
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Geestesgesondheid by mans: Jy mág hulp vra
Deur René van der Vyver
Daar word dikwels van mans verwag om “sterk” te wees deur ander te dra en kalm te bly wanneer druk en verantwoordelikheid toeneem. In die werkplek – waar opoffering en prestasie dikwels in hoëdruk-omgewings verwag word – word die emosionele impak van stres, selde erken. Om hulp te vra dui nié op ʼn gebrek aan manlikheid nie. Dit is juis ʼn daad van verantwoordelikheid – nie net teenoor jouself nie, maar ook vir jou geliefdes en kollegas.
Solidariteit erken die belangrikheid van mans se emosionele gesondheid in hoëdruk-werksomgewings en daarom wil ons jou loopbaanvennoot wees, wat jou teen uitbuiting in die werkplek beskerm.
Mans is geneig om emosies te internaliseer. Klink die spreekwoord “Ek dra nie my hart op my mou nie” dalk bekend? Veral in die werkplek, beskou mans emosies dikwels as iets wat geïgnoreer óf weggewerk moet word. Dié neiging word versterk deur werksomgewings wat min ruimte vir kwesbaarheid toelaat. In hoëdrukrolle (enige beroep waar die foutmarge klein en die verwagtinge hoog is), kan ʼn man se innerlike wêreld stilweg begin knak lank voordat enigiemand iets opmerk. ʼn Man wat elke dag “sterk” voorkom en “alles onder beheer hou” besef dikwels nie hoe diep die moegheid, angs of emosionele afsondering reeds is nie.
Wanneer emosionele spanning nie erken of aangespreek word nie, bou dit op. Dit steel jou konsentrasie, verlaag jou produktiwiteit en veroorsaak dikwels wrywing in jou verhoudings – by die huis én by die werk. Selfs fisieke gesondheid ly daaronder. In baie gevalle lei hierdie onderdrukte spanning tot uitbranding, depressie of selfs verslawing as ʼn manier om kop bo water te probeer hou.
Wanneer ʼn veilige omgewing egter vir mans die vrymoedigheid gee om vir hulp te vra, sal die prentjie heel anders lyk. Ware, volhoubare leierskap ontstaan wanneer mans bereid is om te erken dat hulle nie alles alleen kan dra nie. Solidariteit staan as jou loopbaanvennoot gereed om jou te ondersteun. Ons is meer as net ʼn vakbond wat jou salaris of kontrak beskerm – ons is ook ʼn netwerk wat jou as ʼn mens in jou geheel raaksien. As jy vasgevang voel in ʼn werkplek waar daar geen ruimte vir jou emosionele welstand is nie, is Solidariteit daar om namens jou op te tree. As jy onder onrealistiese druk geplaas word, is daar hulp.
Solidariteit bied boonop ook toegang tot ondersteuning, opleiding en mentorskap – ʼn ruimte waar mans kan groei, leer en herstel sonder oordeel. Geestesgesondheid is immers nie net die afwesigheid van probleme nie, maar die teenwoordigheid van balans, insig en die regte gereedskap om uitdagings te hanteer.
Elke man verdien dit om in ʼn werkplek te wees waar hy nie net as ʼn “werker” gesien word nie, maar as ʼn hele mens – met emosies, drome, grense en ʼn behoefte aan ondersteuning. As jy dus onder druk is, uitgeput voel, of nie meer weet hoe om vorentoe te beweeg nie, begin deur een ding te onthou: Jy mág hulp vra, en Solidariteit is hier om jou by te staan.
Skep jou gratis profiel en sluit aan by ʼn gemeenskap van werk en omgee.