loading
Artikels
7 uur gelede
miljoene-rande-aan-hulpverlening-nooit-aangewend-terwyl-gemeenskappe-ly

Foto Krediet: Okay Deer

Miljoene rande aan hulpverlening nooit aangewend terwyl gemeenskappe ly

Deur Heléne Mocke

Terwyl gemeenskappe landswyd onder omstandighede van uiterste armoede gebuk gaan,  het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) onlangs miljoene rande ongebruik aan die nasionale tesourie teruggegee – geld wat oorspronklik bestem was om hulp aan die mees kwesbare persone in Suid-Afrikaners te bied.

Volgens Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk is dié terugbetaling nie bloot ’n begrotingstegniek nie, maar ’n skreiende voorbeeld van staatsverwaarlosing. Waar dié fondse moes bydra tot kritieke dienslewering en welsynsprogramme ten bate van behoeftiges, is dit nou eenvoudig daarmee heen. 

Die uiteindelike gevolg daarvan is dat baie instellings se deure moet sluit, of dat poste gesny moet word wat kwesbare mense sonder ondersteuning agterlaat.

“Die krisis in die sektor is duidelik. Maatskaplike werkers is oorwerk, onderbetaal en onbeskermd en dan word fondse wat juis vir die sektor bestem is ook nog in onbruik gelaat,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Dié beroep word verder deur agterstallige subsidies, politieke traagheid en publieke stigmatisering beledig. Ervare professionele persone verlaat gevolglik die sektor, terwyl minder jong mense bereid is of kans sien om dié uitdagende loopbaan te betree.

“Ons staan op die rand van die ineenstorting van maatskaplike dienste in Suid-Afrika. Die mense wat daargestel is om ander te help, word self aan hul eie lot oorgelaat,” sê Smit.

Solidariteit het reeds verskeie aksies van stapel gestuur om die DMO verantwoordelik te hou:

  • ’n Amptelike skrywe is aan die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng gerig oor die aanhoudende subsidiekrisis.
  • Solidariteit se regspan ondersoek moontlike regsaksie teen die DMO weens nalatigheid.
  • ’n Verslag is aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (SACSSP) voorgelê oor die nie-implementering van subsidies.
  • ’n Nasionale Toekomsberaad sal binnekort gehou word om volhoubare oplossings te bespreek rondom befondsing, beleidshervorming en werksverhoudinge. Belangstellendes kan gratis registreer by www.toekomshoop.co.za.

Smit sê die situasie is veel ernstiger as wat die meeste mense besef.

“Wanneer maatskaplike werkers verdwyn, verdwyn hoop saam met hulle,” sê Smit. “Ons doen ʼn beroep op alle maatskaplike werkers om by ons netwerk aan te sluit. Ons moet nou meer as ooit saamstaan.

“Die netwerk is ’n veilige hawe waar hulle werk en waardigheid beskerm en bemagtig word, want die owerhede gaan dit beslis nie doen nie,” sê Smit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel