
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jou eerste salaris en belasting: Wat jy as ʼn jong werkende móét weet
Deur Kyla-Ann du Toit
Om jou eerste salaris te ontvang, is ʼn groot en trotse oomblik! Maar dan sien jy die bedrag in jou bankrekening en dink: Hoekom is dit minder as wat ek gedink het dit gaan wees? Welkom in die wêreld van belasting, aftrekkings en salarisstrukture!
Wanneer jy begin werk, word jy bewus van nuwe finansiële konsepte soos LBS (lopende betaalstelsel, of in Engels PAYE – “pay as you earn”), KVM (koste vir maatskappy, of in Engels CTC – “cost to company”), WVF (werkloosheidsversekeringsfonds, ook bekend as UIF – “Unemployment Insurance Fund”) en aftrekkings vir mediese fonds of pensioenbydraes. Dit kan eers oorweldigend voel, maar moenie stres nie – Solidariteit is hier om dit eenvoudig te maak en jou te help verstaan hoe alles werk.
Wat beteken “cost to company”?
Jy mag dalk ʼn groot bedrag op jou werkaanbod sien, maar dit is nie noodwendig die bedrag wat elke maand in jou bankrekening inbetaal word nie. Dié bedrag is jou CTC – die totale bedrag wat dit die maatskappy kos om jou in diens te neem.
Dit sluit in:
- • jou bruto salaris
- • werkgewersbydraes (bv. pensioenfonds, mediese fonds, WVF)
- • moontlike voordele
Jy kan dus ʼn CTC van R20 000 hê, maar slegs R14 000 in jou bankrekening ontvang. Dit is dus belangrik om te weet wat jou CTC is, sodat jy min of meer kan weet wat jy op die ou end in jou sak gaan steek.
Wat is LBS en waarom is dit belangrik?
LBS is ʼn belasting wat direk van jou salaris afgetrek en aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID, ook bekend as SARS – “South African Revenue Service”) betaal word. Die bedrag wat jy betaal, hang af van jou inkomstevlak, soos bepaal deur belastingskale. (Lees hier meer oor inkomstebelastingskale.)
Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie geld gebruik word om openbare dienste soos gesondheidsorg, onderwys en infrastruktuurontwikkeling te finansier. Alhoewel dit vir jou mag voel asof belasting net geld uit jou sak neem, dra jy inderwaarheid by tot ʼn funksionerende samelewing. (Dit klink dalk vreemd aangesien ons in Suid-Afrika woon, so kom ek stel dit eerder so: Die idee is dat hierdie geld vir openbare dienste gebruik word.)
Verstaan jou salarisstrokie
Jy sal die volgende op jou salarisstrokie sien:
- • bruto salaris (jou salaris vóór enige aftrekkings)
- • netto salaris (die bedrag wat ná aftrekkings in jou bankrekening inbetaal word)
- • belasting (LBS)
- • ander aftrekkings (pensioenfonds, mediese fonds, WVF)
Dit is hier waar baie jong werkendes teleurgesteld voel. Terwyl hulle indiensnemingskontrak dalk ʼn bedrag van R15 000 aandui, ontvang hulle dalk slegs R12 000 in hul bankrekening. Dit kan as ʼn verrassing kom, maar dit is ʼn normale deel van indiensneming. As jy egter verstaan waarom dit gebeur, kan dit jou help om verwagtinge te bestuur.
Kry jou gratis belastinggids
As jy pas die werkplek betree het en nog geen benul het van hierdie terme nie, is Solidariteit se gratis belastinggids die perfekte beginpunt. Dit wys jou:
- • hoe om jou salarisstrokie te lees;
- • wat belasting beteken en waarom dit afgetrek word; en
- • hoe die belastingstelsel werk en wat jy kan verwag.
Hoe kry jy toegang tot hierdie gids?
- 1. Registreer jou gratis profiel op Solidariteit (klik hier).
- 2. Klik op “Studeerkamer” aan die linkerkant van die tuisblad.
- 3. Sleutel die woord “belasting” in die soekveld in.
- 4. Laai dan die gids af.
Dit is vinnig, maklik en heeltemal gratis!
Begin jou loopbaan slim
As ʼn jong werkende is dit belangrik om van die begin af ingeligte besluite oor jou geld te neem. Jy hoef nie ʼn finansiële kenner te wees nie, maar met die regte inligting sal jy beslis ʼn voorsprong kry.
Skep dus vandag nog jou gratis Solidariteit-profiel en kry toegang tot die gids!