loading
Artikels
11 uur gelede
afrikaanse-skole-is-toppresteerders-die-beste-skole-vir-2024-in-gauteng

Foto Krediet: OkayDeer

Afrikaanse skole is toppresteerders: Die beste skole vir 2024 in Gauteng

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit se Skoliere-aanbod wil vir Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Menlopark van harte gelukwens as 2024 se toppresterende skole in Gauteng. Hierdie uitsonderlike Afrikaanse skole bewys weereens dat moedertaalonderrig ʼn kernrol speel in akademiese sukses en uitnemendheid.

Dit is egter ironies hoe die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, met trots glimlag vir prestasies soos hierdie van Afrikaanse skole, maar in dieselfde asem die regte van Afrikaanse kinders wil ondermyn deur die omstrede Bela-wet. Hierdie wet is ’n bedreiging vir moedertaalonderrig, wat een van die belangrikste boustene van hierdie skole se sukses is.

Die publiek lag uitbundig saam oor Lesufi se belaglikheid, soos dit duidelik blyk uit die skerp en humoristiese kommentare op verskeie sosialemediaplasings. Petro Pins lewer byvoorbeeld die volgende opmerking: “Lesufi, en só byt jy en jou ANC-kaders in die stof!” en Johan van Rensburg voeg tong-in-die-kies by dat Lesufi waarskynlik nie eens besef het hy was daar nie.

Die sukses van hierdie Afrikaanse skole is ’n duidelike bewys dat moedertaalonderrig nie net kinders se akademiese potensiaal ontsluit nie, maar ook hul selfvertroue en kulturele identiteit versterk.

Felicia Richardson, spesialis by Solidariteit se Skoliere-aanbod glo dat prestasies soos dié nie net in die klaskamer begin nie, maar ook in die gemeenskappe wat hierdie skole ondersteun. Sy glo ook dat leerders se toegang tot hulpmiddels wat hul unieke talente en belangstelling aanmoedig hiertoe bydra. “Ons is trots daarop om deel van hierdie reis te wees deur praktiese hulpmiddels soos ons insiggewende gratis webinare, die My Hoërskoolpad-videoreeks,  die Wolkskool ensovoorts beskikbaar te stel aan ons jongmense en hul ouers. Dit is nie net Afrikaanse skole wat presteer nie, maar Afrikaanse gemeenskappe wat saamstaan vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms.”

Terwyl Lesufi en die ander radikale amptenare probeer om hierdie model te ondermyn, toon hierdie skole dat kwaliteit onderrig in Afrikaans nie net haalbaar is nie, maar noodsaaklik vir volhoubare groei en sukses.

Solidariteit sal nie stilbly terwyl pogings aangewend word om ons kinders en onderwysers te boelie nie – ons staan sterk vir kwaliteit onderrig in hul moedertaal en beskerm die vryheid om uit te blink in Afrikaans.

Ons bly toegewyd om nie net hierdie regte te beskerm nie, maar ook om Afrikaanse gemeenskappe te versterk deur ondersteuning en regsaksie waar nodig.

Saam kan ons verseker dat toekomstige geslagte steeds hierdie suksesverhale kan skryf – in hul eie taal, op hul eie terme.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel