
Foto Krediet: Unsplash
Gekopieër
Starlink: Die krake wys en nóú moet SEB-kantel
Die moontlike toegewing aan swart ekonomiese bemagtiging wys die eerste krake in rasbeleid waarmee die ANC Suid-Afrika vir só lank reeds aan die keel beet het. Lees meer hieronder.
Pieter Jordaan
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), sê hy twyfel nie dat hierdie toegewing aan Starlink die gevolg van groot internasionale én plaaslike druk is nie.
“Daarom”, sê Theuns du Buisson, “moet die druk juis nou verskerp.”
“Ek dink ontevredenheid het van alle kante af begin oplaai,” het Du Buisson in ʼn onderhoud met Pretoria FM gesê.
“Dit was toe ʼn bykans simboliese gebaar van die SA regering om te sê ons sal Starlink toelaat, en in ruil daarvoor beter handelsooreenkomste en tariewe ook onderhandel. Dit wys hierdie SEB-toegewing is oor die afgelope week of drie op ons regering afgedwing. Dit is eintlik die eerste stap om van al die belaglike rassewette van ontslae te raak,” sê hy.
Terwyl Starlink dus heel moontlik vrygespreek kan word van die verpligte plaaslike vennootskap met 30% voorheen benadeelde-eienaarskap, is die ooglopende vraag wat dit vir ander maatskappye beteken – binne én buite die telekommunikasie bedryf en ook binne én buite Suid-Afrika se landsgrense.
Du Buisson voorspel dat daar sommer gou plaaslike oproer gaan wees onder diensverskaffers wat gaan vra waarom húlle aan SEB-vereistes moet voldoen as buitelandse firmas daarvan vrygestel word.
“Dit plaas die regering in ʼn slegte posisie. Natuurlik moet hulle net die regte ding doen, en dit is om dit alles vir almal te skrap. Hierdie rassewette hou almal arm en net ʼn klein groepie mense word mateloos bevoordeel.
“In die kommunikasiebedryf word ʼn klein groepie mense bevoordeel ten koste van 70% van die land se bevolking wat nie toegang tot hoëspoed internet of enige internet het nie. Dit moet verander en die SEB-kwytskelding moet na ander sektore toe uitgebrei word al gaan dit dalk óók internasionale druk verg,” sê Du Buisson.
Starlink se koms sal volgens hom groot geleenthede bied vir aanlyn sake bied in gemeenskappe in afgeleë gebiede wat nog nooit voordeel daaruit kon trek nie. Dit kan ook rolspelers in die landbou se lewens vergemaklik.
Solidariteit het intussen sy eie veldtog opgeskerp om ʼn einde aan rassewette in Suid-Afrika te maak en gaan ʼn Regsfonds van R7 miljoen opsy sit om dit in die howe asook plaaslik en internasionaal te beveg.