loading
avatar
Artikels
17 uur gelede
vroue-innoveerders-die-uitdagings-en-oplossings

Foto Krediet: Okay Deer

Vroue-innoveerders: Die uitdagings en oplossings

Deur Essie Bester

Vroue se veerkragtige gees, deursettingsvermoë en eiesoortige benaderings het deur die eeue heen baanbrekersveranderinge op uiteenlopende terreine aangedryf. Vandag neem vroue ʼn voorste plek in innovasie in – deur  veranderinge te lei wat nie net doeltreffend en volhoubaar is nie, maar ook ʼn beduidende impak het.

Ten spyte van struikelblokke, soos diepgewortelde maatskaplike ongelykheid, ongebreidelde diskriminasie en beperkte geleenthede, is vroue lewenskragtige bydraers op verskeie gebiede – veral met oplossingsgerigte benaderings wat oor verskillende dissiplines strek.

Volgens ʼn artikel op LinkedIn, is geslagsongelykheid steeds ʼn struikelblok wat vroue se toegang tot geleenthede belemmer, lei tot salarisverskille en ʼn gebrek aan voldoende verteenwoordiging.

Behalwe dat vroue openlik en subtiel gekonfronteer word met diskriminasie, wat hulle professionele en sosiale groei belemmer, is dit dikwels baie moeilik om ʼn perfekte ewewig te vind tussen professionele verpligtinge en privaat lewe – veral in verband met swangerskap en moederskap.

Die grootste uitdagings en moontlike oplossings

Volgens WomenTech Network, een van die wêreld se voorste gemeenskappe vir vroue in tegnologie, sluit die grootste uitdagings waarvoor vandag se vroue-innoveerders te staan kom die volgende in:

Toegang tot befondsing

Vroue-innoveerders vind dit dikwels moeilik om toegang tot waagkapitaal en befondsing te verkry.

Oplossing: Die skep van befondsingsgeleenthede wat op vroue fokus. Waagkapitaliste en beleggers moet aangemoedig word om geslagsneutrale evalueringskriteria aan te neem. Mentorskap en opleiding in effektiewe voorleggings vir finansiering is ook noodsaaklik.  

Kulturele- en samelewingsverwagtinge

In baie wêrelddele ontmoedig kulturele- en sosiale norme vroue om loopbane in innovasie en tegnologie te volg.

Oplossing: Bekamp geslagstereotipes deur suksesvolle vroulike rolmodelle uit te lig. Moedig jong vroue aan om tegnologiesevelde met selfvertroue te verken. Verskaf ook praktiese ondervinding en daag stereotipes uit deur bewusmakingsveldtogte en gemeenskapsbetrokkenheid.

Gebrek aan verteenwoordiging

Die onderverteenwoordiging van vroue in leiersposisies binne innoverende bedrywe kan ʼn siklus van uitsluiting laat voortduur.

Oplossing: Skep mentorskapprogramme wat opkomende vroulike innoveerders met gevestigde vroueleiers verbind. ʼn Mentor kan leiding, ondersteuning en advies oor loopbaanbevordering verskaf, wat nuwelinge sal help om die kompleksiteit van die bedryf te navigeer.

Beperkte hulpbronne vir vaardigheidsontwikkeling

Vroue wat loopbane in innovasie wil volg, vind dat daar min hulpbronne is wat aangepas is vir hul leer- en ontwikkelingsbehoeftes.

Oplossing: Bied geteikende opleidingsprogramme en werkwinkels aan, en verseker gelyke toegang tot onderwys. Finansiële ondersteuning en beurse aan vroue wat kursusse in innoverende velde volg, is noodsaaklik.

Volgens Forbes moet vroue hul loopbane aan die beweeg hou deur aan te hou leer en ontwikkel in die werkplek. Dit is noodsaaklik om op hoogte te bly van die jongste tendense en vereiste vaardighede. Voortgesette leer help vroue om hul professionele handelsmerk op te bou en dra by tot die uniekheid en waarde wat vroue tot hul werksomgewing toevoeg. Solidariteit bied ʼn reeks aanlyn kortkursusse aan wat vroue bemagtig om hul volle potensiaal in die werkplek te bereik.

Persepsie- en vertrouekwessies

Vroue twyfel soms aan hul vermoëns as gevolg van sosiale persepsies of ʼn gebrek aan aanmoediging.

Oplossing: Suksesverhale van vroulike innoveerders moet uitgelig word. Dit bou vroue se vertroue– wat hulle in staat sal stel om potensiaal as innoveerders te bereik. Organiseer werkwinkels wat daarop gefokus is om selfagting en leierskapvaardighede te bevorder. Verskaf ook konstruktiewe terugvoer en ondersteuning.

Regulatoriese- en beleidshindernisse

Vroue-entrepreneurs ondervind dikwels meer uitdagings in regulatoriese omgewings, soos die verkryging van patente of om ʼn nuwe besigheid te begin.

Oplossing: Deur hierdie prosesse vir almal te vereenvoudig, terwyl leiding en ondersteuning spesifiek vir vroue aangepas word, kan baie struikelblokke uit die weggeruim word. Implementeer regverdige beleide in die werkplek deur vroue te ondersteun en te verseker dat hulle op dieselfde regverdige en etiese manier hanteer word as enige ander manspersoneellid. Vroulike werknemers se menings moet ook met dieselfde agting bejeën word as waarmee manlike eweknieë se menings beskou word.

Tegnologiese vooruitgang en die geslagsgaping

As gevolg van die vinnige tegnologiese ontwikkeling in vandag se era, kan die geslagsgaping in tegnologieverwante-velde groter word as vroue nie aktief by hierdie vordering betrek word nie.

Oplossing: Om te verseker dat vroue gelyke geleenthede verkry om by te dra tot, en voordeel te trek uit opkomende tegnologieë. Dit behels die investering in tegnologie-onderwys vir vroue en die aanmoediging van vroue se deelname aan tegnologiese innovasie- en ontwikkelingsprojekte.

Studies toon deurgaans dat maatskappye met geslagsdiverse leierskapspanne beter presteer as dié daarsonder. Wanneer vroue bemagtig en ingesluit word in ‘n onderneming se besluitnemingsprosesse, word uiteenlopende perspektiewe na die tafel gebring – iets wat noodsaaklik vir innovasie en besigheidsgroei is. Daarsonder loop besighede die gevaar om te stagneer terwyl blindekolle en verspeelde geleenthede sal seëvier.

Of jy nou ʼn werkgewer of werknemer is, man of vrou, is dit tot jou voordeel om die vroue rondom jou te bemagtig, deur die aktiewe aftakeling van hindernisse wat vroue se toegang tot leierskapgeleenthede beperk. Op dié wyse word sterker besighede geskep, gesonder samelewings voortgebring en ’n meer veerkragtige ekonomie verseker.

Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, sê: “Vroue in bestuursposisies moet die kans gegun word om hul talente ten toon te stel en só suksesvolle spanne te bou. My raad aan vroue in die werkplek is om nederig, ambisieus en die hardste werker in die werkplek te wees. Wees ʼn mentor vir die volgende geslag jong dames, bou jou netwerk uit en pak alles met dapperheid aan.”

Solidariteit bied ʼn netwerk wat daarop gemik is om bemagtiging, beskerming en ondersteuning in die werkplek te laat seëvier. Indien jy nog nie deel van di netwerk is nie, skep jou gratis profiel hier en word deel van die Solidariteit-gemeenskap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel