Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Onderwys-ekostelsel sal baat by Solidariteit-ooreenkoms met bekende konsultant
Solidariteit en Marius Botha-konsultante het ʼn nuwe samewerkingsooreenkoms gesluit wat die onderwysomgewing, en spesifiek die posisie van beheerliggaamonderwysers, ingrypend kan versterk.
Met dié ooreenkoms beoog Solidariteit om ʼn nuwe arbeidsverhoudinge-bedeling te help vestig vir onderwysers wat buite die departementele bestel funksioneer en as “gemeenskapsonderwysers” aan unieke uitdagings blootgestel word.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sal hierdie ooreenkoms voordelig vir skole en vir die onderwys in die geheel wees. Solidariteit se rol is egter spesifiek daarop gerig om vir onderwysers in te tree en beheerliggame te ondersteun.
“Solidariteit is ʼn gemeenskapsorganisasie, en as skole die siel van gemeenskappe is, is onderwysers die hart daarvan.
“Afrikaanse ouers is buitengewoon betrokke by skole, en ʼn groot deel van skoolbegrotings kom uit hul sakke deur skoolfonds en ander bydraes, waarvan ʼn groot deel juis gebruik word om beheerliggaamonderwysers aan te stel.
“Ouers besef hoe hul bydraes gehalteonderwys moontlik maak. Die onderwysers word dus die gemeenskap se onderwysers. Ons moet ʼn bedeling skep wat spesifiek hierdie onderwysers beskerm,” sê Hermann.
Die ooreenkoms met Marius Botha-konsultante, wat reeds jare lank diens aan die onderwyssektor lewer, is juis gesluit om tot dié bedeling by te dra.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, funksioneer beheerliggaamonderwysers dikwels buite bestaande departementele beleid en -modelle, en bestaan daar ʼn behoefte aan gestandaardiseerde ondersteuning en beskerming vir dié onderwysers.
“Ons doelwit is dus om die onderwys-ekostelsel hierdeur te verryk eerder as om in stryd met ander rolspelers te staan. Ons wil die belange van hierdie gemeenskapsonderwysers op ʼn wyer vlak as gewone vakbondwese beskerm deur saam met beheerliggame hande te vat.
“Ons beoog om ooreenkomste met beheerliggame aan te gaan om hulle met arbeidsverhoudinge-kennis te ondersteun en só vir onderwysers in te tree. Sodoende sal ons ook die gemeenskap dien waarbinne die skool gesetel is,” sê Botha.
Deel van die plan behels ook unieke ondersteuning aan skoolhoofde deur die vestiging van ʼn hoofdeforum, asook die ontwikkeling van ʼn kunsmatige intelligensiemodel wat spesifiek daarop gemik is om skoolhoofde in die Suid-Afrikaanse skoolomgewing te ondersteun.
“Skole kan verwag dat ʼn Solidariteit-organiseerder binnekort by hulle sal aanklop om met skoolhoofde, onderwysers en beheerliggame te skakel.
“Ons beskou hierdie ooreenkoms as noodsaaklik vir die toekoms van ons skole en die onderwys, en glo dit is die begin van ʼn nuwe era,” sê Botha.