

Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit pak oorvol klasse en nuwe regulasies aan
Deur Lize-Mari Verster
Elke onderwyser ken die realiteit van ʼn oorvol klaskamer: Die stryd om dissipline te handhaaf, die onmoontlike taak om elke leerder individuele aandag te gee, en die knaende gevoel dat kwaliteit onderrig verlore gaan. Hierdie daaglikse uitdagings is besig om in ʼn volskaalse krisis te ontaard. Nuwe voorgestelde regulasies deur die Departement van Basiese Onderwys (DBO) dreig boonop om die situasie onherroepelik te vererger. Solidariteit staan egter gereed om vir onderwysers, leerders en die toekoms van gehalteonderrig te veg.
Die kern van die probleem is nie onvoldoende beplanning deur skole nie, maar eerder die regering se versuim om sy plig na te kom. Johnell Prinsloo, onderwysnavorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut sê dat, “klasse is oorvol omdat kapasiteitsbepaling t.o.v. die hoeveelheid skole wat nodig is om aan die onderwysbehoefte van kinders in SA te voorsien, nie deur die departement gedoen word nie.” Die werklikheid is dat die aantal skole in Suid-Afrika afgeneem het terwyl die bevolking gegroei het, en die DBO het nie hiermee tred gehou nie.
Die gevolge van ʼn krisis
Die impak van oorvol klaskamers is verwoestend. Alhoewel nasionale statistieke ʼn gemiddeld van 33 tot 35 leerders per onderwyser toon, weerspieël dit nie die werklikheid nie. Die realiteit in talle skole is klasse met ongeveer 50 leerders waar kinders op tafels en op die vloer moet sit.
Prinsloo verduidelik dat dit ʼn ongesonde leerkultuur skep. “Dit is uiters moeilik om ʼn leerkultuur in ʼn oorvol klaskamer te vestig. Te veel tyd gaan verlore in die poging om dissipline te handhaaf. Om elke individu te leer ken en persoonlike aandag te gee, word onmoontlik en uiteindelik word gedrag saam met die akademiese vordering toenemend ʼn groter uitdaging.” Dit lei daartoe dat kernkonsepte, veral in wiskunde en in die grondslagfase, nie behoorlik vasgelê word nie, wat leerders se toekomsopsies ernstig beperk.
ʼn Nuwe bedreiging: Regulasies wat magte stroop
Te midde van hierdie krisis het die minister van onderwys twee stelle nuwe regulasies vir kommentaar gepubliseer, wat op die toelating van leerders en die kapasiteit van openbare skole fokus. Solidariteit is van mening dat hierdie regulasies onbillik, onuitvoerbaar en ʼn direkte aanval op die outonomie van skole is.
Die voorgestelde regulasies poog om ʼn gesentraliseerde bloudruk vir kapasiteit op alle skole af te dwing, sonder om die unieke omstandighede en uitdagings van elke skool te erken. Prinsloo waarsku: “Hierdie regulasies maak inbreuk op die beheerliggaam se magte en verantwoordelikhede om die skool effektief te kan bestuur in die beste belang van die leerders, onderwysers en kwaliteit onderrig te verseker.” Dit is ʼn poging om beheer van skole weg te neem en dit in die hande van die departement te sentraliseer.
Solidariteit veg terug
Onderwysers is nie alleen in hierdie stryd nie. Solidariteit is reeds betrokke by hierdie geveg teen die vernietigende Bela-wet en is tans besig om omvattende kommentaar op te stel teen hierdie nuwe kapasiteitsregulasies. Die boodskap is duidelik: Die toekoms van ons kinders en die werkplek van ons onderwysers is op die spel.
Prinsloo bevestig Solidariteit se onwrikbare standpunt: “Ons sal voortgaan om ʼn deurslaggewende rol te speel en sal op geen stadium huiwer om te litigeer indien onbillikheid op skole afgedwing word, en die werk en veiligheid van onderwysers en leerders bedreig word nie.”
Jou stem is van kardinale belang. Dit is in die beste belang van elke skool om kommentaar te lewer op die praktiese uitvoerbaarheid en billikheid van hierdie regulasies. Deur by Solidariteit se Onderwysernetwerk aan te sluit, word jou stem deel van ʼn magtige, kollektiewe stem wat opstaan vir regverdigheid. Saam kan ons veg vir ʼn toekoms waar elke klaskamer ʼn plek van gehalteonderrig is, en nie ʼn oorlewingsplek nie.
Raak tuis by Solidariteit se Onderwysernetwerk en veg saam.