Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Belastingseisoen vir studente: Wanneer word jou vakansiewerk SAID se besigheid?
Deur Karen Waldeck
Vir baie studente beteken ʼn vakansiewerk ekstra sakgeld, werkservaring en dalk die eerste keer wat daar ʼn salaris in jou bankrekening inbetaal word. Maar saam met daardie eerste salaris is daar soms ʼn nuwe naam in die prentjie: SAID.
Ontspan, dit is nie nóg ʼn virus nie! Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), beter bekend as SARS, is die instelling wat verantwoordelik is vir die invordering van belasting in Suid-Afrika. Die belasting wat die SAID invorder, help om openbare dienste soos skole, hospitale, paaie en veiligheid te finansier. Dit klink dalk ingewikkeld, maar dis eintlik eenvoudig: As jy geld verdien, wil die SAID daarvan weet sodat hulle kan betaal vir openbare dienste.
Die goeie nuus is dat jy nie outomaties belasting hoef te betaal net omdat jy vakansiewerk doen nie. Vir die 2026/2027-belastingjaar betaal persone jonger as 65 jaar eers inkomstebelasting wanneer hul belasbare inkomste meer as R99 000 per jaar beloop – dit is so ongeveer R8 250 per maand. Indien jy minder as dit verdien, kan jy vir ʼn bietjie langer jou vakansiegeld geniet sonder om jouself oor inkomstebelasting te bekommer.
Beteken dit die SAID stel glad nie belang in jou vakansiewerk nie? Nee, nie noodwendig nie.
Baie werkgewers trek reeds belasting af voordat jy jou salaris ontvang. Hierdie stelsel staan bekend as PAYE (“Pay As You Earn”). As jy gedurende vakansies of deeltyds werk, kan daar dus belasting van jou salaris afgetrek word, selfs al verdien jy minder as die belastingdrempel. In sommige gevalle kan jy later ʼn lekker terugbetaling van die SAID ontvang indien daar te veel belasting afgetrek is.
Nog iets wat studente verras, is dat nie alle inkomste uit ʼn tradisionele werk kom nie. Dalk gee jy ekstraklasse, ontwerp jy webwerwe, bestuur jy sosiale media vir ʼn besigheid of verkoop jy produkte aanlyn. Hierdie inkomste tel ook as inkomste in die SAID se oë. Daarom is dit ’n veiliger opsie om van die begin af goeie rekords te hou van wat jy verdien.
ʼn Paar eenvoudige gewoontes kan jou baie moeite in die toekoms spaar:
• Hou jou salarisstrokies veilig.
• Bewaar enige IRP5-sertifikate wat jy ontvang. Dit is nie baie algemeen dat jy ʼn IRP5 vir ʼn vakansiewerk sal ontvang nie, maar dit is belangrik om dit veilig te hou indien jy wel een ontvang.
• Maak seker jy verstaan wat op jou salaristrokie aangaan.
• Hou rekord van enige ekstra inkomste wat jy verdien.
• Moenie kommunikasie van die SAID ignoreer nie, maar moet ook nie net op enige skakels klik wat sê dit is vanaf die SAID nie. Hulle sal altyd jou inkomstebelastingnommer op die korrespondasie bysit. Indien jy ontseker is, bel eerder die hulplyn en vra of die kommunikasie van hulle af is.
Belasting mag dalk klink soos iets waarmee jy eers ná jou studie hoef te sukkel, maar finansiële verantwoordelikheid begin lank voor jou eerste voltydse werk. Hoe vroeër jy verstaan hoe belasting werk, hoe makliker sal dit wees om jou geld slim te bestuur.
As jy meer wil leer oor belasting, jou eerste salaris en wat om tydens belastingseisoen te verwag, is Solidariteit se gratis Belastinggids spesifiek ontwikkel vir jong werkendes soos jy – sodat jy jou loopbaanpad met selfvertroue en sukses kan aanpak!