loading
Artikels
1 maand gelede
beserings-aan-diens-wat-mediese-praktisyns-moet-weet

Foto Krediet: OkayDeer

Beserings aan diens: wat mediese praktisyns moet weet

Deur Leré Nel

Beserings aan diens is nie ʼn gewone kliniese saak nie – dit behels regs-, administratiewe en etiese uitdagings. Vir dokters en verpleegkundiges wat hierdie pasiënte behandel, is dit belangrik om die wetgewing, die werkplek en die pasiënt se volle sosioëkonomiese konteks te verstaan.

Solidariteit se mediese netwerk het met dr. Danie Viljoen, ʼn ervare beroepsgeneeskundige, gesels oor die korrekte stappe vir die verantwoordelike behandeling van enige beserings aan diens. Dr. Viljoen bring dekades se ondervinding uit die mynbou, nywerheid-, FMCG- en maritieme sektore, en hy het ʼn groot passie vir die integrasie van persone met gestremdhede in die hoofstroom-ekonomie.

Wie is dr. Danie Viljoen?

Dr. Viljoen het sy mediese graad aan die Universiteit Stellenbosch in 1986 voltooi en het sedertdien as beroepsgeneeskundige in die openbare en privaat sektor gewerk. Hy het vir Gold Fields, Unilever en Deloitte & Touche Human Capital Corporation se afdeling gewerk, Integrated Health Group, asook Global Health & Wellness Services. Hy praktiseer tans privaat in die Wes-Kaap. Hy is ook ʼn SAMSA-geakkrediteerde praktisyn (Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid) en die voormalige voorsitter van SASOM (Suid-Afrikaanse Vereniging vir Beroepsgeneeskunde) in die KwaZulu-Natal-streek.

Wanneer is dit ʼn besering aan diens?

Volgens dr. Viljoen is dit belangrik om die kliniese en wetlike aspekte in ag te neem:

  • • Wetlik word daar gewoonlik vereis dat die besering tydens dieselfde skof aangemeld word. Indien simptome eers later verskyn, moet dit so gou moontlik aan die lynbestuurder en die mediese behandelingspan gekommunikeer word.
  • • Klinies moet die beskrywing van die voorval ooreenstem met die soort en erns van die besering. Bevindings moet ook chronologies sin maak.

Relevante wetgewing en regulasies

Dr. Viljoen verduidelik dat verskeie wette bepaal hoe beserings aan diens hanteer moet word. Die belangrikste waarvan mediese praktisyns kennis moet neem, is:

  • • COIDA (Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes)
  • • OHSA (Wet op Beroepsgeneeskunde en -veiligheid)
  • • MHSA (Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne)

Ander relevante wetgewing en riglyne sluit die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, die Wet op Arbeidsverhoudinge, en die Padongelukkefondswet (indien ʼn voertuig betrokke is) in.

Vereiste dokumentasie

Hier is dr. Viljoen se eenvoudige opsomming van die vereiste dokumentasie:

  • • W.Cl.2(Kennisgewing van ongeluk en eis vir vergoeding): hierdie vorm moet binne sewe dae ná die voorval deur die werkgewer ingedien word om die besering aan te meld.
  • • W.Cl.4 (Besonderhede van besering): hierdie vorm word deur die dokter voltooi en beskryf die aard van die besering en die verwagte tydperk afwesigheid.
  • • W.Cl.5(Vorderings-/finale mediese verslag): dié vorm word gereeld bygewerk en aan die Vergoedingskommissaris gestuur, totdat die werknemer se toestand ten volle gestabiliseer is.

“Sodra die mediese praktisyn tevrede is dat die werknemer geskik is vir diens, word die finale mediese verslag (W.Cl.5) uitgereik en aan die Vergoedingskommissaris gestuur,” verduidelik dr. Viljoen. “Hierin verklaar die dokter of die werknemer weer geskik is vir diens, of dat die werknemer permanent ongeskik is.”

Dr. Viljoen beklemtoon die belangrikheid daarvan om kopieë van alle dokumentasie vir minstens vyf jaar te bewaar. In beroepsgeneeskunde word ʼn bewaringstydperk van 40 jaar selfs aanbeveel. “Ek stel voor dat dokters dit ernstig opneem. Jare later kom daar dikwels nog navrae oor beserings aan diens, byvoorbeeld artritis wat in die area van die besering ontwikkel. Dit is belangrik om daardie dokumentasie beskikbaar te hê, indien sake heropen word.”

Terugkeer werk toe – hoe en wanneer?

“Die besluit oor terugkeer na werk kan kompleks wees, aangesien dokters verskeie aspekte moet oorweeg: pyn, funksionaliteit, uithouvermoë, risiko vir verergering, inkomsteverlies, en nog meer. Alle aspekte moet oorweeg word en goeie insig in wat die persoon se werkverpligtinge behels, is baie waardevol,” sê dr. Viljoen.

Laaste wenke van dr. Viljoen

Om frustrasie te vermy, vermy die vaagheid van die term “ligte diens” in ʼn “fit to work”-sertifikaat. Dr. Viljoen noem dat “spesifieke aanbevelings en duidelike tydperke vir beperkings, werknemers geweldig help om realistiese planne te maak. Die pasiënt moet as ʼn volledige persoon beskou word en daar moet gesorg word dat rehabilitasie ordentlik gedoen word. Die psigiese impak van die beserings moet ook aangespreek word.”

Nog ʼn goeie wenk, volgens dr. Viljoen, is om die direkte lynbestuurder by alle kommunikasie te betrek. Dit het ʼn groot impak op moontlike plasings en die pasiënt kry gewoonlik beter en meer persoonlike aandag.

Jou rol as mediese praktisyn is belangrik

Die behoorlike hantering van beserings aan diens verg ʼn kombinasie van kliniese insig, regskennis, menslikheid en deeglike dokumentasie. Jou betrokkenheid kan ʼn beslissende verskil in die lewenskwaliteit van jou pasiënt maak, selfs nog lank ná die besering.

Bly ingeskakel bySolidariteit se Doktersnetwerk en Verpleegnetwerk vir waardevolle inligting, asook relevante nuus oor kwessies wat jou beroep raak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel