loading
avatar
Artikels
12 uur gelede
solidariteit-takel-rassereels-onder-vn-bemiddeling

Fotokrediet: Pexels

Solidariteit takel rassereëls onder VN-bemiddeling

Solidariteit is sedert Dinsdag opnuut besig om deur die bemiddeling van die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) vir nierassigheid in die werkplek in te tree en om teen radikale rassereëls wat mense se werksgeleenthede en loopbaanvordering belemmer, op te tree.

Dié gesprekke met die regering onder toesig van die IAO is ʼn regstreekse ingryping namens Solidariteit-lede wie se toekoms deur rasgebaseerde uitsluiting geraak word. Die vakbond wil afdwingbare beskerming verseker sodat lede se kwalifikasies, vaardighede, ervaring, meriete en harde werk behoorlik in ag geneem word by aanstellings en bevorderings.

Vir lede beteken hierdie proses dat Solidariteit hul belange ook op internasionale vlak verdedig. Die doel is om konkrete verpligtinge en meetbare uitvoering daarvan te verseker waarop werkers hulle kan beroep wanneer hul regte in die werkplek bedreig word.

Die bemiddeling volg op ʼn formele klagte wat Solidariteit op 15 Mei vanjaar by die IAO in Genève ingedien het. Solidariteit wil beskerming teen rassekwotas verseker en ʼn tydraamwerk vir die uitfasering van rassewette teen 2030 beding.

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, handel die gesprekke ook oor die regering se versuim om ʼn vorige skikking na te kom.

“Die regering kan nie internasionale ooreenkomste aangaan en dan hofbevele in die verband ignoreer nie. Ons tree tot hierdie gesprekke toe met die voorneme om daadwerklike beskerming vir werkers te kry en ons wil ook meetbare uitvoering van die regering se verpligtinge in dié verband verseker,” sê Hermann.

Solidariteit en die regering het in Junie 2023 ná ʼn vorige IAO-proses ʼn skikking bereik wat op 31 Oktober daardie jaar ʼn hofbevel gemaak is. Dit bepaal onder meer dat rasgebaseerde maatreëls tydelik moet wees, nie absolute versperrings vir enige bevolkingsgroep se werksgeleenthede mag skep nie en nie tot die beëindiging van werknemers se diens mag lei nie.

Volgens Hermann het die regering egter versuim om die ooreengekome bepalings en regulasies, soos voorgeskryf in die Staatskoerant, te publiseer. Solidariteit meen ook dat die sektorale rasseteikens wat in April 2025 gepubliseer is, strydig is met die skikking.

“Suid-Afrika benodig ʼn beleid wat mense help om uit armoede te kom, vaardighede te ontwikkel en werk te skep. Ras mag nie ʼn permanente toegangstoets word wat bepaal of iemand hul toekoms kan ontsluit nie,” sê Hermann.

Die sukses van die gesprekke sal volgens hom aan die werklike verandering wat dit vir werkers meebring, gemeet word.

“Werkers benodig sekerheid dat hul vermoëns en harde werk regtig saak maak en dat ooreenkomste wat hul regte beskerm, wél nagekom word.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel