Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Vyf doeltreffende maniere om jou CV in 2024 te laat uitstaan
Deur Karen Waldeck
Wanneer jy deur jou CV lees, laat dit jou goed voel of laat dit jou wonder? In ʼn era waar werk so skaars soos hoendertande is, is dit belangrik om ʼn goeie CV op te stel. Jou CV is die heel eerste indruk wat jy op ʼn potensiële nuwe werkgewer maak en daarom is dit só belangrik dat jou CV bo ander uitstaan. ʼn Goeie CV is die sleutel tot ʼn suksesvolle werkaansoek.
Hier is vyf maniere hoe jy joune kan laat uitstaan:
Pas jou CV aan vir spesifieke werkgeleenthede
ʼn Fout wat soveel mense vandag maak, is om een CV vir verskeie werkaansoeke te gebruik. Alhoewel dit nie verkeerd is nie, sal dit slegs tot jou voordeel wees om dit met elke werkaansoek aan te pas. Pas jou CV aan deur jou vaardighede te beklemtoon wat met die pos se vereistes ooreenstem. Dit maak dit vir die werkgewer makliker om jou van die res uit te sonder, veral wanneer hulle baie CV’s het om deur te werk. Dit wys aan die werkgewer dat jy in die spesifieke rol belangstel en dat jy oor die nodige vaardighede beskik om daardie posisie te kan vul.
Hou jou CV opgedateer en relevant
Met al die voortdurende veranderinge in die wêreld van werk is dit belangrik om seker te maak jy hou jou CV op datum. Kyk na watter CV-template sekere maatskappye verwag en pas joune daarvolgens aan. Dit maak nie saak of dit nuwe vaardighede is wat jy aangeleer het, kursusse wat jy voltooi het of nuwe prestasies is wat jy behaal het nie, maak altyd seker dat jou CV akkurate en relevante inligting bevat.
Minder is meer
Het jy al ooit gehoor van die frase “minder is meer”? Dit geld selfs vir wanneer jy jou CV opstel. Nee, jy hoef nie jou dit af te skeep om dit korter te maak nie. Dit is eenvoudig ʼn geval van kies die gepaste woorde. Indien jy vir ʼn spesifieke werk aansoek doen, het jy slegs nodig om vaardighede en werksondervinding in daardie rigting op jou CV te beklemtoon. Probeer ook altyd om jou dit so kort as moontlik te hou. Werkgewers wat baie CV’s het om deur te werk, het nie altyd tyd om deur ses bladsye van een te lees nie.
Beklemtoon jou persoonlikheid en unieke stem
Jou CV is nie net ʼn lys van jou werkservaring nie; dit is ʼn geleentheid om jou persoonlikheid, waardes en passies uit te druk. Skep ʼn persoonlike profiel of skryf ʼn kort opsomming van wat jou unieke eienskappe, doelwitte en waardes is. Hierdie persoonlike element kan ʼn werkgewer help om ʼn beter begrip van jou as persoon te kry en of jy by die maatskappy se kultuur sal inpas.
Maak seker daar is geen spel- en tikfoute nie
Onthou, jou CV dien as die heel eerste indruk wat jy op ʼn werkgewer maak. Daarom is dit uiters belangrik om te verseker dat daar geen spel- en tikfoute is nie. Geen werkgewer wil iemand aanstel wat nie behoorlik kan spel nie. Met vandag se gevorderde tegnologie is dit só maklik om jou foute met die druk van een knoppie reg te stel – gebruik dit tot jou voordeel!
ʼn Kragtige en onderskeidende CV kan ʼn groot verskil maak in jou sukses om ʼn werk te kry. Deur die bogenoemde maniere te implementeer, kan jy jou kanse verhoog om kop en skouers bo die res van die aansoekers uit te staan. Met soveel professionele hulp wat daar vandag beskikbaar is, kan jy joune lag-lag laat uitstaan.