
bela-n-kwessie-van-meertaligheid-nie-ras-nie

Bela ʼn kwessie van meertaligheid, nie ras nie

“Solidariteit se opposisie teen sekere artikels wat in die Bela-wet vervat is, het hoofsaaklik met moedertaalonderrig te make – en is nie ʼn rassegeveg nie.”

Dit is hoe Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kwetsende opmerkings van veral die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, beantwoord het tydens ʼn onderhoud op die nuuskanaal NewzRoom Afrika.

Tydens die onderhoud het Mulder beklemtoon hoe Solidariteit daarop gefokus is om ʼn onderrigstelsel te steun wat meertaligheid bevorder.

“As die regering nie gehoor gee aan die Afrikaanse gemeenskap se behoeftes wat artikels 4 en 5 van die Bela-wet betref nie, sal die organisasie stappe doen om verdere magsvergrype te verhoed.

”Hierdie klousules gee ook té veel mag aan provinsiale onderwysdepartemente – magte wat in werklikheid aan die skole moet behoort,” sê Mulder

Op sy beurt hou Lesufi die Bela-wet voor as ʼn oplossing vir rasseverskille.

Mulder waarsku die wet hou gevaar in vir skole se vermoë om hul eie taalbeleid te bepaal en beskou dit as ʼn stap nader aan ʼn magsoorname van skole deur die regering.

Hy beklemtoon hoe Solidariteit nooit ʼn beleid van rasse-onderskeid aangevoer het tydens die proses van raadpleging nie, maar deurgaans eerder gefokus het op taalregte.

“Solidariteit is lankal ʼn voorstander van meertalige onderrig en dit is belangrik vir Afrikaans as een van Suid-Afrika se inheemse tale om as onderrigtaal te bly voortbestaan. Kinders leer die beste in die taal wat hulle die beste verstaan,” sê Mulder.

Volgens hom het die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) tot dusver in ʼn gees van samewerking opgetree en Solidariteit probeer nou om ʼn middeweg te vind tussen die staat en die skolegemeenskappe. Mulder waarsku egter ʼn balans wat die regte van alle partye respekteer, sal gou gevind moet word.

“Solidariteit is bereid om voort te gaan met gesprekvoering mits die magte wat tans aan die skole behoort, nie verder ingekort word nie en mits meertaligheid bevorder word.

“As die wetgewing in pas is met hierdie beginsels, sal Solidariteit tevrede wees,” sê Mulder.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel