loading
Mediaverklarings
1 maand gelede
beter-gesondheidsorg-vir-almal-in-sa-en-dit-sonder-die-ngv

Foto Krediet: Solidariteit

Beter gesondheidsorg vir almal in SA en dit sonder die NGV

ʼn Konsepvoorstel vir ʼn verbeterde gesondheidsorgstelsel wat die druk op die sukkelende openbare stelsel verlig terwyl dit toegang tot luukser  privaat sorg vergroot, is vandag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) uitgereik.
Terwyl die debat voortwoed oor die Nasionale Gesondheidsversekeringswet wat vanjaar deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is, het die SNI besluit om nie net teen die NGV te vég nie, maar ook om met opbouende voorstelle en oplossings van sy eie vorendag te kom.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die SNI, is daar verskeie redes waarom die NGV selfs meer skadelik as Suid-Afrika se huidige gesondheidsorgstelsel sal wees.
“In hierdie voorstel van Solidariteit vergelyk ons al drie hierdie stelsels: Ons kyk hoe lewensvatbaar die huidige stelsel, die NGV en óns voorgestelde stelsel is. 
“Suid-Afrika beskik tans oor universele gesondheidsorg waar diens en infrastruktuur erg tekort skiet. Op sy beurt is die NGV sonder die nodige beplanning en begroting daarvoor uitgedink en dit sou, onder meer, die staat bankrot maak, sou die regering dit implementeer.
“Daarom was dit nodig om ʼn nuwe stelsel te bedink wat op die huidige stelsel én die NGV-idee verbeter. So ʼn stelsel versprei gesondheidsorgfinansiering onder baie rolspelers, en kan die probleem van lae gehalte in die openbare stelsel en onbekostigbaarheid in die privaat stelsel, die hoof bied,” sê Du Buisson.
In die konsepdokument dui die SNI aan hoe individue maandeliks minder sou betaal as in ʼn land onder ʼn NGV-stelsel , en ook minder verskuldig sou wees as wat die huidige stelsel van hulle sou vereis. Dit alles terwyl beter mediese sorg in die vooruitsig gestel word.
Solidariteit weet die NGV is beslis nie die oplossing vir die probleme wat Suid-Afrika met gesondheidsorg ervaar nie.
Daarom is ʼn hofaansoek teen hierdie ongrondwetlike, onwerkbare en onbekostigbare NGV-stelsel gebring.
Hierdie hofaksies gaan Solidariteit ongeveer R2,5 miljoen uit die sak jaag, en daarom word ʼn beroep op die publiek gedoen om die regstryd sover moontlik te ondersteun.
Vind die volledige NGV-alternatief, soos opgestel deur SNI, hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel