loading
avatar
Artikels
12 uur gelede
onderwyser-vs-leerder-wie-het-die-finale-se

Foto Krediet: OkayDeer

Onderwyser vs. leerder: Wie het die finale sê?

Johan van Eck

In elke klaskamer is daar ʼn ongesproke magsbalans tussen onderwysers en hul leerders. Daar word van onderwysers verwag om ʼn leier te wees, dissipline toe te pas en onderrig te gee aan leerders wat op hulle beurt geregtig is op ʼn veilige en respekvolle leeromgewing. Wanneer hierdie rolle omgekeer word ontstaan daar dikwels konflik. Die vraag is egter: wie het die finale sê in die klaskamer? Leerders se regte in die klaskamer word deur wetgewing beskerm, maar die onderwyser moet genoeg gesag hê om dissipline op ʼn korrekte manier te handhaaf.

Leerders se regte word duidelik omskryf en uiteengesit in, onder andere, die Suid-Afrikaanse Grondwet asook die Suid-Afrikaanse Skolewet (No. 84 van 1996). Alle leerders het die reg op basiese opvoeding, menswaardigheid, gelykheid en vryheid van diskriminasie of mishandeling. Die wetgewing bepaal dat geen leerder onregverdig behandel of benadeel mag word, of van geleenthede ontneem word binne die skoolomgewing nie. Geen leerder mag ook verneder, fisies gestraf of uitgesluit word nie. Die wetgewing is dus so geskryf om ʼn veilige en inklusiewe leeromgewing te bevorder.

Onderwysers aan die ander kant het terselfdertyd regte wat dikwels oor die hoof gesien word. Onderwysers het die reg tot ʼn veilige werksomgewing soos vervat in die Suid-Afrikaanse Skolewet. Hulle het ook die reg om deur leerders gerespekteer te word en om hul professionele pligte uit te voer sonder ontwrigting. Die Suid-Afrikaanse Skolewet bied beskerming aan onderwysers en omskryf die korrekte maatreëls en toepassing van dissipline asook algemene skoolreëls. Sonder die wetgewing sou onderwysers dit onmoontlik vind om op ʼn effektiewe wyse onderrig te bied.

Konflik in die klaskamer ontstaan wanneer hierdie verskillende regte met mekaar bots. Byvoorbeeld, wanneer ʼn ontwrigtende leerder gedissiplineer word, kan die leerder voel dat sy of haar regte geskend word. Aan die ander kant word ʼn onderwyser se reg om te onderrig geskend wanneer ʼn leerder of leerders aanhoudend die klas ontwrig. Vryheid van uitdrukking en kulturele verskille kan ʼn situasie in die klaskamer bemoeilik, en dit moeilik maak om te bepaal waar die gesag behoort te lê.

Die wet stel duidelike grense vir beide partye. Lyfstraf is byvoorbeeld streng verbode, wat beteken dat ʼn onderwyser nie fisiese straf as dissiplinêre maatreël kan gebruik nie. ʼn Onderwyser moet ten alle tye verseker om diskriminasie en magsmisbruik te vermy. Daar word egter van leerders verwag om skoolreëls na te kom en gesag te respekteer. Wanneer skoolreëls en gesag nie nagekom word nie kan dissiplinêre maatreëls toegepas word op ʼn regverdige wetlike wyse.

Geeneen van die twee partye behoort ʼn absolute mag oor die ander uit te oefen nie. Onderwysers moet egter praktiese gesag hê om hul klaskamer effektief te kan bestuur. Sonder die nodige toepaslike gesag breek die dissipline in die klaskamer af en ontwrig dit die leeromgewing. Die gesag moet binne die grense van die wet en met respek vir leerders se regte uitgeoefen word.

Die klaskamer funksioneer die beste wanneer daar ʼn balans tussen onderwysers se regte en leerders se regte is. Alhoewel wette vir beide partye bestaan en dit beskerming bied, is dit die onderwyser se verantwoordelikheid om met professionaliteit en billikheid te lei, en leerders se vrerantwoordelikheid om met respek teenoor die onderwyser op te tree. Slegs met hierdie balans in plek kan skole ʼn omgewing skep waar effektiewe onderrig en betekenisvolle leer kan plaasvind.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel