loading
Artikels
1 dag gelede
vier-wenke-om-daardie-pos-los-te-slaan-met-voortgesette-leer-op-jou-cv

Foto Krediet: OkayDeer

Vier wenke om daardie pos los te slaan met voortgesette leer op jou CV

Soek jy werk, maar weet nie hoe om jou CV te laat uitstaan nie? Hier is presies hoe voortgesette leer jou CV kan transformeer – met wenke oor hoe jy jou ervaring op jou CV kan beklemtoon.


Deur Leré Nel

Die arbeidsmark word elke dag nóg meer mededingend. As jy eerste vir bevorderings of nuwe poste oorweeg wil word, moet jy ʼn lewenslange leerder word wat jouself verbind tot voortdurende selfverbetering.

Wen met voortgesette leer op Solidariteit se leerplatform

In ʼn arbeidsmark waar daar soms honderde aansoekers vir een pos is, is die groot vraag: Wat laat jóú uitstaan? Die antwoord is eenvoudiger as wat jy dink:
ʼn Wen-CV + nuwe vaardighede + ʼn slim werksoekstrategie posbenadering = sukses!

Of jy onlangs jou werk verloor het, al maande lank werk soek, of bloot op soek is na ʼn beter geleentheid – hierdie artikel verduidelik presies hoe om jou CV op te gradeer en meer werksgeleenthede te ontsluit met Solidariteit se voortgesette leer.

Hier is ʼn paar wenke om jou CV na die volgende vlak te neem.

1. Skryf ʼn CV wat werk vir werksoek

ʼn CV is nie net ʼn dokument nie – dis jou persoonlike bemarkingsveldtog. Werkgewers spandeer gemiddeld net 6 tot 8 sekondes om na ʼn CV te kyk. As jou CV nie onmiddellik jou vaardighede ten toon stel nie, gaan dit misgekyk word. Maak dus seker jy doen die volgende:

  • Gebruik aksiewoorde: sê dat jy ʼn projek “beplan en bestuur” het, nie net “daaraan gewerk” het nie.
  • Bewoord jou ervaring doeltreffend: jy was dalk ʼn kassier, maar jy het ook vaardighede soos kliëntediens, konflikhantering en tydsbestuur in hierdie rol bemeester.
  • Moenie die waarde van “klein” werk onderskat nie – enige ervaring het waarde as jy dit reg verwoord.

Solidariteit kan jou hiermee help. Daar is ʼn volledige CV-gids in die Studeerkamer op Solidariteit se platform wat jou wys hoe om ʼn professionele CV op te stel en selfs die lêer slim te benoem.

2. Slyp jou vaardighede om te wys jy’s aanpasbaar

Werkgewers soek nie net iemand met ondervinding nie – hulle soek iemand wat aanpasbaar is, vinnig leer en wat groeipotensiaal het. Dis waar voortgesette leer die verskil maak. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum sal 50% van werknemers teen 2025 heropgelei moet word om tred te hou met tegnologiese veranderinge. Studies deur die WEF beklemtoon die belangrikheid van sagte vaardighede soos kommunikasie in die werkplek, emosionele intelligensie, kritiese denke, besluitneming, tydsbestuur en professionele optrede.

Hierdie vaardighede is noodsaaklik vir die vyfde nywerheidsrevolusie, waar mense en tegnologie toenemend geïntegreerd raak. Jou vermoë om mense te verstaan, aan te pas en oplossings te vind, tel in jou guns.

Op Solidariteit se leerplatform kry jy toegang tot meer as 150 aanlyn kursusse – waarvan baie gratis is vir Solidariteit-lede. Alle kursusse is in Afrikaans beskikbaar en kan op jou eie tyd voltooi word.

3. Maak seker jou vaardighede pas by die pos waarvoor jy aansoek doen

Een van die grootste foute wat werksoekers maak, is om dieselfde CV vir elke aansoek te gebruik. Jy moet wys dat jou vaardighede en ervaring pas by dít wat die werkgewer soek.

  • Gebruik die posadvertensie se sleutelwoorde en pas jou beskrywings daarvolgens aan.
  • Beklemtoon toepaslike kursusse wat jy op Solidariteit se leerplatform voltooi het.
  • As jy nog nie sekere vaardighede het nie – leer dit aan! Dit toon inisiatief.

ʼn Paar uur op Solidariteit se leerplatform kan die verskil beteken tussen ʼn “jammer, jou aansoek was onsuksesvol” en ʼn “ons wil jou graag vir ʼn uitnodiging nooi”.

4. Jou ervaring is goud werd – jy moet dit net reg verpak

Baie kandidate laat soms belangrike ervaring uit hul CV, bloot omdat dit nie direk met die pos waarvoor hulle aansoek doen verband hou nie. Moenie daardie fout maak nie!

  • Was jy ʼn afleweringsbestuurder? Jy het waarskynlik ondervinding in roetebeplanning, tydsbestuur en kliënteverhoudinge opgedoen.
  • Het jy in ʼn klein onderneming gewerk? Jy het waarskynlik baie rolle vervul – van kliëntediens tot voorraadbestuur.

Dit gaan alles oor hoe jy dit verwoord. Solidariteit se CV-gids wys jou presies hóé.


Begin vandag nog – en verander jou toekoms

Jy hoef nie te wag vir iemand om jou te bel nie. Bou aan jou waarde. Bou aan jou CV. Bou aan jou toekoms.

Skep jou profiel hier, koppel jou lidmaatskap, en skryf sommer vandag nog in vir jou eerste kursus.
Werksoek hoef nie hulpeloosheid te beteken nie. Met die regte vaardighede, die regte CV en Solidariteit se leerplatform aan jou kant, het jy alles wat jy nodig het om suksesvol te wees. Begin vandag – leer jou toekoms oop!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel