Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Suid-Afrika en die G20-voorsitterskap
Hoekom is daar so ‘n ophef oor die G20-beraad wat in November vanjaar in Johannesburg plaasvind?
Is dit ‘n goeie of ‘n slegte ding dat die wêreld se oë vir hierdie tydperk op Suid-Afrika gevestig is?
Myrtle Endley verduidelik:
Die G20-beraad in November is beduidend omdat Suid-Afrika die eerste Afrika-land is wat dit aanbied. Dit is ’n belangrike geleentheid om die kontinent se posisie in globale strukture te versterk en groter inspraak in wêreldekonomiese besluitneming te verkry. Die geleentheid skep ook die moontlikheid om internasionale vertroue te herstel, belegging aan te moedig en groter ekonomiese integrasie binne Afrika te bevorder.
Die wêreld se aandag tydens die G20 is vir die regering problematies. Dit vestig die fokus op jarelange wanbestuur, korrupsie en beleidsrigtings wat toenemend diskriminerend teenoor minderhede is. Hierdie kwessies saam met die gespanne verhouding met die VSA, verswak die beeld wat die regering probeer handhaaf. Dit bied terselfdertyd vir die publiek en burgerlike organisasies ’n geleentheid om die regering se optrede internasionaal te evalueer en groter druk vir aanspreeklikheid en volhoubare ontwikkeling te bevorder.
Wat is die G20?
Die finansiële regeringsamptenare en sentralebankgoewerneurs van die lidlande, het die forum in 1999 na die Asiatiese finansiële krisis gestig. Dit het met die globale finansiële krisis in 2008 uitgebrei na staatsvlak en sedertdien kom staatshoofde ook jaarliks bymekaar. Buiten die toevoeging van die Afrika-unie in 2023 bly die lidmaatskap onveranderd. Die forum het beduidende invloed, want die lede verteenwoordig ongeveer 85% van die globale BBP en twee-derdes van die bevolking.
Die voorsitterskap roteer jaarliks. Die drie opeenvolgende voorsitters, in 2025 is dit Brasilië, Suid-Afrika en die VSA, vorm ‘n troika wat die werksgroepe koördineer wat die agenda vir die November-leiersberaad bepaal. Hierdie werksgroepe bestaan uit drie bene: die Sherpa-been (senior regeringsamptenare wat beleidsake hanteer), die finansiële been (ministers van finansies en sentralebankgoewerneurs wat monetêre stabiliteit monitor), en betrokkenheidsgroepe (Business20, Labour20, Youth20 en meer) wat publieke insette kanaliseer.
Suid-Afrika as G20-voorsitter 2025
Suid-Afrika is die derde opeenvolgende BRICS-land wat die G20-voorsitterskap beklee, ná Indië (2023) en Brasilië (2024), en die eerste Afrika-land in die forum se geskiedenis wat hierdie rol vervul. Brasilië het die voorsitterskap benut om bewustheid oor uitdagings van die Globale Suide te skep, veral onderwerpe soos sosiale inklusiwiteit en voedselsekuriteit. Die voortsetting van BRICS-kwessies soos digitale regulering en die hervorming van internasionale organisasies soos die IMF, VN-Veiligheidsraad en Wêreldbank. Hierdie agenda daag toenemend Westerse-dominansie in globale strukture uit.
Die leiersberaad van 2024 het egter min praktiese stappe uitgelê en daar is slegs breë ooreenkomste aangegaan. President Ramaphosa het aan die einde van die leiersberaad vanjaar se tema “die bevordering van solidariteit, gelykheid en volhoubare ontwikkeling” aangekondig. Suid-Afrika sal waarskynlik hierdie BRICS-agenda voortsit en die kwessies wat reeds deur die vorige twee state geprioritiseer is, verder voer. Globale uitdagings waarmee Afrika-lande worstel, soos ongelykheid, armoede en swak infrastruktuur sal beslis op die agenda wees, maar dit is die hervorming van Westerse-gedomineerde instellings wat die werklike toets van Suid-Afrika se voorsitterskap sal wees.
Hoe Suid-Afrika uitgebeeld word
Suid-Afrika se aansien as dié demokratiese wonderwerk van die 20ste-eeu is besig om te kwyn deur die regerende party se buitelandse beleid wat gelei het na, onder andere, volgehoue neutrale besluitneming in internasionale organisasies, militêre oefeninge met anti-Westerse state soos Rusland en China en die ICJ hofsaak teen Israel. Die voorsitterskap van een van die grootste samewerkings forums is juis die geleentheid om die beeld te herstel, maar die volgehoue anti-Westerse sentiment en onstuimige bilaterale verhouding met die VSA dui op juis die teenoorgestelde effek.
In die verlede was die middel-moondheid se buitelandse beleid en interne uitdagings nie belangrik in die globale arena nie. 2025 het die land in die kollig geplaas en het bewys dat die kamera inderdaad elke geringe kreukel begin uitlig. State is nie meer die enigste akteurs in die globale arena nie en diplomatieke verhoudinge vind nou op meer vlakke plaas. Dit beteken dat Suid-Afrika nie uitgelewer is aan die regering se buitelandse beleid nie. Suid-Afrika se toekoms lê in elkeen se hande, een gesprek op ‘n slag.