Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
7 uur gelede
al-87-agterstallige-rooiseelsertifikate-gereed-na-solidariteit-ingryping

Fotokrediet: OkayDeer

Deurbraak! Al 87 agterstallige rooiseëlsertifikate gereed ná Solidariteit-ingryping

Altesaam 87 gekwalifiseerde ambagslui vier die uitreiking van hul langverwagte rooiseëlsertifikate ná ingryping deur Solidariteit se Ambagnetwerk.

Nadat die arbeidshof aanvanklik bepaal het die 87 uitstaande sertifikate moet binne 20 hofdae uitgereik word, met die sperdatum van 20 Augustus 2026, het die proses stadig gevorder. Solidariteit het egter volgehou om druk toe te pas om te verseker elke betrokke ambagsman en -vrou ontvang die erkenning waarvoor hulle gekwalifiseer het.

Solidariteit het op 6 Augustus juis sy kommer oor die stadige vordering by die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) uitgespreek. Op daardie tydstip was slegs 13 van die 87 sertifikate uitgereik, met agt dae oor voor die sperdatum.

Geen amptelike antwoord of ontvangserkenning het gevolg nie.

Solidariteit het op 21 Augustus verneem die sertifikate is wél uitgereik. Ná ʼn verdere skrywe op 25 Augustus het die QCTO bevestig die sertifikate is deur die Nasionale Ambagsmodereringsliggaam (NAMB) na die staatsprokureur gestuur vir afhaal.

Volgens Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se Ambagnetwerk, is die uiteindelike uitreiking van al 87 sertifikate ʼn belangrike oorwinning vir die ambagslui wat lank daarvoor gewag het.

Daarsonder kan ambagslui dikwels nie aansoek doen vir gekwalifiseerde ambagsposte óf op relevante vergoeding aanspraak maak nie.

“Hierdie oorwinning behoort aan ons lede wat nie moed opgegee het nie. ʼn Rooiseëlsertifikaat is veel meer as net ʼn stuk papier. Dit is die amptelike erkenning van jare se opleiding, harde werk en vakmanskap. Hierdie ambagslui het daarvoor gewerk en hulle verdien om hul kwalifikasies in die hand te hê,” sê Pretorius.

Met al die sertifikate nou gereed, verskuif Solidariteit se aandag na die tweede belangrike deel van die hofbevel: ʼn rondetafelgesprek om die onderliggende probleme met die rooiseëlproses aan te pak en te voorkom dat ambagslui in die toekoms weer dieselfde probleme ervaar.

Ingevolge die hofbevel moet Solidariteit voor 30 September ʼn rondetafelgesprek tussen die 21 respondente fasiliteer. Die gesprek moet fokus op ʼn volhoubare oplossing vir die probleme in die rooiseëlproses.

Die QCTO moet vervolgens teen 28 Oktober ʼn omkeerplan, voortspruitend uit dié gesprek, ter tafel lê.

“Ons het nou ʼn tasbare oorwinning vir die 87 ambagslui, maar ons werk stop nie hier nie.

“Ons wil nie hê ambagslui moet oor ʼn paar maande of ʼn jaar weer met dieselfde probleem sit nie. Die rondetafelgesprek moet gebruik word om die stelsel reg te ruk,” sê Pretorius.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel