
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit kondig vyfpunt-tariefplan aan ná regering VSA-verhouding aan skerwe laat
Solidariteit het vandag ʼn vyfpunt-tariefplan aangekondig om die gevolge van Suid-Afrika se handelstariefkrisis met die VSA aan te spreek.
Eerstens het Solidariteit reeds ʼn dringende gesprek met die regerings van presidente Cyril Ramaphosa én Donald Trump versoek om die skerwe van ʼn gebroke handelsverhouding tussen Suid-Afrika en die VSA namens Suid-Afrikaners te probeer optel. Solidariteit het reeds uitgebreide voorstelle aan beide regerings gemaak maar glo gesprekke met die Ramaphosa- en Trump-regerings is noodsaaklik.
Voorts gaan Solidariteit met ʼn nuwe aksieplan vorendag kom om sy eie lede se werk te beskerm. Solidariteit wil ook ondersteuning bied aan werknemers wie se werk met onmiddellike effek geraak gaan word deur die 30%-invoertarief wat Amerika op Suid-Afrikaanse goedere geplaas het.
Wanneer die tarief later vandeesweek inskop, gaan die pynlike gevolge daarvan oornag in verskeie bedrywe in Suid-Afrika gevoel word. Afleggings en sluitings sal die onvermydelike korttermynreaksie vir talle ondernemings in veral die motorvervaardiging- en landboubedrywe wees.
Sedert die amptelike aankondiging van die tarief deur die VSA op 1 Augustus, het uitsprake daaroor uit die Ramaphosa-kamp hoegenaamd geen vertroue gekweek dat Suid-Afrika die nodige toegewings gaan maak, of wysheid aan die dag gaan lê om op die nippertjie vir ʼn beter ooreenkoms te onderhandel nie.
Dit terwyl ander Afrika-lande, waaronder al ons buurlande, wel betyds samesprekings met hul Amerikaanse eweknieë gevoer het om beter invoertariewe vir húlle te verkry. Suid-Afrika het met die mees ongunstige handelstarief van álle Afrika-lande geëindig.
Onthullings dat Suid-Afrika se spesiale gesant na die VSA, Mcebisi Jonas, sedert sy aanstelling in April vanjaar nog nie eers ʼn voet in die VSA gesit nie, het ook enige hoop laat kwyn dat die Suid-Afrikaanse regering met dringendheid ter wille van sy landsburgers gaan wil intree.
Terwyl Ramaphosa se regering op elke terrein van internasionale skakeling misluk, het die Solidariteit Beweging en ander organisasies, wat politieke partye insluit, reeds vroeg vanjaar besoek aan die VSA afgelê om Suid-Afrikaners teen die impak van dreigende Amerikaanse strafmaatreëls te probeer verskans.
Danksy hierdie rolspelers se pro-aktiewe deelname was dit vir Ramaphosa duidelik wat hy moes doen om die handelsverhouding, insluitend die bestaande Agoa-ooreenkoms, te beredder.
In ʼn verslag wat die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) pas uitgereik het word daar uiteengesit watter eenvoudige stappe die Suid-Afrikaanse regering sonder te veel moeite sou kon neem om in ʼn beter lig voor die Amerikaners te staan.
Onder die kwessies wat aangespreek kon word, is: die wetlike beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika, die erns waarmee plaasmoorde aangespreek word, die veroordeling van haatspraak teenoor plaasboere (“Kill the Boer”), die vrystelling van Amerikaanse maatskappye van SEB-rassewette, die uitfasering van rassewette oor die algemeen, ware neutrale buitelandse beleidsrigtings en daadwerklike pogings om die Agoa-handelsooreenkoms of beter bilaterale ooreenkomste die lig te laat sien.
Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, sê dié organisasie was een van verskeie rolspelers wat bereid was om húlle invloed en kontakte te gebruik om ʼn beter toekomstige ooreenkoms vir Suid-Afrika en sy mense te beding.
“Ongelukkig het dit vereis dat die ANC van enkele van sy uitgediende ideologiese beleidsrigtings afstand sou moes doen en dat hy bereid sou moes wees om hulp te aanvaar van organisasies en partye wat nie in sy dampkring staan nie.
“Dit was egter te veel gevra en sedertdien het ons gesien hoe die ANC die toekoms van die land se mees kwesbares vir sy eie behoud sal opoffer. Die ANC se hantering van die VSA-kwessie is niks minder as ʼn daad van geweld teen Suid-Afrika en sy mense nie,” sê Kleynhans.
Solidariteit is ook die afgelope paar dae in gesprek met politieke partye, ander vakbonde en verskeie burgerlike organisasies oor hoe daar saamgewerk kan word om die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika te help besleg, maar ook tussentydse maatreëls te implementeer om bedrywe en gemeenskappe by te staan.
Solidariteit gaan eersdaags weer na die VSA reis om met belangegroepe in gesprek te tree en hoop dat die Suid-Afrikaanse regering voor dan sal besef wat die erns van die situasie is.
Solidariteit se vyfpunt-tariefplan bestaan uit die volgende punte:
1. Skakel met die SA regering.
2. Skakel met die VSA-regering.
3. Ondersteun mense wat hulle werk verloor en help hulle om ander werk te kry.
4. Werk saam met ander organisasies om ʼn breë netwerk daar te stel wat kan help om die verhouding tussen die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings te help besleg, maar ook Suid-Afrikaanse bedrywe wat geraak word te ondersteun.
5. Stel ‘n barometer op wat die impak van die tariefverhogings op bedrywe uitbeeld.
Hierdie tariefplan sluit ook aan by die groter Solidariteit Beskermingsplan wat onlangs uitgereik is en waarmee lede op verskeie fronte teen verwagte plaaslike en internasionale onstuimigheid beskerm gaan word.