Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Motsoaledi se oorlogspraatjies beklemtoon NGV-waansin
Suid-Afrikaners van alle inkomstegroepe sal by suksesvolle litigasie deur Solidariteit teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) baat vind.
Hierdie hofstukke wat in Mei 2024 deur Solidariteit op onder meer die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, beteken is, eis die afskaffing van die wet wat tot op hede nog nie gepromulgeer is nie.
In die litigasie voer Solidariteit aan hoe die NGV-skema op alle vlakke skadelik vir gesondheidsorg in die land sal wees, terwyl dit ’n verwoestende uitwerking op die ekonomie sal hê.
Minister Motsoaledi het nietemin besluit om hierdie geregverdigde weerstand teen die NGV voor ’n internasionale gehoor by die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) in Davos, Switserland, as ’n oorlog te beskryf – een wat die Suid-Afrikaanse regering in die naam van universele sorg teen “regse groepe” probeer wen.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dit nóg ’n waansinnige poging om Suid-Afrikaners te verdeel.
“Ons onthou hoe die minister nie lank gelede nie kritiek teen die NGV ook as ‘swart gevaar’-taktiek beskryf het om verdeling op grond van ras aan te blaas. Nou beweer hy die regering is in ’n oorlog gewikkel teen (onder meer) Solidariteit.
“Dit terwyl Solidariteit op rekord is dat hy óók behoorlike universele gesondheidsorg nastreef, maar hopeloos te lief is vir die land en sy mense om toe te laat dat hierdie NGV-skema dit alles vertrap,” sê Du Buisson.
Solidariteit glo die regering het totaal versuim om aan te dui hoe die NGV menselewens gaan verbeter. Dit geld ook vir mense wat tans nie die voordele van privaat mediesefondsdekking geniet nie.
“Dit is maklik om uit te wys hoe die NGV ’n vertrapping van huidige lede van mediese fondse se gesondheidsorg sal wees. Maar dit geld ook vir arm mense op die platteland wat dan steeds aan dieselfde vervalle openbare stelsel uitgelewer sal wees.
“Daar is reeds ’n tekort aan dokters en verpleegsters en daar is nie geld vir die bou van nuwe hospitale nie. Dít is die soort geveg waarby Motsoaledi veronderstel is om betrokke te raak,” sê Du Buisson.
Solidariteit het in Oktober 2024 sy eie NGV-alternatief uitgereik waarin hy wys hoe ’n strewe na meer mediesefondslede op aansienlik goedkoper planne wél ’n werkbare antwoord op die land se gesondheidsorguitdagings kan wees.
Solidariteit vestig ook die aandag op Motsoaledi se misplaaste uitsprake voor die WEF oor die gesondheidsbegroting in Suid-Afrika.
Die minister voer aan dat 51% van gesondheidsorgbesteding op net 14% van die bevolking spandeer word terwyl die ander 86% glo op net 49% van die befondsing moet staatmaak.
“Motsoaledi noem egter nie dat hierdie mediesefondslede (die 14%) diegene is wat juis die belastingbetalers is waaruit die einste openbare stelsel (vir die 86%) befonds word nie.
“Dit is hierdie 14% teen wie Motsoaledi ‘oorlog voer’, terwyl hulle bydrae die land regop hou en hom van sy salaris voorsien,” sê Du Buisson.