Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Tekort aan doktersposte – en tog is dokters oorwerk
Deur Heléne Mocke
Hoe kan daar in Suid-Afrika ʼn tekort aan poste vir gekwalifiseerde dokters bestaan? In ʼn land waar die behoefte vir opgeleide gesondheidsorgwerkers so ontsettend groot is, is dit ʼn skreiende skande dat dokters wat wíl werk nie die geleentheid kry om dit te kán doen nie.
Volgens ʼn berig op News24 is sowat 1 800 dokters in Suid-Afrika tans werkloos. In die Oos-Kaap het werklose dokters onlangs teen die gebrek aan poste betoog, terwyl die Nasionale Departement van Gesondheid erken het dat daar nie fondse beskikbaar is om nuwe aanstellings te maak nie.
As daar ʼn behoefte vir dokters bestaan, waarom is daar ook ʼn groot getal werklose dokters wat dit nodig ag om te betoog oor die gebrek aan geleenthede? Dit maak tog nie sin nie.
Dr. Angelique Coetzee, deel van Solidariteit se doktersnetwerk, sê egter swak provinsiale bestuur en gebrekkige beplanning is die kern van die probleem.
“Elke provinsie bestuur sy eie begroting en is verantwoordelik vir die aanstelling van personeel. Maar swak beheer lei daartoe dat poste gevries word, weens geen fondse, wanneer ’n dokter bedank, en uiteindelik verdwyn hierdie poste,” verduidelik sy.
Dr. Coetzee sê verder dat provinsiale leierskap verantwoordelik gehou moet word vir die aanwending van hul begrotings.
“Ons sien jaar na jaar dieselfde probleem. Dit is onaanvaarbaar dat ons steeds met sulke gebrekkige administrasie sit,” sê Coetzee. Sy voeg by dat die hoë salarisse van eerstejaar-mediese beamptes ’n bydraende faktor is, maar dat beter beplanning kan verseker dat hierdie kostes doeltreffend bestuur word. Die vrotsige bestuur laat almal in die steek – dokters wat tans in diens is, dokters wat nie werk kry nie en natuurlik pasiënte wat nie dokters kan besoek nie.
Solidariteit dring daarop aan dat die regering beter voorsiening moet maak vir die plasing van afgestudeerde mediese studente. “Met akkurate data oor die behoefte aan poste kan daar behoorlike beplanning gedoen word om te verseker dat geen gesindheidspraktisyn werkloos is nie,” sê Coetzee.
Verder eis Solidariteit ook groter deursigtigheid van premiers oor hoe hul begroting vir gesondheidsorg aangewend word, aangesien dit duidelik gebrekkig is.
Die gevolge daarvan het ʼn ernstige uitwerking op miljoene Suid-Afrikaners se gesondheid aangesien hulle nie toegang tot gesondheidsorg kan kry nie, of onaanvaarbaar lank moet wag om ʼn oorwerkte dokter te spreek.
Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese sektor by Solidariteit, sê provinsiale bestuur fokus net op beheer en stel nie pasiënte en die mees kwesbares in die samelewing eerste nie.
“Hierdie gebeur jaar na jaar en die staatsamptenare gee eenvoudig nie om nie, hulle jaag net mag na en gee nie om vir gehalte gesondheidsorg nie,” sê Marx.
Volgens Marx is dit die einste regering wat die openbare gesondheidsorgstelsel dramaties wil uitbrei om vir ʼn Nasionale Gesondheidsversekeringskema voorsiening te maak – iets wat uiteraard op ʼn volslae ramp sal afstuur.
Solidariteit se stryd teen die NGV is welbekend en gaan in 2025 op die spits gedryf word.