loading
Artikels
1 jaar gelede
billike-alternatiewe-vir-aflegging

Foto Krediet: Sebastian Herrmann - Unsplash

Billike alternatiewe vir aflegging

Deur Aimee Nel

Die Oyster Box Hotel het besluit om vir ʼn tydperk van twee jaar vir opknappingswerk te sluit. Sestig werknemers is afgelê. Toe die hotel heropen, is slegs een werknemer weer in diens geneem. Vyftien van die werknemers het aangevoer dat hul aflegging onregverdig was omdat die werkgewer nie redelike alternatiewe vir aflegging oorweeg het nie.

In SACCAWU obo Mvuyana v Oster Box Hotel (2018) 39 ILJ 2337 (LC) beweer die vakbond South African Commercial Catering and Allied Workers Union (SACCAWU) dat die werknemers tydelik afgelê kon wees en dan weer in diens geneem kon word sodra die hotel weer geopen het.

Die hof het bevind dat die hotel tydelike ontslag (“layoff”) as ʼn alternatief vir die ontslag van die werknemers moes implementeer. Dit het die afleggings substantief onbillik gemaak en vergoeding is aan die werknemers toegestaan.

Dit is dus baie duidelik dat werkgewers nie toegelaat sal word om bloot ʼn wettiese lysie-afmerk-benadering ten opsigte van die afleggingsproses kan volg nie. Wanneer werknemers redelike alternatiewe vir aflegging voorstel, en die werkgewers dit nie werklik oorweeg nie, kan daar moontlike gronde vir ʼn saak van onbillike ontslag bestaan.

Aan die ander kant moet werknemers ook in gedagte hou dat, indien die werkgewer ʼn billike alternatief aan jou voorstel en jy dit van die hand wys, jy die risiko loop om jou skeidingspakket te verbeur.

Dit is dus uiters belangrik dat voldoende aandag en tyd aan die oorweging van alternatiewe vir aflegging bestee word. Aflegging behoort in alle omstandighede die laaste uitweg te wees en behoort nie as ʼn maklike uitweg gebruik te word nie.

Die belangrikheid van oorlegpleging in goeie trou tydens die proses ingevolge artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge

In die betreurenswaardige ekonomiese klimaat van vandag vind afleggings daagliks in die werkplek plaas. Hoewel afleggings ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995) (die WAV) ʼn geldige rede is om werknemers se dienste te beëindig, moet die bepalings vervat in artikel 189 van die WAV steeds nagekom word.

Die belangrikheid van oorlegpleging in goeie trou word in die onderstaande regspraake bespreek:

In NUMSA & Others v Dorbly Limited and Another (2004) SALC 47 het die hof bevind dat oorlegpleging in goeie trou die kernvereiste vir afleggingsprosesse is. Die oorlegpleging wat in hierdie saak plaasgevind het, is as betekenisloos beskou omdat die werkgewer reeds vooraf sy besluit geneem het. Die werkgewer het met ʼn voorafbepaalde besluit tot die oorlegpleging toegetree, en daar is dus bevind dat die aflegging prosessueel onbillik was.

In Vermeulen v Investgold CC (2015) 4 BLLR 447 (LC) het die hof bevestig dat die WAV ʼn oop en eerlike gesprek vereis, en die werkgewer die werknemer se voorstelle moet oorweeg. Bestuur moes meer volledige meningwisseling laat plaasvind het, selfs al was dit net om dit aan Vermeulen duidelik te maak dat haar oortuiging – dat sy elders geakkommodeer kon word – misplaas is.

Solidariteit-lede ontvang gratis arbeidsregadvies. Indien jy as lid van Solidariteit jou regsvoordeel wil ontgin, besoek www.regsdienste.co.za of stuur gerus ʼn e-pos na regsdienste@solidariteit.co.za. Jy hoef nie alleen in jou beroep te staan nie! Klik hier om meer te lees oor hoe Solidariteit elke tree saam met jou op jou loopbaanpad stap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel