
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Beste Mediese Praktisyn, ʼn brief van dr. Dirk Hermann
Beste Mediese Praktisyn
Ons is almal diep bewus van die Nasionale Gesondheidsversekeringwet (NGV) wat pas deur president Ramaphosa onderteken is. Dié drakoniese wet is nou ʼn werklikheid.
Die NGV gaan mediese sorg ingrypend verander.Die NGV is nie bloot ʼn befondsingsmodel nie, maar ʼn omvattende staatsbeheerde gesondheidsorgmodel wat vir mislukking opgestel is.
Dit stel die regering in staat om alle aankope sentraal te doen, om te bepaal wat voorgeskryf kan word, wie dit mag voorskryf, waar dokters mag praktiseer, na watter dokter jy mag gaan en talle ander dinge. Alle mediese sorg word sentraal deur die regering bestuur.
ʼn Mens mag dalk argumenteer dit gaan nooit werk nie, maar dit stel die regering in staat om dit te doen.
Dit kan ons mediese sorg vernietig. Ons moet dié wet keer. Al wat tot ons beskikking oorbly, is litigasie.
As die wet geïmplementeer word, is ons permanent uitgelewer aan die genade van ʼn regering. Ons moenie in so ʼn posisie verkeer nie. My ervaring van die regering is dat hulle eers iets vernietig voordat hulle agterkom dit werk nie.
Dit gaan tot onsekerheid, disinvestering in mediese sorg en die verlies van honderde mediese praktisyns lei. Die blote aanvaarding van die wet gaan tot groot skade lei.
Geen aspek van mediese sorg gaan dit vryspring nie. Die bos in die mediese sektor gaan brand en almal wat in die sektor betrokke is gaan in die proses ook brand.
Solidariteit gaan die wet tot in die hoogste hof beveg. Ons het al ʼn senior advokaat en ʼn regspan aangestel. Ons het reeds met ʼn regsproses teen die NGV-wet begin. Ons staan dus op namens die mediese professie. Ons moet minstens R2,5 miljoen vir die litigasie begroot. Dit kan meer beloop as ons kostebevele teen ons kry. Ons neem ʼn groot, maar goed berekende risiko. Ons het ook die koste daarvan bereken as ons die kwessie net laat vaar.
Ons staan op vir die professie, maar vra die professie om ons te steun. Geen dokter, apteker, hospitaal of enige praktyk of mediese praktisyn kan die saak op hulle eie voer en bekostig nie, maar almal kan minstens bydra om so ʼn saak moontlik te maak.
Deur ʼn bydrae te maak, al is dit klein, steun u ook ons kollektiewe litigasie. Ons wil namens honderde mediese praktisyns optree. Hoe meer ondersteuning, hoe sterkter is ons in die hof. Dit is tyd om op groot skaal saam te staan. Ons wil u dus vra om ʼn bedrag tot die NGV-regsfonds by te dra. Dit gaan ʼn groot hofstryd wees en die staat het byna onbeperkte toegang tot ons belastinggeld vir hul litigasie.
Dink u in wat die alternatief gaan wees as niemand vir die mediese professie opstaan nie!
Solidariteit sal opstaan, maar meen dit is billik as die professie ons in staat stel om dit te doen.
Word deel van die litigasie!
Klik op die skakel om die bydrae van u keuse te maak:
https://veldtogte.solidariteit.co.za/ngv-donasieblad/
U kan verseker wees dat die fonds aan ons kant streng bestuur sal word. Stuur asseblief hierdie boodskap so wyd as moontlik aan.
Vriendelike groete
Dr. Dirk Hermann
Bestuurshoof: Solidariteit