
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Derde begroting stel weer teleur – en brandstofverhoging tref burgers eerste
Solidariteit sê dat die derde weergawe van die nasionale begroting niks is om op trots te wees nie – inteendeel, dit is nóg ʼn geleentheid wat verlore gegaan het in ʼn tyd van ekonomiese benoudheid. Lees meer hier.
Deur Heléne Mocke
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), bevestig hierdie begroting die regering se onwilligheid om werklik hervormings te implementeer en verantwoordelike fiskale besluite te neem.
Die begroting, soos deur minister Enoch Godongwana voorgelê, bou voort op dieselfde mislukkings van die verlede: herverdeling, regstelling en sogenaamde strukturele transformasie bly die kernfokus – terwyl werklike ekonomiese groei en volhoubaarheid agterweë gelaat word.
Een van die mees tasbare gevolge van hierdie swak beleidsrigtings is die verhoging van brandstofheffings – vir die eerste keer in drie jaar. Dié heffing raak elke Suid-Afrikaner direk deur vervoerkoste, voedselpryse en produksiekoste landwyd op te jaag.
Solidariteit wys daarop dat die staat ʼn wesenlike alternatief gehad het om die groeiende gat in die begroting te befonds – sonder om verdere druk op belastingbetalers en verbruikers te plaas:
1. Beperk uitspattige staatsuitgawes
Die regering se huidige bestedingspatrone sluit dikwels luukse motorvlootvervangings, buitensporige oorsese reise en geldverspillende konsultasiekontrakte in. Hierdie uitgawes lewer in baie gevalle geen tasbare opbrengs vir belastingbetalers nie. Deur sulke besteding te besnoei en die begroting te herprioritiseer ten gunste van infrastruktuurontwikkeling, onderwys en veiligheid, kan staatsfinansies gestabiliseer word en beleggersvertroue herstel word. Dié herleiding van fondse sal ʼn direkte hupstoot aan werkverskaffing en ekonomiese aktiwiteit gee.
2. Skaf onnodige poste af
Suid-Afrika het een van die grootste en duurste kabinette in die wêreld, wat gekenmerk word deur duplisering van portefeuljes en oortollige senior bestuursposisies in die staatsdiens. Die afskaffing van topvlakposte wat geen noemenswaardige bydraes lewer nie of die aanmoediging van vroeë aftrede, kan die salarisrekening drasties verminder. Dit sal ruimte skep vir die aanstelling van kundige, prestasiegedrewe personeel wat dienslewering daadwerklik kan verbeter. ʼn Meer doeltreffende staatsdiens skep op sy beurt ʼn gunstiger omgewing vir privaatsektorontwikkeling en verhoog ekonomiese doeltreffendheid.
3. Skrap rasgebaseerde wetgewing
Rassewetgewing, soos die Wet op Gelyke Indiensneming en verpligte swart ekonomiese bemagtiging (SEB), skep onnodige burokratiese hindernisse vir ondernemings en ontmoedig beleggings. Hierdie beleide moet met merietegebaseerde en behoeftegedrewe benaderings tot bemagtiging vervang word wat werklik inklusief is. As die arbeidsmark vir alle Suid-Afrikaners op grond van vaardigheid en prestasie oopgestel word, sal produktiwiteit en werkskepping toeneem, terwyl ondernemings ʼn regverdige geleentheid sal kry om te groei en mee te ding.
4. Vereenvoudig lisensie- en permitvereistes
Suid-Afrika is berug vir sy ingewikkelde en tydrowende administratiewe prosesse. Entrepreneurs, veral in die kleinsakesektor, moet dikwels ʼn magdom lisensies, permitte en goedkeurings bekom voordat hulle met bedrywighede kan begin. Die vermindering of digitalisering van hierdie vereistes sal toetrede tot die mark vergemaklik, klein en mediumondernemings (KMO’s) versterk, werksgeleenthede skep en belastinginkomste genereer.
5. Verwyder onnodige beperkings op ekonomiese aktiwiteit
Regulasies wat ekonomiese deelname beperk – van streng arbeidswette tot sektorale monopolieë – moet hersien en aangepas word om mededinging te bevorder. Minder hindernisse vir vryemarkaktiwiteite maak dit vir ondernemings makliker om te innoveer, uit te brei en nuwe markte te betree. Dit sal ook help om direkte buitelandse beleggings te lok.
6. Verseker eiendomsreg
Beleggers, beide plaaslik en internasionaal, benodig die versekering van eiendomsreg voordat hulle kapitaal allokeer. Die voortdurende onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding ondermyn beleggersvertroue en werk investering teen. ʼn Uitdruklike waarborg van eiendomsreg – vir individue, boere en ondernemings – is ʼn hoeksteen van ʼn gesonde ekonomie. Duidelike wetgewing en respek vir die regstelsel in dié opsig is noodsaaklik om lewensbelangrike beleggings te ontsluit en groei te bevorder.
Du Buisson sê dat hoewel die minister die stadige ekonomiese groei betreur, hy self daartoe bydra deur belastingdruk op middelklaswerkers te verhoog. Mense wat meer as R7 979 per maand verdien, word reeds as “ryk” geklassifiseer en dra die grootste las. Intussen bly die belastingkerwe onveranderd – wat beteken dat inflasie nie in ag geneem word nie en dat belastingbetalers se koopkrag daal.
Hoewel die begroting ʼn paar positiewe elemente bevat – soos groter ruimte vir privaatsektorbetrokkenheid by infrastruktuurontwikkeling – is Solidariteit bekommerd dat selfs hierdie voorneme by onvervulde beloftes gaan bly.
“Wat ons nodig het, is eerlike bestuur, nie hoër pryse en groter staatsinmenging nie. Hierdie begroting is nie net ʼn verspeelde geleentheid nie – dit is ʼn verdere stap agteruit,” sê Du Buisson.