

Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Jong leiers bou brûe by Solidariteit se Hoofleierontbyt vir 2025
Deur Kyla-Ann du Toit
By Loft at Nine in Menlo Park het die gees van leierskap, geloof en gemeenskap op 17 Oktober 2025 geheers toe die hoofleiers van 21 Gautengse skole by Solidariteit se jaarlikse Hoofleierontbyt byeengekom het.

Hierdie spesiale oggend is daarop gemik om die hoofleiers van 2026 te vier – jong mense wat deur hul skole as rolmodelle, dromers en doeners gekies is – en om hulle toe te rus vir die pad van leierskap wat voorlê.
“Jou baadjie moenie jou identiteit wees nie”
Die oggend is met Skriflesing en gebed deur Dawid Durie, adjunkbestuurshoof van operasionele dienste by Solidariteit, geopen. Hy het in sy boodskap die bekende verhaal van Dawid en Goliat gebruik om die jong leiers te herinner dat ware leierskap nie in ʼn titel of ʼn baadjie lê nie, maar in karakter en roeping.

Hy het die leerders aangemoedig om vas te klou aan wie hulle is – die mens wat reeds raakgesien is nog voordat die hoofleierbaadjie oor hulle skouers gehang is. “Wees die mens wat jy geroep is om te wees,” sê hy. “Wanneer die baadjie jou identiteit word, verloor jy jou roeping.”
Vir die onderwysers in die gehoor het hy ʼn uitdagende boodskap gehad: Om skoolleierskap nuut te bedink in ʼn veranderende wêreld. “Ons wêreld kort leiers,” het hy beklemtoon. Hy het die skole aangemoedig om programme te ontwikkel wat jong mense voorberei om as volwasse en verantwoordelike leiers in die gemeenskap op te tree.
“Om te staan…”
Die gasspreker, Susan O’Reilly, ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, het die verhoog betree met ʼn opwindende ysbreker vir die leerders. Elke tafel het ʼn hopie Lego-blokkies en ʼn opdrag gekry om iets te bou wat hulle idee van leierskap voorstel.

Hierdie prettige aktiwiteit het nie net die kreatiwiteit laat vloei nie, maar ook nuwe vriendskappe gesmee tussen leiers van verskillende skole – ʼn herinnering dat ware leierskap ook oor saamstaan gaan.
“Toe ek self ʼn hoofleier van my skool was, het ek gedink leierskap gaan daaroor om raakgesien te word, want dit ís lekker om raakgesien te word. Maar eintlik gaan dit oor om ander raak te sien,” sê Susan. Sy het verduidelik dat ware leierskap drie eenvoudige dinge behels: Om uit te staan met karakter, om sterk te staan met ʼn doel en om saam te staan met mense.

“Ons is vandag hier om saam te ontdek oor leierskap, maar die belangrikste is om te staan: Staan uit. Staan sterk. Staan saam.” Sy het afgesluit met ʼn herinnering aan die waarde van verbondenheid: “Verskillende skole sit vandag om een tafel. Julle gaan mekaar nog lank ken, en dalk in die toekoms weer raakloop, en dis ʼn voorreg!”
ʼn Gemeenskap van ondersteuning
“Om ʼn jong leier in ons land te wees, vra vir moed. Dit vra nie vir mag nie. Dit vra vir ʼn mooi karakter. Dit vra nie vir beheer nie,” sê Hennie Bierman, hoof van Solidariteit se Netwerkplatform. “By vandag se geleentheid sien ek ʼn klomp jong mense wat hul roeping as leiers uitleef. Dit is vir ons as gemeenskap verskriklik belangrik om hulle hand te vat en hulle sterk te maak. Daarom is hierdie geleentheid vir Solidariteit só belangrik om die lig op hierdie jong mense se pad te skyn en om ʼn klip of twee uit hul pad te skuif sodat hulle hul roeping kan uitleef.”
Die studenteraad van Akademia en Sol-Tech het ook hierdie geleentheid bygewoon wat vir leerders die geleentheid gegee het om meer inligting te kry oor dié instelling en om te gesels oor studentelewe en wat hulle ná skool kan verwag.

Leiers wat die toekoms bou
Die geleentheid is afgesluit met heerlike kos, ʼn 360⁰-kamera vir foto’s en musiekvermaak deur Mionette Short.

“Ek sal definitief hierdie geleentheid vir toekomstige leiers aanbeveel. Ek het vandag baie geleer en ek is baie dankbaar dat ek hier kon wees,” sê Juan Ferreira, hoofseun van Afrikaanse Hoër Seunskool.

Lourens de Jager, hoofseun van Hoërskool Garsfontein, sê die insigte wat by die geleentheid met die leiers gedeel is, sal hy vir altyd in sy lewe kan gebruik. “Ek dink toekomstige leiers moet definitief hierdie geleentheid volgende jaar bywoon. Dit wat ons hier geleer het, is kosbaar – dit sal hulle beslis help met hulle termyn as leiers.”
Een ding is duidelik: Hierdie geleentheid het nie net oor ʼn ontbyt of ʼn toespraak gegaan nie, maar oor die viering van roeping, karakter en hoop – van jong mense wat besig is om die toekoms te bou.
Klik hier vir meer inligting oor Solidariteit se Skoliere-aanbod en hoe skoliere by hierdie produk kan baat vind vir die 2026-skooljaar.
