loading
avatar
Blogs
15 uur gelede
dirk-hermann-ope-brief-beste-skoolgemeenskap

Foto Krediet: Solidariteit

Dirk Hermann ope brief: Beste Skoolgemeenskap

Beste Skoolgemeenskap

In ʼn telefoongesprek met president Ramaphosa het hy my gevra wat ons kernprobleem met Bela is. My antwoord was dat dit die siel van ons gemeenskap aanval.

In Eugène Marais se boek, Die siel van die mier, beskryf hy hoe ʼn mierkolonie ʼn onsigbare siel het wat die miere saambind.

Afrikaanse onderwys is ons gemeenskap se siel. Ons moet dit beskerm. Dit is hoekom die Afrikaanse gemeenskap so sterk teen Bela gekant is; ons neem ons siel in beskerming.

As onderwys die siel van ons gemeenskap is, is die vraag: Wat is die hart van die Afrikaanse onderwysbedeling? Die antwoord is onderwysers.

Die Latynse woord vir skool is schola, wat niks anders is as die bymekaarkomplek van die onderwyser en die kind nie.

Dit is ʼn plek van oordrag van kennis, maar ook van waardes, kultuur en wysheid. Die onderwyser staan dus sentraal tot die vorming van ons kinders en ons gemeenskap. Onderwysers is die helde van ons gemeenskap.

Daar is egter nog ʼn element wat die siel van ons gemeenskap laat leef, naamlik ouers. Afrikaanse skole lééf deur hul ouers. Ouerbetrokkenheid en -deelname moet nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie; dit is wat ons gemeenskap onderskei.

Ouers het tot so ʼn groot mate by ons skole betrokke geraak dat die grootste deel van Afrikaanse skole se begrotings deur ouers befonds word.

Die grootste deel van hierdie befondsing gaan aan beheerliggaamonderwysers. Die ouergemeenskap voel instinktief aan: Ons moet beheer oor die schola neem deur die onderwyserskorps te versterk.

Beheerliggaamonderwysers is dus ʼn unieke groep; ons verwys na hulle as gemeenskapsonderwysers. Hulle werk buite departementele erkenningsooreenkomste, agentskapsfooie, beleide en prosedures. Hulle word deur honderde klein werkgewers, naamlik beheerliggame, in diens geneem.

Solidariteit is ʼn gemeenskapsorganisasie. Ons is ʼn groot netwerk wat ons gemeenskap op vele vlakke beskerm, insluitend onderwys. Openbare skole neem toenemend ʼn staatskarakter aan, met Bela as die simbool van hierdie verskuiwing. Namate taal, toelating en aanstellings wegbeweeg van die gemeenskap na die staat, raak die schola los van sy wortels. Solidariteit poog om die gemeenskapskarakter van die skool te beskerm. Dit is immers openbare skole, nie staatskole nie. Die Solidariteit Onderwysernetwerk se spesifieke – maar groot – taak is om breër ondersteuning aan onderwysers te bied op totaal ander vlakke as die tradisionele vakbond.

Ons sien onsself nie as mededingers met enigiemand nie. Ons bied eerder ʼn ander benadering tot die beskerming van ons gemeenskap se siel en die hart van onderwys. Ons gaan ʼn spesifieke fokus op gemeenskapsonderwysers handhaaf. Solidariteit staan stewig aan die kant van die gemeenskap.

  • • Om dit te kan doen, streef ons daarna om te help om ʼn bedeling te vestig wat gemeenskapsonderwysers (beheerliggaamaanstellings) versterk en beskerm. As ons onderwysers veilig en sterk is, is ons kinders – en ons gemeenskap – ook veilig, selfs vir nóg ʼn geslag.
  • • Ons wil, in vennootskap met beheerliggame, help om ʼn gesonde arbeidsverhoudingebedeling vir gemeenskapsonderwysers te vestig. Ons streef daarna om met die ouergemeenskap saam te werk, deur hul beheerliggame, om beste praktyke vir aanstellings, vergoeding en beleid te vestig en te bevorder – alles hand aan hand met skoolhoofde en bestuursleiers.
  • • Ons doel is om alternatiewe geskilbeslegtingsmeganismes te help vestig.
  • • Ons wil oplossings vind vir die uitdagings wat verband hou met mediese fondse en pensioene.
  • • Ons wil beheerliggame ondersteun waar drakoniese rasteikens op hulle afgedwing word.
  • • Ons wil bydra tot die opleiding van nuwe onderwysers deur Akademia.
  • • Ons wil saam met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) alle onderwysers toegang gee tot hulpmiddels en deurlopende opleiding.
  • • Ons wil skoolhoofde se hande versterk vir hul reusetaak.
  • • Ons gaan voortgaan om Bela en ander vorme van staatsvergrype teen te staan.

Ons gaan oor die volgende ses maande ʼn omvattende netwerk van vennootskappe, planne en aksiestappe aankondig om dit alles moontlik te maak.

Ons staan stewig in die middel van ons gemeenskap en ons sal die gemeenskap mobiliseer en fasiliteer om ons siel te beskerm – meer spesifiek die onderwyser, met ʼn fokus op gemeenskapsonderwysers. Onderwys is nie Solidariteit se taak nie, maar dit is ons taak om die gemeenskap te help om hul eie siel te beskerm. Elke ouer, elke onderwyser, elke skoolhoof en elke beheerliggaamlid het ʼn rol om te vervul. Dit is nie iemand anders se taak nie.

Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap, beheerliggame en veral onderwysers om op ʼn groot skaal aktief by ons betrokke te raak.

Ons sal self!

Skoolgroete

Dr. Dirk Hermann
Uitvoerende hoof: Solidariteit

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel