loading
avatar
Artikels
17 uur gelede
cv-wenke-vir-gesoute-beroepspersone

Foto Krediet: Okay Deer

CV-wenke vir gesoute beroepspersone

Deur Essie Bester

As ʼn volwasse, professionele persoon wat weer die arbeidsmark wil betree of van werk wil verander, het jy waarskynlik vrae oor die skryf of opdatering van jou CV. Miskien is jy al ʼn rukkie uit die arbeidsmark en bekommerd dat werkgewers nie sal belangstel nie. Dalk dink jy dat jou ouderdom teen jou sal tel.

Struikelblokke, soos mededinging met jonger kandidate of ouderdomsverwante vooroordele, kan ontmoedigend wees. Jy kan egter wys dat jy nog steeds deel van die moderne arbeidsmag behoort te wees deur ʼn goed-deurdinkte en bondige CV voor te lê – een wat die keuringskomitee nuuskierig maak om meer oor jou te leer, maar terselfdertyd genoeg inligting gee om jouself voor te stel. Ideaal gesproke moet ʼn CV tussen 475 en 600 woorde bevat en nie langer as twee bladsye wees nie.

Beklemtoon jou prestasies

Volgens ʼn artikel op LinkedIn, is een van die beste maniere om werkgewers te beïndruk, deur jou impak en resultate in vorige rolle te demonstreer. In plaas daarvan om net jou pligte en verantwoordelikhede te lys, fokus op jou prestasies en kwantifiseer dit met getalle, persentasies of toekennings.

Byvoorbeeld, eerder as om te sê jy het ʼn span van tien verkoopspersone bestuur, kan jy wys hoe jy waarde toevoeg deur uit te lig hoe ʼn van tien verkoopspersone gelei het om verkoopsteikens met 15% te oorskry en dat jy die streektoekenning vir beste prestasie gewen het.

Pas jou CV aan vir elke afsonderlike pos

Oorweeg eerstens wat die werkgewer van ʼn ideale kandidaat verwag. Tweedens, oor watter bates beskik jy en wat sal jou die ideale kandidaat maak? Doen deeglik navorsing oor die spesifieke pos en die betrokke bedryf, sodat jy die nodige inligting kan versamel en jou CV daarvolgens kan aanpas.

Gebruik sleutelwoorde en frases uit die posbeskrywing, lig relevante vaardighede en kwalifikasies uit en wys hoe goed jy by die maatskappy se kultuur en waardes inpas. Beklemtoon oordraagbare vaardighede wat ooreenstem met moderne praktyke, soos MS Office 365, projekbestuurstelsels, ensovoorts. Dit beteken dat jy jouself relevant moet hou en dat jy gemaklik met hierdie nuwe vaardighede en tegnologie moet wees.

Werk aan jou persoonlike handelsmerk deur jou kernvaardighede, jare ervaring in ʼn spesifieke sektor en unieke vaardighede waaroor jy beskik duidelik te kommunikeer.

Optimaliseer jou CV-formaat

Doen navorsing of kry advies oor die formaat en styl van meer moderne CV’s, sodat jou CV so opgestel kan word. Vermy oorbodige inligting; fokus eerder op akkurate en relevante inligting. Gebruik ʼn duidelike, professionele en maklik leesbare lettertipe en uitleg. Vermy ook geykte terme, spel- en taalfoute of swak belynde kolomme.

Jou CV moet onderafdelings hê, wat reeds met die eerste oogopslag sin maak. Afdelings wat in ʼn CV ingesluit moet word, is: persoonlike (biografiese) inligting, ʼn persoonsprofiel (paragraaf), vaardighede, opleiding (formeel en informele kursusse), werkservaring, stokperdjies, en verwysings.

As jy konsekwente en relevante werkservaring het, kan jy ‘n chronologiese formaat gebruik wat jou poste in omgekeerde volgorde lys. ‘n Onreëlmatige loopbaanpad met leemtes, veranderinge of uiteenlopende ervarings vra vir ‘n funksionele of hibriede formaat om jou vaardighede en prestasies die beste te beklemtoon.

Spreek potensiële probleme aan

Indien jou vaardighede en/of kwalifikasies en/of sertifikate moontlik verouderd  is, moet jy dit opdateer, of indien irrelevant, weglaat. vir die spesifieke werk Fokus op die afgelope 10 tot 15 jaar se relevante ervaring en vaardighede.

Wees ingelig oor die nuutste neigings: aanpasbaarheid, kruisfunksionele spanne, asook hibriede werk en aanlyn vergaderings is maar ʼn paar goed wat die norm is in die nuwe werkswêreld. Beklemtoon jou ingesteldheid daartoe.

Kunsmatige intelligensie (KI) is nog ʼn realiteit waarvan jy kennis moet neem. So ook papierlose werksplekke waar dokumente elektronies geredigeer en geteken word. Digitale en netwerksekuriteit is van kritieke belang.

Demonstreer ʼn tegnologiese ingesteldheid

Dit is belangrik om seker te maak dat jy by bly met die jongste tegnologie. Hou aan om kursusse, werkswinkels of aanlyn leergeleenthede by te woon, ten einde jouself relevant te hou. Solidariteit bied byvoorbeeld waardevolle aanlyn leermodules wat spesifiek en relevant is tot jóú werksomgewing.

Wys vir potensiële werkgewers dat jy op hoogte is van die nuutste digitale neigings deur ʼn skakel na jou LinkedIn-profiel of ander professionele netwerke in te sluit. Met meer as 90% van talentverkrygingspesialiste wat sosiale media gebruik om kandidate te keur, is dit belangrik om jou sosialemediateenwoordigheid op standaard te hou.

Wys jou persoonlikheid

Jou CV moet jou persoonlikheid en entoesiasme weerspieël. Nie net moet dit wys dat jy gekwalifiseerd en ervare is nie, maar ook dat jy gemotiveerd en passievol is oor die werkgewer en die werk waarvoor jy aansoek doen. Die beste manier om dit te doen is deur ‘n positiewe en selfversekerde toon te gebruik. Voeg ‘n persoonlike stelling of opsomming in wat jou loopbaandoelwitte en waardeproposisie uitlig. Sluit ‘n paar stokperdjies of belangstellings in wat jou karakter weerspieël en by die maatskappykultuur pas.

Anneri Leach, Hoof van Personeeldienste en -ontwikkeling by Solidariteit, sê: “Jou CV moet die ware weergawe van jouself en wat jy kan bied, bly. Maak dus seker jy bly relevant met die veranderinge in jou beroep, veld, sektor en wêreld van werk – verál tegnologie. Jy moet wel die waarde van jou ervaring hiermee belyn. Jou ervaring is kosbaar en bring diepte en wysheid na die werksplek. Die kuns is om beide te kan oordra en dit met jou CV op ʼn praktiese en eenvoudige manier te kan belyn, met die verwagtinge van die pos en wat die nodige aandag sal trek.

Solidariteit se werkfasiliteringsplatform bied werkfasilitering en ondersteuning waar die gemeenskap mekaar kan help om werk te vind. Hier kan jy jou CV oplaai en binne minute aansoek doen vir verskeie poste. Skep sommer vandag nog ‘n profiel en raak deel van ons aanlyn gemeenskap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel