loading
avatar
Artikels
20 uur gelede
denel-se-pmp-omkeerplan-r120-miljoen-goedgekeur-maar-waar-is-die-resultate

Fotokrediet: Verskaf

Denel se PMP-omkeerplan: R120 miljoen goedgekeur, maar waar is die resultate?

Robin-Lee Maré

Solidariteit eis antwoorde van Denel oor die toekoms van Pretoria Metal Pressings (PMP). Hoewel ʼn omkeerplan van R120 miljoen reeds in Februarie 2025 goedgekeur is, sit werknemers steeds met onsekerheid, laat salarisbetalings en vrae oor die aanleg se herstel.

Volgens Derek Mans, Solidariteit se koördineerder van die verdedigingsektor, moet Denel nou duidelikheid gee oor wat sedert die goedkeuring van die plan bereik is.

“R120 miljoen is vir PMP se herstelplan goedgekeur. Werknemers verdien antwoorde oor hoeveel geld reeds bestee is, wat geïmplementeer is en watter meetbare verbetering plaasgevind het.

“ʼn Plan op papier beteken min indien die resultate nie op die werkvloer sigbaar is nie,” sê Mans.

Solidariteit het saam met die PMP-taakspan aan praktiese voorstelle vir die aanleg se herstel gewerk. Die taakspan het uit bedryfspesialiste, voormalige PMP-bestuurders en verteenwoordigers van georganiseerde arbeid bestaan.

Die werk het uiteindelik tot die goedkeuring van die R120 miljoen-plan op 18 Februarie 2025 gelei. Veranderinge in die taakspan se leierskap laat egter verdere vrae ontstaan oor wie vir die uitvoering van die plan verantwoordelik is.

Mans spreek ook kommer uit oor PMP se huidige bestuurstruktuur. Volgens Solidariteit se inligting word PMP nie meer as ʼn afsonderlike projek bestuur nie, maar rapporteer die aanleg nou direk aan Denel Land Systems.

“PMP is ʼn strategies belangrike verdedigingsvervaardigingsaanleg. Ons standpunt bly eenvoudig dat PMP afsonderlik bestuur en finansieel afgebaken moet word, met duidelike aanspreeklikheid, toegewyde verslagdoening en meetbare hersteldoelwitte,” sê Mans.

Beloftes oor gesprekvoering bly onvervuld

Solidariteit het Denel reeds herhaaldelik genader oor PMP se toekoms en die proses om ʼn strategiese vennoot te bekom.

Denel het Solidariteit op 27 Augustus as ʼn belangrike belanghebbende erken. Op 30 Augustus het die groep se uitvoerende hoof ʼn vergadering voorgestel om uitstaande kwessies en PMP se toekoms te bespreek. Die vergadering het egter steeds nie plaasgevind nie.

“Solidariteit kan nie as ʼn belangrike belanghebbende erken word terwyl beloftes om gesprek te voer eenvoudig nie nagekom word nie. Werknemers moet inspraak hê terwyl hul insette nog ʼn verskil kan maak,” sê Mans.

Die situasie het op 23 Oktober verder versleg toe werknemers by PMP en Denel Land Systems hul salarisse laat ontvang het.

“Hierdie werknemers het gesinne en finansiële verpligtinge. Hulle kan nie aanhou om die prys vir Denel se probleme te betaal nie,” sê Mans.

Denel se jongste finansiële syfers versterk die kommer. Teen einde Augustus 2026 het inkomste R453 miljoen beloop, 36% onder begroting. Denel het terselfdertyd ʼn bedryfsverlies van R173 miljoen en ʼn netto verlies van R189 miljoen aangeteken, teenoor ʼn begrote wins van R180 miljoen.

Tyd vir beloftes is verby

Solidariteit eis nou ʼn volledige uiteensetting van die R120 miljoen-herstelplan en hoe die geld bestee is. Die vakbond wil ook duidelikheid oor PMP se bestuurstruktuur en ʼn verduideliking vir die laat salarisbetalings hê.

Daarbenewens dring Solidariteit daarop aan dat die beloofde vergadering oor PMP se toekoms sonder verdere vertraging plaasvind.

“Solidariteit het reeds tyd, kundigheid en moeite in oplossings vir PMP belê. Ons bly bereid om aan ʼn volhoubare oplossing mee te werk, maar die tyd vir beloftes is verby.

“Indien ʼn plan vasgeval het, moet regstellende optrede volg. Indien besluite misluk het, moet iemand verantwoordelikheid aanvaar,” sluit Mans af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel