
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
KI, koffie en klets: ʼn Suksesvolle Werkgewersnetwerksessie
29 Mei was ʼn baie opwindende dag vir almal betrokke by Solidariteit se Werk-afdeling. Die Werkgewersnetwerksessie het vir talle bywonende werkgewers nuwe insigte en nuwe netwerkgeleenthede ingehou. Lees hier meer oor die verloop van die dag en die interessante onderwerpe wat bespreek is.
Deur Leré Nel
Solidariteit se Werk-afdeling het op 29 Mei 2025 ʼn dinamiese en praktiese netwerksessie vir werkgewers aangebied. Die byeenkoms, wat by Sowel As-koffiehuis op die Akademia-kampus in Centurion plaasgevind het, het werkgewers en entrepreneurs bymekaar gebring vir ʼn middag van inspirasie, vaardigheidsontwikkeling en waardevolle netwerkgeleenthede.
Volgens Mandy-Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit Werk, was die fokus van die dag daarop om omvattende sessies aan te bied met kundige sprekers en sake-eienaars om bywoners te verryk met kennis oor die gebruik van ChatGPT en ander KI-hulpmiddels vir bemarking.
“Die doel van die netwerksessie is vir besigheidseienaars om bymekaar te kan kom en lekker met mekaar te netwerk. Ons hoop dat elkeen vandag hier sal wegstap met ʼn bietjie pitkos – iets wat hulle kan terugneem na hulle onderneming en wat hulle prakties kan implementeer,” vertel Mandy-Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit Werk.
Die afskop van die dag
Gaste is met warm koppie tee of koffie ontvang, waarna ʼn vinnige ysbreker en kompetisie mense aan die gesels gekry het.
Die sprekers
Irma Karsten was die eerste spreker van die dag en is ʼn ervare digitalebemarkingstrateeg en -afrigter met meer as 25 jaar werkservaring. Sy spesialiseer in digitale bemarking, CRM- en KI-opleiding, en kursusontwikkeling. Irma bied opleiding en konsultasiedienste aan, met ʼn fokus op volwasse leerbeginsels. Sy het praktiese en insiggewende wenke gedeel oor hoe om Linkedin tot jou voordeel in jou besigheid te gebruik.
Die tweede spreker aan die woord, Marnus de Klerk, is ʼn toegewyde afrigter met ʼn diepliggende passie daarvoor om mense deur opleiding te bemagtig. Met meer as tien jaar se ervaring in gesondheid en veiligheid, het hy sy kundigheid verfyn in die aanbied van interne opleiding. Sy benadering verseker dat werknemers nie net die inhoud verstaan nie, maar dit ook met selfvertroue en doeltreffendheid kan toepas. Marnus het deelnemers aan die sessie toegerus met kennis oor ChatGPT en nuttige wenke om hierdie hulpmiddel te gebruik in jou besigheid.
Irma glo dat jy jou besigheid vandag al kan begin groei deur Linkedin en ChatGPT reg te gebruik. “Jy as werkgewer het gratis geheime wapens in jou sak wat jy net nog nie gebruik nie.” Sy hoop dat hierdie sessie deelnemers aanmoedig het om te begin ontdek wat KI alles vir hulle kan bied. “Ons wil hulle inspireer om die wapens te gebruik wat reeds in hul arsenaal is!”
Marnus se boodskap aan werkgewers was dat hulle minder bang moet wees vir KI! “KI kan nie jou werk wegneem nie – dit kan jou net help!”
Een van die bywonende werkgewers was Lourens Nortje, besturende direkteur van Starbrite. Hy deel graag sy gunsteling-deel van die netwerksessie: “Ek het baie geleer oor die werking van KI. Werkgewers soos ek móét in daardie rigting beweeg en begin om dit te verstaan. As jy iets verstaan, sal jy outomaties minder ‘bang’ wees daarvoor – en dit regtig tot jou voordeel kan begin gebruik!”
Met die hulp van ʼn toegewyde span organiseerders, ʼn gesellige lokaal en ywerige deelnemers het Solidariteit se Werk-afdeling weereens gewys waarom netwerkgeleenthede só belangrik is vir besigheidsgroei en gemeenskapsbou. Solidariteit se Werk-afdeling is baie dankbaar vir die suksesvolle manier waarop die sessie verloop het, en is opgewonde om te sien hoe die wenke en tegnieke wat gedeel is sake-eienaars se ondernemings na die volgende vlak sal neem. Die toekoms van besigheid lyk beslis belowend met ʼn goeie netwerk en innovasie!
Moenie die volgende sessie misloop nie
As jy nog nie jou gratis profiel op Solidariteit geregistreer het nie, doen dit nou! Solidariteit is ʼn eenstoptuiste vir werkgewers én werksoekers. Hou dus Solidariteit se platform dop vir meer geleenthede soos hierdie.
Bemarkingstrategieë verander, tegnologie ontwikkel, maar gemeenskappe bly die sleutel tot sukses.