loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
denel-se-verslag-aan-parlement-skets-n-rooskleuriger-prentjie-as-werklikheid

Fotokrediet: Verskaf

Denel se verslag aan Parlement skets ʼn rooskleuriger prentjie as werklikheid

Robin-Lee Maré

Denel se jongste verslag aan die Parlement skets die beeld van ʼn staatsonderneming wat op die herstelpad is, maar die onderneming se eie finansiële syfers vertel ʼn veel minder rooskleurige verhaal.

Só sê Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, nadat Denel se uitvoerende hoof op 9 Oktober die onderneming se jaarverslag vir 2025/26 aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Verdediging en Militêre Veterane voorgelê het.

Volgens Cronjé staan die optimistiese taalgebruik in die parlementêre voorlegging in skerp kontras met Denel se werklike finansiële en operasionele prestasie.

“Die voorlegging praat groot oor Denel se strategiese rol, die beskerming van Suid-Afrika se soewereiniteit, ʼn veranderende werknemerskultuur en die herstel van die onderneming. Wanneer ʼn mens egter verby die politieke taal kyk en die syfers ontleed, sien jy ʼn onderneming wat steeds sukkel om sy kernbedrywighede volhoubaar te maak,” sê Cronjé.

Denel het in die boekjaar wat in Maart 2026 geëindig het, inkomste van R1,473 miljard gegenereer. Hoewel dit ʼn verbetering teenoor die vorige jaar verteenwoordig, was die inkomste steeds R483 miljoen laer as die teiken in die korporatiewe plan.

Die staatsonderneming het boonop ʼn bedryfsverlies van R364 miljoen aangeteken. Die netto wins van R156 miljoen was grootliks te danke aan Denel se aandeel in die wins van Rheinmetall Denel Munition (RDM). Sonder dié bydrae sou die finansiële prentjie aansienlik swakker vertoon het.

Die jongste beskikbare syfers toon ook geen betekenisvolle ommekeer in die nuwe boekjaar nie, waarsku Cronjé.

ʼn Maandelikse prestasieverslag vir Augustus 2026, wat op 2 Oktober tydens Denel se Restructuring and Transformation Central Committee (RTCC)-vergadering aan vakbonde voorgelê is, toon dat die inkomste teen einde Augustus slegs R453 miljoen beloop het. Dit was 36% laer as die begrote R712 miljoen en 14% laer as die inkomste vir dieselfde tydperk die vorige jaar.

Denel se bedryfsverlies het in dié tydperk tot R173 miljoen verdiep – meer as dubbel die verlies vir dieselfde tydperk ʼn jaar tevore. Die netto verlies het R189 miljoen beloop, teenoor ʼn begrote wins van R180 miljoen.

“Hierdie syfers behoort die werklike vertrekpunt vir enige gesprek oor Denel se herstel te wees. Ambisieuse doelwitte beteken min wanneer inkomste agteruitgaan, bedryfsverliese verdiep en die onderneming steeds sukkel om genoeg kontant uit sy kernbedrywighede te genereer,” sê Cronjé.

Landwards en veral Dynamics het swak presteer, terwyl RDM se bydrae ver onder verwagting was. Denel kon koste onder begroting hou, maar volgens Cronje is kostebesparing alleen nie genoeg om die omvang van die inkomstetekort te neutraliseer nie.

Die onderneming het boonop slegs 41% van sy prestasie-ooreenkoms met die aandeelhouer bereik.

Verskeie tasbare elemente van die aanvanklike omkeerplan het intussen op die agtergrond verdwyn, sê Cronjé. Beskikbare fondse is hoofsaaklik gebruik om historiese verpligtinge na te kom, eerder as om nuwe groei te finansier.

Een afdeling waar tekens van vordering wel sigbaar is, is Denel Aeronautics. Teen Augustus het dié afdeling inkomste van R261 miljoen teenoor ʼn begroting van R284 miljoen aangeteken. Dit het Aeronautics die naaste aan sy teiken van al Denel se bedryfsafdelings gebring.

“Dit wys daar is steeds kundigheid en uitvoeringsvermoë binne dele van Denel. Aeronautics se vordering bly broos, maar dit bewys herstel is moontlik wanneer daar gefokus word op uitvoering en die voltooiing van werk. Dieselfde ingesteldheid moet nou deur die res van Denel sigbaar word,” sê Cronjé.

Een van Denel se grootste probleme lê by sogenaamde “legacy”-projekte. Geld vir talle van dié kontrakte is reeds ontvang en bestee. Die onderneming moet dus steeds die werk voltooi en produkte aflewer sonder ʼn ooreenstemmende nuwe kontantinvloei.

“Denel se uitdaging is eintlik eenvoudig: Die onderneming moet weer produkte en projekte betyds voltooi, dit by die deur uitkry en nuwe inkomste genereer. Jy kan nie ʼn verdedigingsmaatskappy met politieke retoriek omkeer nie. Produkte moet gelewer word en geld moet in die bank inkom,” sê Cronjé.

Die internasionale omgewing behoort juis geleenthede vir ʼn onderneming soos Denel te skep, meen Cronjé. Voortgesette internasionale konflik en die wêreldwye vraag na wapens en ammunisie behoort ʼn vervaardiger met Denel se vermoëns in ʼn gunstige posisie te plaas.

Daar bestaan egter vrae oor die invloed van die Suid-Afrikaanse regering se geopolitieke posisionering op Denel se vermoë om nuwe, volhoubare internasionale bestellings te bekom. Die onderneming se vooruitsigte steun steeds sterk op historiese verhoudings met lande in onder meer die Midde-Ooste, asook op Suid-Afrika se verklaarde beleid van nie-belyning.

“Die wêreldpolitieke landskap verander vinnig. Denel kan nie sy herstelstrategie bou op aannames oor toekomstige bestellings nie. Daar moet geloofwaardige kontrakte, uitvoerbare projekte en werklike inkomste wees,” sê Cronjé.

Die Ouditeur-generaal het intussen vir die negende agtereenvolgende jaar ʼn vrywaring van mening oor Denel se finansiële state uitgereik. Dit wek verdere kommer oor finansiële beheer en die betroubaarheid van die onderneming se finansiële verslagdoening.

“Die parlementêre voorlegging skep die indruk van ʼn onderneming wat sy strategiese rol herwin. Die syfers wys egter voortdurende bedryfsverliese, swak inkomste, afhanklikheid van RDM en onvoldoende vordering met die omkeerplan.

“Denel het nie nóg groot beloftes nodig nie. Hy het ʼn praktiese plan nodig: voltooi die werk, lewer die produkte, wen volhoubare nuwe kontrakte en kry die geld weer in die bank. Sonder dit bly die mooi woorde bloot retoriek,” sluit Cronjé af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel