Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Beskerm jouself en jou gesin – gebruik KI versigtig
Deur Leré Nel
Kunsmatige intelligensie (KI) het binne slegs ’n paar jaar ʼn integrale deel van ons alledaagse lewe geword. Ons gebruik dit vir alles:
“Chat, help my asseblief met hierdie skooltaak vir my kind.”
“Ek het weer vergeet om kruideniersware te gaan koop. Wat kan ek met twee piesangs en koeksoda aanmekaarslaan?”
“Vereenvoudig asseblief hierdie versekeringsdokumente en skryf ʼn e-pos daaroor.”
Ons vertroue in KI grens soms aan naïwiteit. Het jy al ooit daaraan gedink dat jy besig is om dikwels uiters persoonlike inligting op die wêreldwye web te deel? Wat is die gevolge as ons nie versigtig met hierdie hulpmiddels omgaan nie?
KI is nie kindervriendelik nie
Anders as baie tradisionele platforms het nuwer KI-programme nie altyd ouderdomsbeheer of inhoudfilters nie. Hierdie programme weet dikwels nie of dit ʼn kind of volwassene is wat besig is om die program te gebruik nie.
Wanneer ’n kind vir ʼn KI-program vrae vra, kan die antwoorde soms:
- • onakkurate inligting bevat;
- • inhoud insluit wat nie ouderdomsgeskik vir die kind is nie;
- • of perspektiewe bied wat kinders nie gaan weet hoe om krities te evalueer nie.
Omdat jonger kinders nog nie die diskresie ontwikkel het om inligting wat ʼn KI-stelsel vir hulle gee met ʼn knippie sout te neem nie, bestaan daar ʼn risiko dat hulle enigiets as waar kan aanvaar – en dit is gevaarlik.
Jou persoonlike inligting is in gedrang
Nog ’n groot risiko is die deel van persoonlike data.
Wanneer gebruikers met KI-programme gesels, deel hulle dikwels persoonlike inligting sonder om dit te besef. Dit kan insluit:
- • name, vanne en ouderdomme van die gebruiker en sy/haar gesin
- • inligting oor die skool waarin ʼn gebruiker se kinders is
- • adresse of ligging
- • persoonlike ervarings en probleme
- • inligting oor waar die gebruiker werk
KI-stelsels gebruik alle data wat vir hulle gevoer word om hul modelle te verbeter. Dit beteken dat persoonlike inligting soms gestoor of verwerk word op maniere waarvoor verbruikers nie toegestem het nie.
Dit kan lei na identiteitsdiefstal, spioenasie en die verlies van beheer oor die gebruik en privaatheid van jou eie data.
Digitale veiligheid begin by bewustheid
KI self is nie noodwendig die probleem nie. Inteendeel – dit kan ’n goeie hulpmiddel wees vir leer, kreatiwiteit en produktiwiteit.
Die uitdaging is dat tegnologie vinniger ontwikkel as wat die regulering daarvan kan byhou.
Daarom is dit belangrik dat:
- • ouers ʼn oog hou op die KI-toepassings wat hul kinders gebruik;
- • volwassenes én kinders leer om nie persoonlike inligting te deel nie; en
- • gebruikers leer hoe om krities te dink oor die antwoorde wat KI gee.
KI moet gesien word as ’n hulpmiddel; nié as ’n finale bron van waarheid nie.
’n Nuwe digitale werklikheid
Ons leef in ’n tyd waar tegnologie ongelooflike geleenthede skep – maar ook nuwe risiko’s.
Die gesprek oor KI gaan dus nie net oor tegnologie nie. Dit gaan oor jóú digitale veiligheid, privaatheid en die beskerming van die volgende generasie.
Wees daarom bewus van hoe jy KI gebruik – dit is dalk nie so skadeloos soos wat jy dink nie!