loading
Artikels
2 dae gelede
bogger-die-anc-ek-bly

Foto Krediet: Verskaf

Bogger die ANC, ek bly!

Dirk Hermann

Ek het nou mooi gedink oor die vraag van bly of gly. Almal dink nou daaroor en almal het die vryheid en reg om tot hul eie gevolgtrekkings te kom. Ek het baie begrip vir mense wat oorweeg om te gaan of wat reeds gegaan het. Hierdie is net my gedagtes.

As ek aan alles dink wil ek net hier bly. Dis my mense, my taal, my kultuur, my natuur. Sonder om in detail in te gaan – dis ek.

Die ANC steel my “ek” van my. Hulle wil my kinders se skole vat, kan nie dienste aan my lewer nie, maak my onveilig, druk my taal uit en wil my toekoms op grond van ras bepaal.

Die werklikheid is ook dat hulle nutteloos is, op pad is na ineenstorting, hulself gaan opeet en inherent korrup is.

Aan die ander kant is ek ʼn Afrikaner. Dis ʼn volk wat in die diepste tye van nood nog altyd veerkragtig was. Ná ʼn wrede oorlog waarin 33 000 van sy vroue en kinders in konsentrasiekampe dood is, het hulle opgestaan. Ná die Rebellie was dit die Helpmekaar Beweging. Ná die armblankevraagstuk was dit die Reddingsdaadbond. Hulle het ʼn moderne staat gebou, vergelykbaar met die bestes in die Westerse wêreld. ʼn Merkwaardige storie en geskiedenis.

Die alternatief is dat ek moet gly. Maar as ek gly, verloor ek ook my “ek”. Ek sal na ʼn ander Westerse land moet gly waar ek minstens breedweg tuis sal voel. Ek gly egter na ʼn Weste in krisis. Hulle sekulêre eie ek-ideologie maak die Weste dood.

Sou ek gly sal my kleinkinders dalk deel van hierdie eie ek-ideologie en ʼn Westerse beskawing in krisis word. Die hiper-individualisme.

Westerse lande word oorspoel met immigrante en binne twee geslagte kan alle Westerlinge minderhede in hul eie lande wees. Sonder uitsondering hang daar oorlogswolke en onsekerheid oor elke Westerse land.

Wat het ek dán aan my kinders se kinders gedoen? Hulle is dan dalk ʼn minderheid in ʼn sekulêre land, omring deur anargistiese immigrante en nie meer deel van ʼn merkwaardige volk met die DNS om op te staan in krisistye nie. Het ek hulle dan oorgelaat om ʼn nuwe krisis in die gesig te staar as gevolg van my eie onsekerhede?

Dit bring my terug na die vraag oor bly. Hier is twee kragte ter sprake: ʼn ANC wat inplof, maar steeds ʼn reuse-invloed het en Afrikaners wat besig is om weer op te staan en te veg en te bou. Kyk ek na Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding, Maroela Media, Orania, die werk van Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die FAK, die nuwe Gimnasium-skole wat kom en baie, baie meer en trek ek dit 20 jaar vorentoe, sien ek weer ʼn volkie wat besig is om veerkragtig ʼn antwoord vir ʼn krisis te bied. Dis my mense. Dis ek. En ek is nie alleen nie.

Trek ek die nuttelose ANC 20 jaar vorentoe, gaan hulle weg wees. Ek kan dus nie my toekoms bepaal gegrond op die huidige nuttelose ANC nie. Wat die alternatief vir die ANC gaan wees weet ek nie, maar wat ek wel weet is dat die vakuum wat die alternatief daar gaan stel positief deur my mense gevul sal word. Ek kan in elk geval nie toelaat dat ʼn nuttelose ANC my toekoms bepaal nie.

Vat ek die negatiewe momentum van die Weste en ek trek dit 20 jaar vorentoe, is dit ook ʼn angswekkende prentjie: Demografiese verval, ekonomiese stagnasie, geopolitieke en interne konflik en reuse-immigrantebevolkings gaan elke Westerse land ontwrig.

Midde in dit alles kies ek steeds die suidpunt van Afrika. Geopolities is dit ook verwyderd van die groot wêreldkonflikte van die volgende paar dekades. Ons het ʼn nuttelose regering en ʼn onsekere toekoms, maar ons het ook ʼn gemeenskap wat kan planne maak.

Ek kies dus ʼn gemeenskap wat planne kán maak, reeds planne gemaak het en besig is om planne te maak. Ek kies ʼn opsie met ʼn bewese suksesrekord. Nie ʼn maklike opsie nie, maar die beste opsie.

My energie gaan daarin gaan. Dis die enigste opsie waar ek steeds ek kan wees en opgewonde kan wees oor ʼn toekoms oor 20 jaar van nou af.

Dit gaan vra vir veg en dit gaan vra vir bou. Ek sien kans, want dis wat my mense al gedoen het.

In kort: Bogger die ANC, ek bly net hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel