loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
suid-afrikaners-eerder-as-minister-gaan-met-lewens-vir-ngv-betaal

Foto Krediet: Verskaf

Suid-Afrikaners, eerder as minister, gaan met lewens vir NGV betaal

Lewens gaan wél vir die Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NGV) opgeoffer word, maar dit gaan nie die lewens van kader-ministers en die ANC-elite wees nie. Lees meer hier.


So het Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gereageer op dramatiese uitlatings van minister Aaron Motsoaledi in die Nasionale Vergadering (NV) dat hy bereid sal wees om die NGV-planne “met sy lewe te verdedig.”
Motsoaledi het vrae oor die NGV in die NV beantwoord en gebieg dat nagenoeg R10 miljoen van die belastingbetaler se geld reeds in hierdie vroeë fase van die regstryd aan regskoste uitgegee is om ʼn onwerkbare NGV te verdedig.
Du Buisson sê Motsoaledi is duidelik uit voeling met die werklikheid.
“R10 miljoen is reeds uitgegee deur ʼn Departement van Gesondheid wat veel eerder advokate as dokters betaal. Dit is nie waarvoor hulle daar is nie. R10 miljoen, wat nog net in die vroeë fases van die regstryd aangegaan is, kon baie doen om die openbare gesondheidsorgstelsel te verbeter.
“Om te sê hy sal die NGV kwansuis met sy lewe verdedig is geen heldedaad nie. Trouens, as die NGV intree gaan dit faal en kan miljoene gewone Suid-Afrikaners waarskynlik op die langer duur met húlle lewens betaal,” sê Du Buisson.
Motsoaledi se bewering dat gesondheid die enigste sektor is waar die staat “rykes” deur mediesefondssubsidies onderhou terwyl die armes self moet klaarkom word ook as vals verwerp.
“Dit is ʼn oneerlike stelling van Motsoaledi,” sê Du Buisson. “Die staatskas se grootste bron van inkomste is persoonlike inkomstebelasting. Hulle vat dus geld by belastingbetalers om die openbare sektor te befonds en gebruik dan ʼn klein gedeelte daarvan om iets vir mense met mediese fondse terug te gee omdat hulle nie die openbare stelsel gebruik nie.
“Dis nie ʼn subsidie nie. Dis geld wat die staat in die eerste plek nie moes vat nie,” sê hy.
Solidariteit voer aan dat die implementering van die NGV onuitvoerbaar asook onbekostigbaar is. Volgens berekeninge van die SNI kan die implementering van die NGV minstens R660 miljard per jaar beloop. Solidariteit vat dus die NGV in die hof aan waar die implementering, uitvoerbaarheid en kostes bevraagteken word.
Die minister se buitengewone groot regspan is nóg ʼn teer punt wat reeds in die hofsake van die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) en die Suid-Afrikaanse Forum vir Private Praktisyns (SAPPF) se saak aandag getrek het.
Volgens Du Buisson is dit verkeerd om van die belastingbetaler te verwag om hiervoor op te dok en kom dit neer op blatante vermorsing.
“Daar is wél baie sake teen die NGV, maar daar is baie oorvleueling in hierdie sake, terwyl die regering se argument ten gunste daarvan tog maar altyd dieselfde bly. Die minister het beslis nie ‘n regspan so groot soos ‘n krieketspan nodig nie,” sê hy.
 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel