loading
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-dwing-werkgewer-om-wel-skeidingspakket-aan-lid-te-betaal

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit dwing werkgewer om wél skeidingspakket aan lid te betaal

Deur Heléne Mocke

Solidariteit het tot die hulp gekom van ʼn lid wat in 2023 sonder ʼn skeidingspakket deur ʼn vervoermaatskappy ontslaan is deur toe te sien dat die werkgewer wél die pakket van nagenoeg R200 000 uitbetaal.

Dit het ʼn einde gemaak aan wat ʼn nare episode vir hierdie lid was. Hy was sewe jaar lank werksaam by Winkelhaak Verspreiders, maar is op die ou end meegedeel dat hy afgelê sou word.

Solidariteit het ʼn saak by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak, en die KVBA het in die lid se guns beslis. Die werkgewer het egter die uitspraak geïgnoreer en het steeds geweier om die bedrag uit te betaal.

Gevolglik moes Solidariteit die hulp van die balju inroep om op die werkgewer se bates beslag te lê. In die proses is beslag gelê op die werkgewer se Toyota-bakkie sowel as op ʼn tweede voertuig.

Hierdie weg was op die ou end nodig en die stappe wat gedoen is het verseker dat die lid uiteindelik die skeidingspakket, mét rente waarop hy geregtig was, ontvang het.

Nicolette Ras, Solidariteit se litigant wat die saak namens die lid behartig het, het die oorwinning as ʼn bewys van Solidariteit se onwrikbare toewyding aan die beskerming van sy lede beskryf.

“Die verskoning van gebrekkige kontantvloei is ook nie goed genoeg wanneer dit kom by die verantwoordelikheid wat die werkgewer volgens arbeidsreg teenoor ʼn werknemer het met wie hy ʼn kontraktuele ooreenkoms het nie,” sê sy.

Hierdie geval is ʼn goeie voorbeeld van die belangrike rol wat Solidariteit in die handhawing van regverdigheid en die beskerming van sy lede se regte in die werkplek speel.

Sluit vandag hier aan by Solidariteit en verseker so dat jy beskerming in die werkplek geniet.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel