

Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit vier Wêreldsigdag by Pretoria Ooginstituut
Deur Kyla-Ann du Toit
Vir baie mense is goeie sig iets wat vanselfsprekend voel… totdat dit verdwyn.
By die Pretoria Ooginstituut (POI) was daar op 17 Oktober 2025 egter weer trane van blydskap, dankbaarheid en verwondering toe meer as 100 pasiënte letterlik weer ʼn nuwe blik op die wêreld kon kry.

Hoop in aksie
Die jaarlikse Wêreldsigdag-inisiatief by die POI is veel meer as net nóg ʼn mediese projek – dit is ʼn dag waarop hoop, kundigheid en omgee ʼn werklike verskil maak.
Met die ondersteuning van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke is tientalle pasiënte se katarakte verwyder – alles heeltemal gratis.

“Ons is vandag by die Pretoria Ooginstituut om Wêreldsigdag te vier. Vandag is meer as 100 pasiënte se katarakte verwyder. Solidariteit is baie opgewonde om deel van hierdie inisiatief te wees,” sê Petria Pottas, netwerkorganiseerder van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke.
Lig vir meer as net oë
Volgens dr. Louis van der Hoven, bestuurder van die Pretoria Ooginstituut, is dié dag jaarliks ʼn hoogtepunt vir elke personeellid.
“Ons doen vandag iets ongelooflik spesiaal – ons doen 100 oogoperasies op mense wat as gevolg van katarakte nie meer kan sien nie. Dit is vir ons ʼn voorreg om dit vir mense aan te bied sonder enige koste van hulle kant af,” verduidelik hy.

Hy vertel dat die prosedure relatief eenvoudig is, maar dat die uitwerking vir pasiënte lewensveranderend is. “Die dokter suig die katarak uit, verwyder die ou lens en plaas ʼn nuwe lens in die oog. Vir mense wat nie kon sien nie, is dit soos om deur ʼn bril te kyk met Vaseline daarop gesmeer – en skielik is alles weer helder. Dit is letterlik ʼn nuwe blik op die lewe.”
ʼn Dag van gemeenskapsgees
Die atmosfeer by die hospitaal was vrolik en hoopvol. Die MAC’s Motorcycle Club het deur die loop van die dag gratis eetgoed vir almal voorsien, terwyl Thera-Paws met hul terapiehonde teenwoordig was om emosionele ondersteuning en genot te bied. Die dag is afgesluit met ʼn gesellige braai vir personeel en almal wat op die dag gehelp het.

“Almal by die POI is deel van hierdie massiewe gebeurtenis sodat alles vlot kan verloop,” sê dr. Van der Hoven. “Ons het besluit om ʼn nuwe leuse vir die hospitaal te gee: ‘Make ophthalmology great again!’ Ons kan ʼn groot verskil in mense se lewens maak deur vir hulle hul sig terug te gee. Ons wíl ons wonderlike fasiliteit en netwerke gebruik om soveel moontlik mense te help.”

Solidariteit se betrokkenheid
Wanneer oë weer kan sien, sien harte ook weer hoop. Solidariteit is trots daarop om jaarliks deel te wees van hierdie besonderse uitreik waar die waarde van gemeenskap en diensbaarheid só tasbaar is.
“Dit is ʼn dag van hoop – nie net vir die pasiënte wat weer kan sien nie, maar ook vir almal wat saamwerk om dit moontlik te maak,” sê Pottas.
