

Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Twee weke van drama agter die skerms van die Withuis
Deur dr. Dirk Hermann
Dit was twee weke van drama agter die skerms van die Withuis. Die spanning rondom die onderhandelinge vir ʼn handelsooreenkoms het opgebou.
Solidariteit het op 1 Augustus ʼn voorgestelde handelsraamwerk aan presidente Trump en Ramaphosa gestuur. President Ramaphosa het ons geïgnoreer, maar die Trump-administrasie het dit vriendelik ontvang en was bereid om ons te ontmoet.
Solidariteit het hierdie handelsraamwerk in die openbaar gepubliseer en dit dien as sy agenda vir die Amerikaanse toer. Sentraal tot die agenda is werkende mense, die ekonomie en die land.
Solidariteit het sy handelsraamwerk onder andere aan die Withuis voorgehou.
Terselfdertyd was die Suid-Afrikaanse regering se afvaardiging ook in Washington om voorstelle vir ʼn handelsooreenkoms te maak. Die regering se denkfout in die ooreenkoms was dat Amerika oortuig sou word deur invoervoorstelle, terwyl Amerika eers ʼn politieke ooreenkoms wou hê, sodat Amerikaanse maatskappye sonder beperkings in Suid-Afrika kan handel dryf. Daarvoor is veral die waarborg van eiendomsreg en die vrystelling van swartbemagtigingswette, wat die VSA as nie-tariefbeperkings beskou, noodsaaklik.
Die Suid-Afrikaanse regering het die verwagting geskep dat ʼn handelsooreenkoms bereik kan word. Daar is selfs gesê dat presidente Ramaphosa en Trump mekaar by die VN-beraad in New York sou ontmoet. Van hierdie verwagting het niks gekom nie. Die boodskap wat ons ontvang het, was presies die teenoorgestelde: Die Amerikaners se frustrasie met die Suid-Afrikaanse regering bou eerder op.
Ons het toegang tot die Amerikaanse regering en weet wat hulle wil hê. Danksy uitgebreide onlangse skakeling deur Solidariteit en AfriForum met verskillende vlakke van die VSA-regering, kon ons die noodsaaklike elemente bepaal wat in ʼn handelsraamwerk vervat moet word.
Ná ons eerste gesprekke met die VSA se departement van buitelandse sake, die Withuis en verskeie lede van die Kongres, het ons besef ons sal weer moet probeer om met die Suid-Afrikaanse regering te praat.
Ons handelsraamwerk is positief ontvang, maar die frustrasie met die Suid-Afrikaanse regering was voelbaar.
Omdat ons geweet het dat die voorwaardes nie tans in plek is vir ʼn ooreenkoms tussen die twee lande nie, het ons gevra dat president Trump ʼn uitvoerende bevel teken wat verligting aan sekere sektore bied.
Ons het voorgestel dat die bestaande Agoa-kodes as riglyn gebruik word. Ons het ook gevra dat individue gestraf moet word eerder as die hele land. Hierby het AfriForum ʼn dossier oor Malema oorhandig.
Die uitvoerende bevel sal ʼn tydelike ingryping wees terwyl ʼn finale handelsooreenkoms onderhandel word. Intussen moet druk op die Suid-Afrikaanse regering gehandhaaf word om aan die politieke voorwaardes vir ʼn handelsooreenkoms te voldoen.
Ons het verskeie kere en deur verskeie kanale gepoog om vir Alistair Ruiters, beleggingsadviseur van president Ramaphosa, te kontak, maar sonder sukses. Ek het selfs persoonlike boodskappe aan die presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya en Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, gestuur – ook sonder sukses.
Vir ons was dit dringend, want ons het gesien hoe die regering se onderhandelinge skipbreuk ly. Suid-Afrika het dringend ʼn handelsooreenkoms nodig. Ons ontvang bykans daagliks afleggingskennisgewings, en ons weet die krisis lê nog voor. Vir ons gaan dit oor regte mense se werk, families se krisisse en gemeenskappe se nood.
In plaas daarvan om met ons te praat, val die regering ons aan. Minister Lamola sê ons is verdelend en anti-demokraties. Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, sê die hoogverraadondersoek teen die leiers van Solidariteit en AfriForum word as ʼn prioriteit hanteer.
Na aanleiding van die uitsprake van die ministers, het die Withuis Jaco Kleynhans gevra om hulle weer te ontmoet. Jaco moes sy toerplan aanpas en het van Dallas, Texas na Washington D.C. teruggevlieg. Dáár het verteenwoordigers hom gevra om hulle verder toe te lig oor die ministers se uitsprake, asook om verdere inligting oor Solidariteit se voorgestelde handelsraamwerk te verskaf. Ons het vir die eerste keer besef dat die kans vir nóg hoër tariewe selfs groter is as dié vir ʼn handelsooreenkoms.
President Ramaphosa se toespraak by die VN het Suid-Afrika geen guns bewys nie. President Trump is subtiel aangeval en daar is wéér duidelik kant teen Israel gekies. Ons indruk was dat die Palestynse saak vir president Ramaphosa veel belangriker is as die werk van mense in Suid-Afrika.
Terwyl daar aan die kant van die VN-beraad ʼn tariefooreenkoms met Trump onderhandel moes word, is hy in die raadsaal aangeval. Daarbenewens het Suid-Afrika uitgestap toe Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sy toespraak gelewer het.
Nadat Jaco Kleynhans na Texas teruggekeer het, is verdere toeligting deur die Withuis aangevra. Ons moes twee maal daarna toeligting gee en het beklemtoon hoe verligting aan sektore gegee kan word en wat vir Suid-Afrika moontlik is binne die Grondwet en wetgewing.
Ons belang is ʼn handelsooreenkoms en nie ʼn dispuut tussen die VSA en Suid-Afrika nie.
Intussen het verskeie anonieme bronne beweer dat ʼn handelsooreenkoms in Oktober bereik gaan word en dat Agoa verleng gaan word. Ons kon egter geen van dié bewerings bevestig nie.
Die opgewondenheid oor Agoa is vreemd, want tariewe troef Agoa. Die fokus moet op ʼn handelsooreenkoms wees. Daar is ook nie sprake dat daar vinnig ʼn nuwe Agoa-wet ter tafel gelê gaan word nie.
Daar is ook beweer dat daar verlede Dinsdag by Gary Player se verjaarsdagpartytjie ʼn poging sou wees om ʼn nuwe handelsvoorwaarde aan president Trump voor te hou. President Trump het egter nie die partytjie bygewoon nie en die plan het deur die mat geval.
Ons is baie bekommerd oor die rigting waarin die Suid-Afrikaanse regering met die tariefonderhandelinge beweeg. Hulle doen alles wat nodig is om ʼn ooreenkoms te keer.
In ʼn verdere poging om die Suid-Afrikaanse regering van die krisissituasie in te lig, het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, ʼn dringende brief aan president Ramaphosa gestuur.
Daarin het Buys geskryf oor die erns van die krisis en die moontlikheid van nog straftariewe. Hy het ook presies aan Ramaphosa verduidelik wat nodig is vir ʼn handelsooreenkoms.
Daar is verder daarop gewys dat alles binne die Grondwet, wetgewing en regulasies moontlik is. Dit is dus geensins ʼn inbreuk op die soewereiniteit van die staat nie.
Al wat in die pad van ʼn handelsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse regering en Amerika staan, is die politieke wil van die ANC-geleide regering.
Daar is drie moontlikhede: Eerstens dat ʼn gunstige ooreenkoms gesluit word en tariewe verlaag word; tweedens dat die tariewe dieselfde bly; en derdens dat die tariewe verhoog word. Soos die Suid-Afrikaanse regering tans aangaan, is die derde opsie nie onmoontlik nie.