
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit dien memorandum oor rassewette by Europese parlement in
Solidariteit se stryd teen rassewette in Suid-Afrika word nou ook volstoom in Europa voortgesit na ʼn opspraakwekkende besoek aan die VSA vroeër vanjaar om dié onreg in die kalklig te stel. Lees meer hier.
Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, het die kernprobleme wat in die memorandum uitgelig word ook tydens sy besoek breedvoerig met parlementslede van Nederland, België, Duitsland, Italië, Spanje en Oostenryk bespreek.
Volgens hom is die doel om toe te sien dat die Europese Unie (EU), en spesifiek EU-lidlande, eise aan Suid-Afrika oor die uitfasering van rassewette stel. Sulke druk is juis nóú, in die jaar waarin Suid-Afrika as gasheer vir die G20-beraad in die internasionale kollig staan, nodig.
“Daar is ook in Europa ʼn verskerpte fokus op Suid-Afrika, veral weens die uitsprake deur die Amerikaanse regering,” sê Kleynhans.
“Maar dit is ook weens die komende G20-beraad én kommer wat in Europa heers oor Suid-Afrika se toenemende onverbonde status met sy sterk verbintenis tot Brics en bande met China, Iran en Rusland wat skade berokken.”
Volgens hom is Europese politici bekommerd oor die ekonomiese implikasies vir Europese maatskappye sou die Grondonteieningswet in Suid-Afrika geïmplementeer word. Europese maatskappye wil graag sake in Afrika uitbrei, maar is bekommerd oor Suid-Afrika se streng regulasies, insluitende rassewette, wat dit moeilik en duur maak om sake in die land te doen.
Kleynhans sê verskeie politieke partye in lande soos Nederland, België en Duitsland beplan mosies oor Suid-Afrika se rassewette in die aanloop tot die G20-beraad.
“Ek het ook EU-parlementslede in Straatsburg versoek om elke moontlike forum te benut om druk op die Europese Kommissie te plaas om met die Suid-Afrikaanse regering oor die rassewette in gesprek te tree.
“Ons omvattende netwerk van politieke kontakte in Europa moet nou verseker dat Suid-Afrika se rassewette ʼn kernfokuspunt van die G20-beraad word. Ons verwag ook binnekort verdere uitsprake hieroor van die Trump-administrasie in die VSA,” sê Kleynhans.
Tydens hierdie Europese toer het Kleynhans ook besoek by die Nederlandse, Vlaamse én Belgiese parlemente afgelê. Nederland is ʼn G20-lid en ʼn mosie oor die uitfasering van rassewette in Suid-Afrika word eersdaags in die Nederlandse parlement ingedien.
In die memorandum wat deur Solidariteit aan Europese leiers oorhandig word, staan uitdruklik hoe Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld geword het en hoe rassewetgewing selfs nou toeneem en verskerp.
Daar word aangedui hoe die wetgewing juis nié enige ongelykhede van die verlede regstel nie, en hoe ʼn internasionale gemeenskap wat Suid-Afrika se demokrasie help vestig het, in werklikheid ʼn morele verantwoordelikheid het om te sorg dat Suid-Afrika ook nóú internasionale demokratiese norme nakom.
“Ons wil sien dat onbillike rassediskriminasie eindig. Na jare se pogings om plaaslik in Suid-Afrika oplossings te vind, sien ons hoe die regering selfs nóú ʼn skikking onder toesig van ʼn VN-liggaam ignoreer met die publikasie van rigiede rassekwotas in die werkplek in die Staatskoerant.
“Dus vat ons die stryd verder – eers Amerika toe, en nou na Europa – om die internasionale gemeenskap in die aanloop tot die G20-beraad te vra om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen, sodat rassewetgewing uiteindelik uitgefaseer kan word,” sê Kleynhans.
Sien Solidariteit se Europa-memorandum oor Suid-Afrika se rassebeleid hier.
Laai hier klankgrepe van Jaco Kleynhans af.