

Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Departement sleep voete oor poste – onsekerheid bedreig onderwysers én skole
Deur Robin-Lee Maré
’n Ernstige onderwyskrisis dreig in Suid-Afrika nadat verskeie provinsies nie hul postevoorsiening betyds aan skole deurgegee het nie.
’n Hofuitspraak in 2011 het bepaal postevoorsiening moet teen 30 September aan skole beskikbaar gestel word. Hierdie bepaling is noodsaaklik, aangesien personeel- en finansiële beplanning direk daarvan afhanklik is. Die Departement van Basiese Onderwys se versuim om die sperdatum na te kom, dwing skole tot in ’n posisie vanwaar hulle nie vooruit kan beplan nie.
Volgens Henco Breytenbach, netwerkkoördineerder by Solidariteit se Onderwysernetwerk, plaas die huidige onsekerheid oor postevoorsiening onnodige druk op onderwysers en skole.
“Onderwysers werk reeds onder geweldige druk. Wanneer hulle boonop nie sekerheid oor hulle poste het nie, raak dit nie net hul eie loopbane nie, maar ook die stabiliteit van hele skoolgemeenskappe,” sê hy.
Hy beklemtoon verder dat die gebrek aan duidelikheid rampspoedige gevolge kan hê. “Wanneer ’n onderwyser nie weet of hy of sy volgende jaar nog ’n pos het nie, raak dit hulle vermoë om met oorgawe te beplan en leerders te onderrig. Hierdie onsekerheid het ’n direkte impak op leerders, wat uiteindelik die grootste prys betaal.”
Fedsas voer intussen aan dat die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, hiermee beheer oor die situasie verloor het. Die vertraging veroorsaak wydverspreide onsekerheid by skole en onderwysers, wat reeds met begrotingsbeplanning vir 2026 besig is.
Breytenbach waarsku op sy beurt dat die vertraging nie net ’n administratiewe probleem is nie, maar ’n fundamentele bedreiging vir die gehalte van onderrig.
“Tydige postevoorsiening is nie bloot ’n formaliteit nie – dit is die grondslag waarop skole hul hele funksionering baseer. Sonder dit kan geen skoolgemeenskap stabiliteit handhaaf nie.”
Die krisis beklemtoon weereens die noodsaak vir groter aanspreeklikheid en beter bestuur binne die Departement van Basiese Onderwys.
Solidariteit doen daarom ’n dringende beroep op die minister van basiese onderwys om onmiddellik sekerheid te bied oor postevoorsiening.
“Elke dag se vertraging saai groter onsekerheid, ruk aan die stabiliteit van skole en tas die kwaliteit van onderrig aan. Die minister het die plig om te verseker dat wetlike verpligtinge nagekom word, en dat onderwysers en leerders nie langer die slagoffers van swak bestuur is nie,” sê Breytenbach.