Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
2 dae gelede
solidariteit-loods-dringende-veldtog-om-suid-afrika-in-agoa-te-hou

Fotokrediet: Pexels

Solidariteit loods dringende veldtog om Suid-Afrika in Agoa te hou

Solidariteit het vandag ʼn dringende veldtog geloods om te verseker dat Suid-Afrika deel bly van die lys van begunstigde lande onder die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa).

Die organisasie het die Withuis genader met argumente oor waarom Suid-Afrika se deelname behou moet word. Dit volg nadat Solidariteit verneem het dat die Withuis met sy jaarlikse hersieningsproses van Agoa-begunstigdes begin het.

Daar is tans 32 lande wat as begunstigdes aangewys is.

Solidariteit het oor die jare aktief deelgeneem aan Agoa-prosesse wat terugstrek na die hernuwing van die wet in 2015 tydens die Obama-era asook onderhandelinge oor Suid-Afrika se deelname tydens die eerste Trump-administrasie en die Biden-administrasie.

Verlede jaar was Solidariteit intensief betrokke by steunwerwing om Agoa verder te laat verleng en om Suid-Afrika se deelname in 2026 te verseker. Daar bestaan egter tans groot onsekerheid en kommer oor Suid-Afrika se deelname vanaf Januarie 2027.

Solidariteit het die afgelope 12 jaar gereeld met die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika, die kantoor van die Amerikaanse handelsverteenwoordiger in Washington DC en lede van die Amerikaanse kongres saamgewerk om te verseker dat Agoa nie tot ʼn einde kom nie.

Tydens verskeie besoeke aan Washington is steun gewerf vir die verlenging van Agoa en vir Suid-Afrika se voortgesette insluiting. Die Solidariteit Beweging, insluitend Solidariteit en AfriForum, het verlede maand weer ʼn afvaardiging na die VSA gestuur om steun vir die verlenging tot einde Desember 2028 te werf en om die ekonomiese belang van Agoa vir gewone Suid-Afrikaners te beklemtoon.

Agoa bied aansienlike voordele vir Suid-Afrika. Die ooreenkoms skep gunstige handelsvoorwaardes wat uitvoere na die VSA ondersteun.

In 2024 was die waarde van Suid-Afrikaanse uitvoere na die Verenigde State R156,8 miljard. Handel met die VSA verskaf werksgeleenthede aan ongeveer 576 000 Suid-Afrikaners, met duisende afhanklikes.

Dit bevoordeel sektore soos die motorbedryf, landbou (insluitend sitrus), die chemiese bedryf en tekstiele, en help om mededingende pryse en marktoegang te verseker.

Suid-Afrika is die grootste begunstigde onder die Agoa-lande. Die land se uitsluiting sal nie net plaaslike werkers en ondernemings straf nie, maar ook die omvang en invloed van Agoa self verswak.

Om te verseker dat Suid-Afrika in 2028 op die lys van begunstigdes bly, is dit noodsaaklik dat die land aan die vereistes vir deelname voldoen en dat die diplomatieke geskil met die VSA bygelê word. Solidariteit versoek die Suid-Afrikaanse regering om dringend stappe te doen om aan hierdie vereistes te voldoen, die bilaterale verhouding te herstel en beleidsprobleme aan te spreek. Sonder konkrete optrede bly die risiko van uitsluiting tydens die jaarlikse hersiening hoog.

Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, sê Agoa is ʼn reddingsboei vir Suid-Afrikaanse werkers, ondernemings en uitvoerders.

“Ons het jare lank hard gewerk om Suid-Afrika se posisie te beskerm deur direkte skakeling in Washington. Die onlangse besoek het weer die ekonomiese belang vir gewone Suid-Afrikaners en Amerikaanse verbruikers beklemtoon.

“Ons het vandag die Withuis genader met duidelike argumente oor waarom Suid-Afrika deel moet bly. Ons versoek die regering om dringend die nodige stappe te doen om aan die vereistes te voldoen en die geskil met die VSA by te lê.

“Die werkers en gesinne wat van hierdie handelsgeleenthede afhanklik is, kan nie die prys betaal vir diplomatieke foute nie,” sê Kleynhans.

Solidariteit sal voortgaan om in Washington en plaaslik te werk om Suid-Afrika se handelsbelange te beskerm en druk uit te oefen vir beter betrekkinge met die VSA.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel