
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Kantoorkampioen 2025: Vier ons stille kantoorhelde saam met Solidariteit
Deur Kyla-Ann du Toit
Elke kantoor het ʼn geheime wapen – iemand wat sorg dat dinge seepglad verloop, met ʼn glimlag die chaos in orde verander en wat nooit erkenning vra nie: ʼn adminkryger, ʼn spanondersteuner en ʼn strategiese spil waarom die werkplek draai. Vanaf Augustus 2025 gee die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk erkenning aan dié onmisbare mense – kantoorpraktisyns – met die jaarlikse Kantoorkampioen-kompetisie.
Waarom is hierdie toekenning waardevol?
Die Kantoorkampioen-kompetisie vier kantoorpraktisyns wat hul beroep met trots, integriteit en grasie uitleef. Hierdie toekenning is nie net ʼn goue ster op papier nie, maar ook ʼn simboliese bladskud aan ʼn persoon wat dikwels agter die skerms werk, maar wat só noodsaaklik is.
“Die Kantoorkampioen-kompetisie is nie net ʼn viering van administratiewe uitnemendheid nie, maar ook ʼn geleentheid om die ongesiene helde in die werkplek vir hul harde werk te vereer en te bedank,” sê Mari Ferreira, organiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk.
“Kantoorpraktisyns is die hart van elke onderneming, en hierdie kompetisie wys dat die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk hulle waarde raaksien, erken en vier! Hierdie kompetisie gaan oor trots, prestasie en die bou van ʼn gemeenskap waar elke adminkryger met selfvertroue kan sê: ‘Ek is belangrik, ek maak saak en ek dra by!’”
Die kantoorkampioene van 2024
Die topdrie-kantoorkampioene van 2024 het almal een ding gemeen: nederigheid.
Anne-Marie Nel speel ʼn kritieke rol in die funksionering van haar organisasie en vind groot vervulling in haar werk. “Ek kry die geleentheid om uitdagings aan te pak en probleme op te los, wat my vermoë om krities te dink en oplossings te vind, versterk.” Dit was vir haar ʼn “ongelooflike voorreg” om een van die topdrie-kantoorkampioene vir 2024 te wees.
Maryna Botha het haar toekenning met groot verbasing en trane in haar oë ontvang. “Elke dag is ʼn leerproses en ek glo dat goeie kommunikasie en luistervermoë die belangrikste vaardighede vir ʼn kantoorpraktisyn is.” Haar dankbaarheid met die ontvangs van die toekenning was tasbaar.
Berné Grobler is as die Kantoorkampioen van 2024 bekroon en sy het die toekenning met groot opwinding en geesdrif ontvang. Berné glo dat sy nooit alleen staan nie, en meen dat sy en haar span hoë bergspitse saam kan uitklim. “Sonder my span kan ek nie hierdie doen nie. Dit is ʼn berg wat ons saam geklim het,” het sy met die ontvangs van haar toekenning beklemtoon.
Die simboliek van die wisseltrofee, wat jaarliks aan die wenner oorhandig word, beklemtoon dat hierdie eer bly voortleef en dat elke nuwe wenner in die voetspore van inspirerende voorgangers volg.
Laat ʼn kantoorkampioen skitter
Nominasies vir 2025 se Kantoorkampioen-kompetisie is nou oop. Of hulle ʼn kantoorbestuurder, ontvangspersoon, assistent of datavaslegger is, hierdie is jou kans om ʼn kantoorkampioen te laat skitter!
En daar is nóg goeie nuus: die nomineerder kan ʼn prys wen! Hierdie kompetisie is ʼn ware viering van wedersydse waardering, want beide die kampioen én hul ondersteuners word raakgesien. Nominasies sluit op 19 September 2025 om 17:00 en kan aanlyn op Solidariteit ingedien word. Die wenner sal by Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid later vanjaar aangekondig word.
Klik hier en nomineer vandag nog jou Kantoorkampioen vir 2025. Laat jou kantoorkampioen skitter!