Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Bela-protes: Duisende verwag by grootste Afrikaanse optog
Altesaam 41 Afrikaanse organisasies van oor ʼn wye spektrum het vandag op ʼn mediakonferensie hul steun uitgespreek vir die protesoptog op 5 November teen die Bela-wet.
Hulle het ook eendragtig hul teenstand uitgespreek teen die artikels in die Bela-wet wat handel oor taal- en toelatingsbeleid by skole. Duisende mense word by die protesaksie op 5 November verwag.
Dr. Hendrik Theys, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, het die gevoel van die dag opgesom met die woorde: “Ons mag nie taalmoord toelaat nie.”
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê dat mense ʼn paar kilometer moet stap om te keer dat ons kinders nie duisende kilometers ver moet wegvlieg nie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die Bela-geveg is die grootste geveg sedert dié organisasie se stigting.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, het bevestig dat Bela alle Afrikaanse gemeenskappe bedreig en tot taalverwarring en swakker onderwys in die bruin gemeenskap sal lei.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê Bela val die siel van die Afrikaanse gemeenskap aan. Daarom moet politieke partye en die regering van nasionale eenheid (RNE) hoor: “Bela is ons rooi lyn.”
Paul Sauer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het klem gelê op die demokratiese reg van ouergemeenskappe.
Duisende Afrikaanssprekendes en ondersteuners van moedertaalonderwys gaan ook eerskomende Dinsdag, 5 November, by die Voortrekkermonument saamtrek en na Freedom Park stap.
Volgens die Solidariteit Beweging, wat die optog organiseer, is dit die grootste Afrikaanse optog sedert 1994.
Die 41 organisasies wat die mediakonferensie bygewoon het, steun almal die optog.
Die leier van die DA, John Steenhuisen, die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, en ander regeringsverteenwoordigers gaan ook die geleentheid bywoon. Verskeie leiers uit tradisionele gemeenskappe gaan ook hul steun vir moedertaalonderwys toon.
Memorandums gaan aan die verskillende politieke partye in die RNE en verteenwoordigers van die regering oorhandig word.
Die organisasies wat aan die protesoptog deelneem, sluit in Solidariteit, AfriForum, die Kaapse Forum, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, Solidariteit Helpende Hand, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, die MOS-inisiatief, die Afrikaanse Onderwysnetwerk, die Afrikaanse Taalraad, die FAK, die Voortrekkers, die Afrikanerleiersnetwerk, Akademia, Aros, die AP-Akademie, Bo-Karoo Opleiding, Sol-Tech, SAAI, die TLUSA, die Afrikanerbond, Rapportryers, die Pretoria Sakekamer en Neasa.
Volgens dr. Theuns Eloff, sameroeper van die Afrikanerleiersnetwerk en voorsitter van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, is die weerstand teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) baie wyd. Hy sê die implementering van Bela se gewraakte artikels oor taal en toelating sal enkelmedium- Afrikaanse skole binne drie tot vyf jaar totaal verengels.
Volgens Kallie Kriel en dr. Dirk Hermann, twee van die onderhandelaars oor Bela, is daar verskeie harde onderhandelingsprosesse met verskeie politieke partye aan die gang. Die druk wat die protesaksie skep, gaan baie help met die onderhandelinge. Dit moet ʼn magsvertoon wees. Daar is ook onderhandelinge in die RNE aan die gang.
In die memorandum wat op 5 November aan leiers van verskeie politieke partye in die RNE en regeringsverteenwoordigers oorhandig gaan word, vra die optoggangers dat die gewraakte artikels 4 en 5 van die Bela-wet nie in werking gestel word nie. Volgens die memorandum gaan dit nie net oor Afrikaans as taal nie, maar oor die beginsel van moedertaalonderwys in die algemeen.
- Klik hier vir die memorandum wat aan regeringsverteenwoordigers oorhandig gaan word.