
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit vra hof om minister skuldig te bevind aan minagting
Solidariteit het hofstukke op die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth, beteken waarin daar gevra word dat sy skuldig bevind word aan minagting. Lees meer hier oor Solidariteit se saak.
Hierdie hofaksie is deel van Solidariteit se stryd teen raswette, en volg op Solidariteit se aankondiging dat ’n spesiale regsfonds van R7 miljoen opsy gesit word om die geveg plaaslik en internasionaal na ’n volgende vlak te neem.
Die hofsaak hou verband met die regering se verontagsaming van die skikking oor rasbeleide in die werkplek wat tussen die regering en Solidariteit bereik is en wat ingevolge ’n hofbevel in regulasies van die Wet op Billike Indiensneming vervat móés word.
Die bepalings van dié ooreenkoms, wat ’n duidelike streep deur rassekwotas trek, was egter geensins te sien in die regulasies wat die Departement van Indiensneming en Arbeid op 15 April 2025 in die Staatskoerant gepubliseer het nie.
“Die regering het doelbewus besluit om hierdie bepalings te verwyder ten spyte van ’n hofbevel daaroor. Dit is ’n growwe skending van die reg en ondermyn die alreeds uiters beperkte vertroue in die staat,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Die minagtingsaak is slegs een van Solidariteit se omvattende aksies teen rassewetgewing. Die regsfonds van R7 miljoen wat daarvoor gestig is, sal gebruik word om verskeie ander plaaslike en internasionale aksies uit te voer.
Solidariteit glo alhoewel daar beide plaaslik en internasionaal vordering gemaak word met bewustheid oor Suid-Afrika se rassebedeling, voortgesette druk nodig bly om die rasmalheid van die Suid-Afrikaanse regering te stuit.
“Onlangse internasionale gesprekke en aksies het duidelik gewys dat raswette ’n struikelblok is vir nuwe handelsooreenkomste oor die algemeen, maar spesifiek vir een met die VSA.
“Tog volhard die regering daarmee om plaaslike werkgewers en gemeenskappe aan ’n radikale en verouderde rassebedeling te onderwerp, en ook dit moet ten aanskoue van die internasionale gemeenskap ontbloot word,” sê Hermann.