loading
avatar
Artikels
3 weke gelede
deel-jou-ervaring-word-in-2027-n-mentor-vir-n-jong-regsgeleerde

Fotokrediet: Unsplash

Deel jou ervaring: Word in 2027 ’n mentor vir ’n jong regsgeleerde

Die oorgang van die klaskamer na die werkplek kan vir jongmense uitdagend wees – veral in ’n mededingende en veeleisende beroepsveld soos die regte. Daarom bied Solidariteit Jongwerkende se mentorskapprogram vir 2027 aan ervare regslui die geleentheid om hul kennis, ervaring en praktiese insigte met die volgende generasie te deel.

Volgens Marike Burger, koördineerder van Solidariteit Jongwerkende, gaan mentorskap oor meer as bloot voorbereiding vir die arbeidsmark. “Ons wil ’n gestruktureerde ruimte skep waar studente en jongwerkendes vrae kan vra en advies kan kry, sodat hulle algemene loopbaanfoute kan vermy en met groter selfvertroue besluite oor hul loopbane kan neem,” verduidelik sy.

Die behoefte aan praktiese leiding onder jongmense in die regsberoepsveld is veral groot. Akademiese opleiding bied ’n noodsaaklike grondslag, maar vir jong regslui om hul plek binne die beroep te vind, benodig hulle leiding. Jong regslui kan byvoorbeeld vrae hê oor loopbaankeuses, beroepsmoontlikhede, werksetiek, kliënteverhoudinge en hoe om hulself binne die beroep te posisioneer.

“’n Ervare regsgeleerde kan vir ’n jong persoon perspektief gee wat jy eenvoudig nie uit ’n handboek kan leer nie,” sê Burger.

Wie kan ’n mentor word?

Die program is gemik op mense wat reeds gevestig is in die regsberoep en bereid is om hul kennis, ervaring en netwerke te deel. ’n Toepaslike kwalifikasie en relevante beroepservaring is belangrik, maar mentors hoef nie noodwendig dekades se ervaring te hê nie.

“Die belangrikste vereiste is dat iemand bereid moet wees om werklik in ’n jongmens se ontwikkeling te belê,” verduidelik Burger. Mentors moet ook by Solidariteit se Regsnetwerk inskakel, waarvoor Solidariteit-lidmaatskap vereis word.

Wat behels die program?

Die program duur gewoonlik tussen vier en ses maande, afhangend van die mentor en mentee se beskikbaarheid en doelwitte. Mentees voltooi ’n behoeftebepalingsvraelys, waarna ’n geskikte mentor geïdentifiseer en gekontak word. Ná die eerste bekendstelling bly ʼn span mentorskapsuksesbeamptes deurentyd beskikbaar indien ondersteuning nodig is. Die mentor en mentee kom self ooreen oor die tydsduur, ritme en formaat van hul afsprake, alhoewel een tot twee afsprake per maand voorgestel word.

Waarom moet jý ʼn mentor word?

Vir mentors bied die program ’n geleentheid om iets terug te gee. “Mentorskap is nie ’n eenrigtingstraat nie,” sê Burger. Mentors kry ook iets daaruit – ʼn nuwe perspektief op die wêreld waarin jongmense vandag studeer en werk – terwyl hul eie ervaring vir ’n jongmens van groot waarde kan wees.

“Jy hoef nie die perfekte mentor te wees nie, jy moet net bereid wees om iets terug te gee,” sê Burger.

Hoe word jy ʼn mentor?

Die proses is maklik en eenvoudig:

  1. 1. Meld aan as mentor
    Besoek https://mentorskap.co.za/ en klik op “Doen hier aansoek om ʼn mentor te wees.” Vul die kort aanlyn vorm in met jou kontakbesonderhede en beroepsrigting.
  2. 2. Stuur jou inligting
    Jou besonderhede word na ons mentorskapsuksesbeamptes gestuur (mentorskap@solidariteit.co.za) wat jou sal kontak om jou mentorskap te finaliseer.
  3. 3. Kom in kontak
    Sodra ʼn geskikte mentee beskikbaar is, verbind ons julle met mekaar en stuur hulpbronne oor hoe om die proses aan te pak.

As jy jou ervaring wil deel en ’n jongmens se loopbaanpad wil help vorm, steek jou hand op en word deel van Solidariteit Jongwerkende se 2027-mentorskapprogram.

En as jy nog nie heeltemal seker is nie of enige vrae het, stuur gerus ʼn e-pos na regslui@solidariteit.co.za vir meer inligting.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel